Gay predikant word bevestig by NG gemeente Stellenberg

Kyk ook:

In die artikel hieronder word berig dat NG gemeente Stellenberg, vir Philipp Dietmann op 14 Julie 2019 bevestig het as permanente predikant in die gemeente. Philipp is gay en getroud met Floris Hanekom.

Francois Swart het die geleentheid bygewoon as ringsverteenwoordiger van Durbanville. Volgens hom is dit opwindende tye in die NG Kerk.

Nie lank terug nie, op 17 Februarie 2019 is Louis van der Riet, ook ’n gay, bevestig by Parkegemeente in Kraaifontein. Hy is egter nie tans in ’n verhouding nie.

Opdatering 15 Augustus 2019: Kyk Tafelberg gemeente neem standpunt in teenoor Stellenberg.

Opdatering: Op Sondag, 13 Maart 2022 word die derde homoseksuele predikant, Stefan de Klerk, by NG gemeente Bloubergstrand bevestig.

***********

’n Tuiskoms vir ‘gemeenteseun’ en leraar kry vrede ná worsteling | Kerkbode

14 Julie 2019

Conette Le Roux

“Dit is die grootste geskenk dat ek met my héle storie welkom is. Julle is vir my ’n tuiskoms.”

Met dié woorde het Philipp Dietmann sy eerste preek as tentmakerleraar by die NG gemeente Stellenberg begin.

Ds Why Duvenhage, wat Dietmann se bevestiging tydens die gemeente se oggenddiens op 14 Julie gelei het, het uitgebrei oor Dietmann se “storie” en erken dat hy as leraar met die besluit geworstel het.

“Ons as gemeente was deurgaans daarvan bewus dat Philipp in ’n selfdegeslagverbintenis is. Hy is onlangs ook getroud,” het Duvenhage vanaf die kansel in ’n vol kerkgebou in die noordelike voorstede van Kaapstad gesê.

Nog ’n leraar by die gemeente, ds Callie Visagie, het by navraag Dietmann as “gemeenteseun” se diep betrokkenheid die afgelope 13 jaar by die gemeente beklemtoon. “Philipp is tans ’n finansiële raadgewer en is as tentmaker na die gemeente beroep met spesifieke opdrag die meditatiewe dienste,” het Visagie verduidelik.

Duvenhage het met omsig oor dié nuutjie vir die gemeente gepraat. “Vriende, ons koop in op Philipp Dietmann as geïntegreerde, totale mens. Ek wil dit definieer. Mens van God. Verloste mens van God. Geroepe dienaar van Jesus Christus. Dit is wat hom definieer. En ons wil nie toelaat dat een aspek van sy menswees eensydig (beklemtoon) moet word nie.”

Philipp kry vandag ’n “upgrade” vanaf proponent na dominee,” het ds Why tydens ’n ligte oomblik gesê. Foto: Le Roux Schoeman / Kerkbode

Duvenhage het ook oor sy eie pad met die besluit gepraat: “Vriende, ons is bewus daarvan dat dit vreemd is. Dit is nie maklike goed waarmee die groter kerk op hierdie stadium worstel nie. En dat baie ook hier by ons groot spronge moet maak om dit te kan verstaan en dit op ’n manier ook te kan aanvaar. Ek self, as ’n meer behoudende persoon, moes ook groot spronge in dié verband maak,” het Duvenhage gesê. “Ek het met Philipp en my kollegas gedeel dat ek met tye geworstel het hieroor … spesifiek hieroor. En hoe die Here, op ’n wonderlike manier, dan ook vir my vrede gegee het en leiding gegee het dat ek dit op hierdie dag met my hele hart kan ondersteun,” aldus Duvenhage. (Luister na ’n uittreksel uit Duvenhage se boodskap by die YouTube-skakel hieronder.)

Meer as 20 dominees het daarna op uitnodiging na vore gekom en Dietmann die hande opgelê. “Waar daar liefde en deernis is vir mense, daar is God,” het Dietmann twee keer van die kansel af gesê tydens sy preek uit Lukas 13.

Van die sowat 700 afgevaardigdes by die Wes-Kaaplandse sinode, wat in Mei vanjaar plaasgevind het, sou Dietmann herken het uit sy deelname by daardie geleentheid tydens ’n sessie oor die wyse van gesprekvoering oor homoseksualiteit in die kerk.

Op ringsvlak is hy Sondag verwelkom deur dr Francois Swart. “Ek wil vir jou kom sê, dis ’n wonderlike ding wat hier gebeur. Ek wil vir Stellenberg-gemeente sê, julle liggie skyn baie helder in die Ring van Durbanville. Elke lidmaat moet dit weet. Die besluite wat julle neem, kyk ons na op. Julle dominee moet baie moed bymekaarskraap om te praat uit sy hart uit. Dit is opwindende tye in die NG Kerk. Baie lidmate vra dalk hoekom. Philipp, jy is deel van die antwoord,” het Swart gesê.


“Ons kan almal waar ons is God se liefde vir mense wys. Ons kan dit oor grense waag,” het ds Philipp Dietmann tydens sy preek laat hoor. Foto: Le Roux Schoeman

Durbanville-ring is een van die grootste in die kerkverband, met byna 30 predikante, waaronder ds Louis van der Riet, wat vroeër vanjaar na Parke-gemeente beroep is en saam met Dietmann by die afgelope sinode oor die gay-kwessie gepraat het.

4 thoughts on “Gay predikant word bevestig by NG gemeente Stellenberg”

  1. Verkeerd is verkeerd al doen almal dit
    Reg is reg al doen niemand dit …..

    As dit iemand was wat egbreuk gepleeg het? Dronkaard?

    As dit ’n moordenaar was? Of ’n dief?

    As ek dit nie mis het nie word almal saam in een skrifgedeelte genoem 1Kor 6:9-11

  2. Openbaring 3:16 die lou warm kerk die NG kerk binnekort gaan hierdie kerk deur God uigespoeg word. Maak seker julle het die ekstra olie Matt 25 . Stellenberg gemeente lees Romeine 1: 18 tot 30. Vader huil oor julle , Koop vir julle salf.

  3. This wicked evil and unacceptable. He says it is an abomination to Him. So is He lying then that you got confirmation and peace. You might have but I can assure you not from His almighty who never changes. How can you even get in to teach the Word when you yourself cannot understand a simple instruction. And by the way homophobia is not a word. Phobia means one has an unnatural fear if something. I doubt anybody believing in the incorruptible Word if God is fearful if gays

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui