Gaywees is sonde, sê meeste lidmate

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn.

Dit is verblydend dat die meerderheid Christene nie die Bybel skeef probeer interpreteer oor homoseksualiteit nie. Die Bybel is immers baie duidelik daaroor (kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit).

***********************

Gaywees is sonde, sê dié lidmate

2013-01-30 23:39

Neels Jackson

’n Beduidende minderheid van Katolieke, Metodiste en NG lidmate meen dat die Bybel nie homoseksuele verhoudings verbied nie.

Christene uit die Baptiste-, charismatiese en Pinksterkerke meen egter byna eenparig dat die Bybel dit verbied.

Dít blyk uit ’n peiling wat die Suid-Afrikaanse Teologiese Seminarium (SATS) gedoen het onder 4 151 mense wat oorwegend meelewende lidmate van hul kerke is.

Die SATS, wat in Sandton gebaseer is, het ’n paar duisend studente uit tientalle lande wat deur afstandonderrig studeer.

Die peiling toon dat 26% Katolieke, 17% Metodiste, en 15% van die NG lidmate wat aan die peiling deelgeneem het verskil of sterk verskil van die stelling dat die Bybel homoseksuele verhoudings as sonde beskou.

Kort op dié kerke se hakke is die Presbiteriane (14%) en Anglikane (13%).

Onder respondente van die Rhema-Bybelkerk (0%), Pinksterkerke (0%), charismatiese kerke (2%) en Baptiste (2%) was daar egter byna volledige eenstemmigheid dat homoseksuele verhoudings sonde is.

Dr. Kevin Smith, adjunkhoof van die SATS, het die minderhede gister by die bekendstelling van die peiling se resultate as ’n bron van kommer bestempel.

Nog ’n bron van kommer vir hom is dat soortgelyke minderhede ook nie dink dis sonde as ongetroude paartjies saambly nie.

Volgens die peiling het 18% Katolieke, 18% NG respondente, 17% Presbiteriane en 16% Metodiste aangedui hulle verskil of verskil sterk van die stelling dat die Bybel leer dis sonde vir ongetroudes om saam te bly.

Hoewel die meeste respondente aangedui het dat hulle die Bybel daagliks lees, neem die persentasie daaglikse Bybellesers merkbaar af volgens ouderdom.

Waar 86% van repondente bo 70 die Bybel daagliks lees, is die syfer vir mense tussen 13 en 19 slegs 53%. Tussen dié twee ouderdomsgroepe is die persentasie van elke ouderdomsgroep laer as die groep net ouer as hulle.

Smith het hul peiling as ’n kleinskaalse studie bestempel en gesê ’n breër studie is nodig. Hulle sal kerke of instellings wat die studie verder wil voer, bystaan.

86%
Die persentasie lidmate bo 70 wat elke dag Bybel lees. Vir dié tussen 13 en 19 jaar is dit 53%.

23%
Die persentasie NG lidmate wat meen daar is foute in die Bybel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui