Het NG Kerk dan nou ’n geheime agenda?

Het NG Kerk dan nou ’n geheime agenda? | Beeld

Schalk Lourens van Pretoria skryf

16 Junie 2011

Wat op dees aarde gaan hier aan? Dít is wat ’n mens jouself afvra wanneer jy besef dat Jean Oosthuizen, nuusredakteur van die Kerkbode, ook die “aanlynredakteur” van die Pomp-tydskrif is.

My verstaan is dan juis dat Pomp en sy lesers hulle ten doel stel om van die voetboeie van godsdiens ontslae te raak. Het die NG Kerk dan die tydskrif gepenetreer met ’n geheime agenda? Of is dit die uitbouing van hul soeke na diversiteit dat hulle Griffel Media, die uitgewer van die tydskrif, op die aanlyn-Kerkbode adverteer?

Lidmate hoef seker nie ontsteld te wees nie, want die kerk se personeel tree tog seker in ’n sekere etos op wat deur al die ampsdraers en bestuurslede onderskryf word en as die Skrifgeleerdes dit in orde vind, wie sou die gewone lidmate dan wees om daarteen kapsie te maak?

Die samestellers van “Kerk en samelewing ” sou destyds seker nooit kon droom dat die titel van hul skrywe so verwerklik sou word nie, maar nou ja, soos dit iewers staan, “ons is van en in die wêreld” – daarom moet die NGK seker sy invloed op so ’n manier ook laat geld.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui