Hoe verklaar jy hierdie blatante vooroordeel?

Kyk ook:

Hierdie brief aan RSG het oorspronklik op apk.co.za/hoe-verklaar-jy-hierdie-blatante-vooroordeel verskyn.

*************

Beste Chris [Swanepoel]

Ek beskou die inhoud van Jurie van den Heever se antwoord op Sondag 28 Oktober 2018 se uitsending van Hoe verklaar jy dit? oor die korrektheid en geloofwaardigheid van die Bybel, as haatspraak teen die Bybel en die Christelike geloof. Hy verwys neerhalend na die Bybel en tas my geloofswaarhede en beskouings aan. Hy kruip weg agter teoloë wat hy “ware teoloë” noem asof dit hulle standpunte is wat hy aanhaal. Dit was egter nie hulle wat die standpunt op die lug gestel het nie, maar Jurie. Ek kla dan ook vir jou aan Chris, wat telkens hierdie vrae en sake na Jurie verwys, selfs nadat menige luisteraars hulle ontevredenheid uitgespreek het.

Ek het deur die verloop van etlike jare al by twee vorige geleenthede aan jou geskryf, sonder sukses en sonder reaksie. Ek voel egter genoodsaak om maar weer te skryf, al is ek seker dat daar weereens geen reaksie gaan wees nie. Soos jy sekerlik vermoed, gaan dit weereens oor die uitlatings van Jurie van den Heever oor die Bybel en die Christelike geloof.

Ek sal sekerlik ook gekategoriseer word as een van die “verkramptes”, “konserwatiewes”, “oningeligtes” en volgens Jurie, beslis nie een van die “ware teoloë” nie. Hier is my kommentaar:

  1. Dit is ondenkbaar dat iemand wat nie in die Bybel glo nie, gevra word om kommentaar op die Bybel te lewer.
  2. As julle die kwessie van godsdiens wil vermy, sê dan net so en dat kommentaar op die Bybel, Bybelvrae en Bybelse kwessies nie meer bespreek gaan word nie.
  3. Dit is maklik vir Jurie om na sekere hofuitsprake en ander gebeure te verwys, waar Kreasioniste as onnosel en oningelig uitgewys word en die ander party nie die geleentheid het om die ander kant van die saak toe te lig nie.
  4. Dit is baie maklik om die argument te wen wanneer jy alleen die spreekbuis gebruik en niemand geleentheid het om jou argument te kritiseer nie.
  5. Ek het al ’n vorige keer gevra en ek vra weer: Wat is Jurie se siening van die Koran? Ek stel dit dus as ’n vraag deur jou aan Jurie! Hy is altyd baie geneë om sy standpunt oor die Bybel en Christene hard en duidelik te stel. Volgens hom is die Bybel mos ’n literêre werk, waaraan die waarheid nie getoets kan word nie. Ek wil graag weet wat sy standpunt oor die Koran en die Moslemgeloof is!
  6. Ek gun vir Jurie vryheid van geloof of dan seker ongeloof, ek gun hom vryheid van keuse oor wat hy as waarheid beskou en ek gun hom vryheid van spraak oor sy eie standpunte, maar ek gun hom nie vryheid van spraak of oordeel oor die Bybel of my geloof nie. Hy kon die vraag bloot antwoord deur te sê dat hy nie in die Bybel glo nie en dan sy standpunt stel en verduidelik hoe hy by die ouderdom van die aarde uitkom. Ek het dan die keuse of ek met hom saamstem en of ek na hom wil luister of nie.

Ek het al vroeër aan jou geskryf dat ek al vir die afgelope vier en twintig jaar getrou elke Sondag na die program luister. Voor jou was daar ander aanbieders. Ek gaan nou die vryheid van my mening gebruik en vir jou sê dat hulle beter sprekers en kenners op die program gehad het. Hulle het kenners van verskillende gebiede gehad om vrae op hul eie gebied te antwoord. Hulle het nie nodig gehad om iemand anders te gaan vra en dan hulle interpretasie van die persoon se antwoord, op die program kom gee nie. Elke keer wanneer daar in die klompie jare ’n nuwe programleier gekom het, het ek met hartseer “afskeid” van die aanbieder geneem. Ek sien egter met opgewondenheid uit dat iemand jou moet opvolg, met die hoop dat sy of hy weer kenners van verskillende vakgebiede na die program sal nooi, en dat ons nie amper elke Sondag deur Jurie verveel hoef te word nie.”

Danilo Stoltz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui