Getuienisse van gebedsgenesing

 

GETUIENISSE VAN GEBEDSGENESING DEUR JESUS CHRISTUS #1

 

Maar Hy (Jesus) is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; …., en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jesaja 53:5)

En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. (Mat 10:1)

Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee. (Mat 10:8)

———————————————————–

Jesus genees nekpyne van vriend

’n Paar weke gelede noem ’n vriend Piet dat hy sy nek beseer het, nadat ’n TV van ’n kas in die kombuis, teen sy kop geval het. Ons bid verskeie Saterdae vir hom by die biduur. Op Saterdag 4 Des 2010 bid ons weer saam. Ek lê vir Piet die hande op en bring hom in die gees tot by Jesus se voete en vra vir genesing van die erge nekpyne. ’n Week later getuig Piet dat die nekpyne in die middag van 4 Des verdwyn het !  Alle eer aan Jesus !! Roelof

———————————————————–

Jesus Christus genees vroue-probleme

Vroeg in Okt 2009 noem ’n goeie vriend vir my dat sy eggenote vroue-probleme ondervind en ’n histerektomie sal moet ondergaan. Vanaf 4 Okt bid ek gereeld vir haar (en die vriend bid natuurlik ook)

Op 10 Nov 2009 wys die Here my ’n positiewe teken oor die vrou, ek laat weet haar man en ontvang later die dag die volgende boodskap van die vrou:

Dit gaan fisies met my baie goed!! Ek het nog geen tekens weer van ongesteldheid gehad nie.

Ja, ons kan regtig die Here loof vir sy wondergenade

Ek loof Jesus vir Sy liefde en genesende krag vir ons!!!  Roelof

———————————————————–

Man se rugpyne direk na gebed genees

Vandat ek gebedsgenesing as gawe van die Heilige Gees beoefen, het ek die begeerte gehad, om soos met Jesus se dissipels, te ervaar hoe Jesus mense direk na gebed genees.

Vroeg in Jan 2011 noem ’n vriend DP dat hy erge rugpyne ervaar nadat hy sy vyfjarige dogtertjie op sy rug gelaai het. Op 6 Jan besoek ek hom, lȇ hom die hande op en bid vir genesing van die rugpyne. Nadat ek by die huis gekom het, ontvang ek die volgende e-pos van DP:

Hi Roelof,

Ek wou net getuig, nadat jy gery het, was my pyn weg ! Prys die Here !

Groete in Christus

DP

 

Ek loof Jesus vir die vinnige genesing van DP !!  Roelof

———————————————————–

 

GETUIENISSE VAN GEBEDSGENESING DEUR JESUS CHRISTUS # 2

 

En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. (Mat 10:1)

———————————————————–

Jesus genees kind van asma

Roelof, jammer ek was bietjie lanklaas hier (op die Christen forum). Dit het dol gegaan by die werk en ek was ook op ’n kursus.

My seun se asma is baie beter. Van die dag dat jy vir hom gebid het, het hy nog nie weer ’n asma pompie gebruik nie. Ek het wel vandag weer vir hom een gekry, maar dis net omdat ek bang is hy gaan dit dalk nodig kry, hy gaan op ’n avontuur kamp oor twee weke en ek is bang hy gaan verkeerd eet. Hy is nie gesond nie en sy borsie is bietjie toe. Maar dit was in die afgelope maand nog nie nodig vir stoom of pompie nie. Ek het wel sy borsie so nou en dan met vicks gesmeer en hy het 4 kortisoon pilletjies gedrink. (In die verlede het hy elke dag 4 gedrink)

Bid egter vir my sodat ek sal aanhou glo.

———————————————————–

Twee onverklaarbare siektes van predikant deur Jesus genees

E-posaf van dominee:

Hi Roelof, ek sal dit baie waardeer as jy vir my kan kom bid. Ek sukkel die laaste tyd baie met ’n lewendige senuwee in my rug en die dokters wil opereer en ek wil niks weet nie.

Enkele dae nadat ek vir die predikant gebid het:

E-pos vanaf dominee:

Volkome herstel ! ek het geen pyn meer nie ! Die duiwel val my egter aan met skielike migraines wat ek nog nooit in my lewe gehad het nie.

Op Woensdag 26 Aug 2009 besoek ek die predikant, lê hom die hande op, bestraf die bose en bid vir die genesing van die predikant.  Roelof

Drie dae later:

E-pos vanaf dominee:

HI Roelof,

ek wil jou hartlik bedank vir die gebedsondersteuning. My hoofpyne is weg ! Die Here was vir my baie goed.

———————————————————–

 

GETUIENISSE VAN GEBEDSGENESING DEUR JESUS CHRISTUS # 3

 

En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. (Mat 10:1)

———————————————————–

Die krag van Jesus se Naam verwyder drogbeelde

In Junie 2009 noem ’n vriend vir my dat sy 86-jarige moeder dag-en-nag drogbeelde ervaar. Op Jeugdag 16 Junie besoek ek hulle, ons lê haar die hande op en bid vir haar. Die Here wys vir my dat die bose wat haar aanval, die probleem is. Ek bestraf die bose en kort daarna verdwyn die drogbeelde. Dit het sedertdien nog nooit weer voorgekom nie. Ek loof die Here vir die krag van Sy Naam.!!. Roelof

———————————————————–

Jesus genees 8 maande oue baba

Vanaf Sondag 17 Jan. 2010 lewer ek tydens ’n gebedsweek by NG Suid elke aand getuienis van genesing deur die liefde en krag van Jesus. Maandagaand na die boodskap kom Stephan en Lynette na my toe. Hulle kleinseun van 8 maande is onverklaarbaar siek en bly pap, dokters kan geen fout vind nie. Ek bid vir hulle kleinkind en die Here wys vir my dat dit ’n aanval van die Bose is. Ek bind die bose geeste in Jesus se Naam en bid vir die genesing van die baba. Die volgende aand getuig die grootouers dat hulle kleinkind baie beter is. Drie dae later getuig Stephan en Lynette dat die baba weer volkome gesond en sprankelend is. Loof die Here!! Die drie dae is vir my simbolies van die tyd wat Jesus in die graf was, nadat Hy vir ons sondes en genesing gesterf het (Jes. 53.5) Roelof.

———————————————————–

 

Okkultiese aanvalle deur Jesus verbreek

Vanaf Sondag 17 Jan. 2010 lewer ek tydens ’n gebedsweek by NG Suid elke aand getuienis van genesing deur die liefde en krag van Jesus. Een aand na die boodskap kom twee vroue na my toe. Hulle werk by ’n opleidings-instansie in Gauteng se eksamen-afdeling. Hulle ervaar erge demoniese aanvalle en beleef soms gelyktydig onverklaarbare siektes. Die een vrou lees uit haar Testament van die Gideons vir geestelike versterking. Ek lê hulle die hande op en bid vir hulle. Die Here wys aan my dat hulle gebuk gaan onder okkultiese praktyke en demoniese aanvalle. Ek verbreek hierdie praktyke en aanvalle in Jesus se Naam. Die volgende aand salf ds. Rudolph hulle. Donderdagaand sien ek die vroue weer en hulle lyk sprankelend en vol energie. Hulle kan nie ophou getuig van die Here se liefde en die krag van die Heilige Gees nie. Prys die Here !! Roelof.

———————————————————–

  

Meisie kry angsaanvalle nadat kerk duiwels uitdryf

 

Op Maandag 24 Okt 2011 ontvang ek die volgende e-pos van SM:

Verlede Sondag is my dogter Bia saam met haar maats na ’n “kerk” wat demone uitdryf. Sy vertel dat hulle mense vorentoe geroep het wat dan nou van demone wou ontslae raak. In die eerste plek het Bia besluit dat sy nie voerentoe wil gaan nie en was deur haar maats gekonfronteer. Sy verduidelik hoe hulle geval en geruk of geskree het. Dan was daar n tannie wat in tale gepraat het ook. Sondag middag en and was sy soos n grammafoontjie wat nie kon afskakel nie en Sondag nag tot Mannadag oggend 1 uur, het sy die een angsaanval na die ander gekry. Ek het by haar geait heel aand en saam Bybel gelees en gebid. Dis die laaste week asof al ons harde werk om haar ’n volwasse mensie te maak, alles afgekraak is. Sy gooi tantrums asof sy weer 3 is!

 

Later dieselfde oggend stuur ek die volgende e-pos aan SM:

Ek is baie jammer om van jou dogter se (onnodige) slegte ervaring te hoor

Met nederigheid is my bediening die van “gebedsgenesing van onverklaarbare siektes” Mens kan nie net links en regs demone uitdryf nie, jy moet bid en dan sal Jesus vir jou wys of die persoon deur demone beset of aangeval word (hiervoor is die gawe van onderskeiding van geeste nodig)

Wat by die kerk gebeur het kan ek glad nie goedpraat nie en beveel aan dat jou dogter Bia hulle nie weer besoek nie. Ek het nog nooit ’n ware Christen teegekom wat deur demone beset is nie, die Heilige Gees woon in ons. Baie Christene word egter deur demone geteister of aangeval en baie kere word onverklaarbare siektes so veroorsaak.

Deurdat jou dogter hierdie “verrigtinge” bygewoon het, is sy daarna deur demone (bose geeste of gevalle engele) aangeval wat die angsaanvalle veroorsaak het. Julle het reg opgetree deur uit die Bybel te lees, Satan en sy demone haat die Bybel en vlug gewoonlik. 

Ek het vir Bia gebid en die Heilige Gees het aan my genoem dat sy tans nog deur 2x demone aangeval word, die een ’n demon van rebelsheid. Ek het die demone in Jesus se Naam gebind en die engele het hulle verwyder. Ek het ook die Bloed van Jesus oor haar gebid. Die H Gees noem ook dat haar ADHD nie deur demone veroorsaak word nie en dat sy moet aanhou met medikasie. 

Bia behoort nou baie vinnig te verbeter / herstel. Hou my asb op hoogte, ander moet ek weer vir haar bid. 

 

Op Vrydag 28 Okt ontvang ek die volgende e-pos: Biai het heeltemaal gekalmeer en sy is die afgelope paar dae die liefdevolheid vanself.

Prys Jesus vir Sy kragtige Naam!! Roelof Coertze 

———————————————————–

 

Rookdemoon veroorsaak erge hoofpyn

Op 19 Okt 2011 om 5 nm ontvang ek die volgende sms van ’n predikant, ds D:

Hi daar, ek kry vir die laaste 3 dae elke dag dieselfde tyd ongelooflike hoofpyne. My bloeddruk is normal en hoofpynpille werk nie. Ek het gebid, maar dit hou aan.

 

Ek besef dat dit weer een van daardie onverklaaarbare siektes is. Ek bid vir ds D en die Heilige Gees noem vir my dat dit ’n rookdemoon is wat ds D aanval. Ds D is tans besig om sy rookgewoonte af te skud, maar die 4 sigarette wat hy per dag rook, laat nog ’n geestelike oop deur. Op 20 Okt om 10:15 vm besoek ek ds D en hy noem dat hy voel die aaklige hoofpyn begin weer. Ek bid vir hom en bind die rookdemoon in Jesus se wonderlike Naam. Ds D gee die verbintenis dat hy dadelik heeltemal sal ophou rook. Om 4nm verdwyn die hoofpyn. Daarna het ds D nog nie weer die verskriklike hoofpyne ervaar nie. Prys Jesus en die Heilige Gees. Roelof Coertze.

———————————————————–

 

Onverklaarbare duiseligheid van vrou verdwyn na gebed

Op 25 Aug. 2011 om 7h05 kry ek ’n sms vanaf ’n vriendin A waarin sy my versoek om vir ’n vriendin H te bid, wat onverklaarbare hoe bloeddruk het. Ek bid vir H en die Heilige Gees wys my dat H deur demone aangeval word. Ek bind die demone in Jesus se Naam. 

Op Vrydag 26 Aug ontvang ek die volgende e-pos vanaf H: “Hallo Roelof – A…  het my gesê, en ek wil innig dankie sé vir die belangstelling en gebede, in die bres staan teen die bose: vandag vir die eerste keer in weke het ek nie meer die suising in my ore, dowwe hoofpyn en duiseligheid nie: prys die Here! Vrede vir julle, H” Roelof Coertze

———————————————————–

 

Onverklaarbare borspyne van predikant verdwyn na gebed

Op Vrydag 19 Aug. 2011 om 20h15 kry ek ’n oproep van ds D waarin hy noem: “dat hy onverklaarbare borspyne ervaar.” Ek bid vir hom en die Heilige Gees noem vir my dat ds D deur twee demone aangeval word. Ek bind die demone in Jesus se Naam. Om 20h38 ontvang ek die volgende sms van ds D: “Pyne is weg!! Prys die Here!!”  Roelof Coertze

———————————————————–

 

Jesus genees predikant se nekprobleem

Op 25 Julie 2011 ontvang ek die volgende sms van ds. D: “My nek het opgepak, die werwels het gesak.” Op Sat. 30 Julie bid ek en ds. D saam, waartydens ek ook vir sy nekprobleem bid. Ek lê hom die hande op en bring hom in die gees tot by Jesus se voete. Ek vra dat Jesus sy nekprobleem genees. Die Heilige Gees wys my dat ds.D se probleem by die 2e en 3e nekwerwel is, wat deur hom bevestig word na aanleiding van ’n dokters-ondersoek. Op 1 Aug. ontvang ek die volgende sms van ds. D: “Nek uitstekend, nie eens stryf nie.”  Ek bel ds. D en hy noem dat hy nou ook sy kop op en af kan laat sak, wat hy nie vroeer kon doen nie. Alle eer aan Jesus!!  Roelof Coertze

 

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui