Ek dink dis wat Jesus sou doen

In die artikel hieronder wil Neels Jackson sê dat ons God deur Jesus leer ken en omdat Jesus inklusief was, is God ook inklusief en daarom moet die kerk gay mense aanvaar net soos hulle is.

Die feit is dat Jesus eksklusief was. Nie almal wat ’n “goeie” lewe hier op aarde lei gaan gered word nie, maar slegs mense wat tot bekering gekom het.

***********

Ek dink dis wat Jesus sou doen | Netwerk24

Deur Neels Jackson

27 September 2020

n Mens kan die verhale van Christen-gays ignoreer, of jy kan vra wat Jesus sou gedoen het, skryf Neels Jackson.

Die kerklike gay-debat begin die meeste van die tyd op die verkeerde plekke – by ’n handvol tekste wat oor die Bybel versprei lê: In Genesis, Levitikus, en in die briewe aan die Romeine, die Korintiërs of aan Timoteus. Of dit begin by verhale van pyn wat gay mense in die kerk beleef het.

My uitgangspunt – soos ek dit uiteensit in my boek, Jesus vir almal, is anders. Die tekste hierbo word aan die einde van die boek bespreek, maar ons begin nie daar nie. Daar word na gay mense se verhale geluister, maar ons begin nie daar nie.

Ons moet by God begin. Ons moet probeer verstaan hoe God se hart klop. En die duidelikste openbaring wat ons het oor God, is Jesus Christus. Hy het immers gesê wie Hom gesien het, het die Vader gesien.

Daarom behoort ons by Jesus te begin en oor wat ’n mens in die Bybel van Jesus leer, want die Bybel is vir my rigtinggewend in hierdie gesprek, soos in die res van my lewe.

Daar word gekyk na hoe Jesus die wet hanteer, na die evangelie van die koninkryk van God wat Jesus verkondig, na wat Jesus se genesings beteken, na hoe Hy mense insluit wat dikwels verstoot of uitgesluit is, na hoe Jesus in opstand kom teen die onreg teenoor die armes, en na hoe en op grond waarvan Jesus oordeel.

Uiteindelik loop dit uit op ’n onderskeid tussen twee soorte godsdiens, die godsdiens van die Fariseërs en die godsdiens wat Jesus vir ons kom wys.

As ’n mens in die lig hiervan na die kerklike gay-gesprek toe gaan, kom jy voor ’n keuse te staan.

Aan die een kant kan ’n mens die godsdiens van die Fariseërs beoefen. Party mense beoefen selfs die godsdiens van die Fariseërs in die naam van Jesus, maar dit bly die godsdiens van die Fariseërs wat die wet beklemtoon en nie omgee wat dit aan mense doen nie.

Met die godsdiens van die Fariseërs kan jy gay mense se verhale ignoreer en die verwerping wat hulle beleef, miskyk. Jy kan jou kop wegdraai van die selfveragting en selfhaat wat kerklike veroordeling by gay mense kweek, die depressie waartoe dit lei en jou oë sluit daarvoor dat dit vir party mense so ’n ondraaglike las word, dat hulle hul eie lewens neem.

[‘n Mens moet onthou dat Jesus se probleem met die Fariseërs hoofsaaklik was omdat hulle skynheilig was – nie noodwendig omdat hulle te wetties was nie.]

Of jy kan Jesus se benadering volg. Jy kan liefhê. Jy kan genoeg liefde vir gay mense hê dat jy hul verhale en hul pyn hoor. Jy kan fyn genoeg luister dat jy raakhoor dat aanvaarding die sleutel tot gay mense se genesing van hierdie selfverwerping en depressie is.

[Jesus het liefgehad, maar dit was nie sy enigste persoonlikheidseienskap nie. Verder het hy áltyd vir mense gesê om nie verder te sondig nie.]

En dan kan die kerk doen wat Jesus gedoen het. Hy het holisties heelgemaak. En die kerk kan gay mense help heelmaak deur hulle en hul seksualiteit en hul verhoudings volledig en onvoorwaardelik te aanvaar.

Die kerk sou gay mense kon insluit soos Jesus tollenaars en sondaars en vroue en kinders en Samaritane en ’n Romeinse offisier en ’n Kanaänitiese vrou by Sy genade ingesluit het – almal mense wat destyds sosiaal uitgeskuif is, ook deur die godsdienstiges.

[Dit is vals om te sê dat Jesus inklusief was. Ja, almal het toegang gehad tot die ewige lewe, maar slegs dié wat die wil van die Vader gedoen het. Dié wat tot bekering gekom het.]

Die kerk sou in opstand kon kom teen die onreg en pyn wat gay mense aangedoen is en op plekke steeds aangedoen word, soos Jesus in opstand gekom het teen die uitbuiting van arm weduwees – soveel so dat Hy die tafels in die tempel omgekeer het.

En die kerk sou ’n hantering van God se wet wat mense sonder hoop laat, kon veroordeel.

Die kerk sou meer kon doen as om gay mense te aanvaar. Sy sou hulle met oorgawe kon verwelkom. Sy sou hul uniekheid en hul baie gawes kon vier. Sy sou hul verhoudings kon troetel en ondersteun en hulle help om dit gesond te hou – soos die kerk met heteroseksuele mense se verhoudings probeer doen

Ek dink dit is wat Jesus sou doen. Ek dink so op grond van dit wat ek in die Bybel lees en ek neem die Bybel ernstig op.

Daarom sluit ek die boek af met die volgende woorde:

In my hele lewe het ek niks aangrypender gelees as die verhaal van Jesus van Nasaret nie. In Hom en in Sy verhaal het ek geleer dat God liefde is, dat God barmhartig is, dat God omgee vir mense.

Ek is uitverkoop aan die gedagte van die koninkryk van God, ’n bedeling waar almal omgee vir mekaar, waar ons almal mekaar help om heel te wees sodat ons die lewe in sy oorvloed kan geniet.

Daarom is die aangrypendste oproep in my lewe die woorde van Jesus wat sê: “Volg My!”

Maar ek volg Jesus nie alleen nie. Ek is deel van ’n groot geestelike familie wat onder meer neerslag vind in die georganiseerde kerk, in die kerkgenootskap waarby ek inskakel en in die gemeente waarvan ek ’n lidmaat is. Die kerk is vir my belangrik.

Daarom droom ek dat ons as kerk saam vir Jesus kan volg, dat ons saam met Hom die wêreld met al Sy mense só kan liefhê dat hulle dit konkreet sal ervaar. Ek droom van ’n kerk wat volledig verlos is van die kil godsdiens van die Fariseërs en volledig gevul word met die liefdevolle en helende godsdiens van Jesus.

Ek droom van ’n kerk waar gay mense God se verwelkomende liefde sal beleef, waar hulle volledig aanvaar en verwelkom sal word, waar hul teenwoordigheid gevier sal word.

Ek droom van ’n kerk waar gay gelowiges hul verhoudings in liefde en trou en respek vir mekaar kan uitleef. Ek droom van ’n kerk waar hierdie verhoudings geseën en getroetel word.

Ek droom uiteindelik van ’n kerk waar gay mense se seksualiteit en hul verhoudings nie meer ’n kwessie sal wees nie omdat ons só ingestel is daarop om God se liefde uit te leef waar daar nood is dat ons nie eens meer sal dink of iemand gay is of nie.

Mag die Here ons hiermee help.

* Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in kerksake. Sy boek Jesus vir almal het pas by Lux Verbi verskyn.

4 thoughts on “Ek dink dis wat Jesus sou doen”

  1. Mag die Here ons behoed van so ’n kerk. ’n Kerk gerig op mense en nie God nie. ’n Kerk wat glad nie verskil van die wêreld nie en waar mense besluit wat sonde is en wat nie.

    Jy is doodreg dat hier geen sprake is van bekering nie, ’n Kerk sonder tug en soos ons belydenis stel ’n valse kerk.

    Volgens Neels sou die tollenaar nie hoef te getuig dat hy die geld sou terug gee nie, dat hy kon aanhou om die mense te verdruk en geld af te pers. Jesus is mos gelukkig met mense soos wat hulle is.

    Ek wonder of hy dieselfde siening van verkragters en moordenaars ook het? Wat maak hulle anders as sondaars?

  2. “En die kerk sou ’n hantering van God se wet wat mense sonder hoop laat, kon veroordeel.”

    Die wet moet hoop vir mense gee? God het die wet gegee om mense hoopvol te los?

    Ek kan nie my vereenselfdig met sentiment nie. Rom. 3: 20 Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

  3. In “Ek dink dis wat Jesus sou doen” dink Jackson verkeerd met openlike verkeerde denke. Sy vertrekpunt is nie die Bybel nie maar die humanisme en menslike sieninge. Die Bybel en Bybeltekse moet ons vertrekpunt wees en glad nie menslike humanistiese sieninge nie soos wat Jackson doen nie. Bernhard Ficker

  4. Mens hoef maar net te lees wat Jesus self sê in Johannes 14. Sy liefde gaan altyd met ’n eis van gehoorsaamheid gepaard. So was Hy ook gehoorsaam aan die Vader – tot die dood toe.
    :15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.”
    :21 “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet.”
    :24 “Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.”
    :31 “…die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui