‘n Embleem van afvalligheid in die kerk

Kyk ook:

Deur Jan Louw

12 Julie 2019

(Oorspronklik op Facebook geplaas.)

Die “Liefde is Liefde” embleem wat hieronder vertoon word is ’n simbool van die afvalligheid waaroor Paulus geprofeteer het in 2 Tes 2:3. Die Griekse woord wat hy daar gebruik is apostasia. Dit is waar die Engelse woord “apostasy” vandaan kom.

Matteus gebruik ook die woord apostasia vir die skeibrief waarvan Jesus in Mat 19:7 gepraat het. Apostasia, volgens die woordeboek het die betekenis van om te dros, om in die steek te laat en te rebelleer.

Dit is waarmee ons nou hier in die NG Kerk te doene het. Daar is mense wat skaamteloos en sonder vrees vir teregwysing, die gesonde leer en inderdaad die Woord van God verlaat het.

Hoe gaan hierdie “gees van afvalligheid” te werk?

Afvalligheid werk met misleiding

Die woord “liefde” word hier misleidend gebruik. “Liefde” is een van die belangrikste woorde in die Christelike woordeskat. Liefde is die samevatting van die wet en die Bybel sê selfs: “God is liefde” (1 Joh 4:8). Bybelse liefde het ’n verhewe, adelike karakter. Dit gaan oor opoffering en prysgawe van eie belange. Jesus is daarin vir ons tot ’n voorbeeld.

Die Liefde is Liefde aksie gebruik die Bybelse liefde om ’n lering te vestig wat onbybels en vals is. Met die woord liefde propageer hulle liefdesverhoudings tussen mense op seksuele vlak en hulle wil uiteindelik alle soort liefdesverhoudings (Bybels) regverdig. Daar is volgens hulle slagspreuk geen onderskeid in die seksuele aangetrokkenheid tussen ’n man en ’n vrou, ’n man en ’n man en ’n vrou en ’n vrou nie, want dit gaan mos sogenaamd oor liefde. Dit is ’n bedrieglike aanwending van die ware Bybelse liefde.

Die draers van die Liefde is Liefde embleem sing uiteindelik saam in die LGBTQI+ koor. Liefde is Liefde is net ’n ander invalshoek vir LGBTQI + (lesbies, gay, biseksueel, transseksueel, queer ens, ens).

Dit is dié soort verhoudinge wat die mense by die gay parades van die samelewing vir hulleself opeis.

Nelus Niemandt wat die hempie dra het in 2015 in die koerant verklaar ons moet LGBT “normaliseer” in die kerk. Hy is nie alleen hierin nie. Een en sestig teoloë aan Suid-Afrikaanse Universiteite het ’n persverklaring in die Kerkbode (28 Sept 2018) gemaak, waarin hulle voorspraak gemaak het vir LGBTQI+ persone en selfdegeslagverhoudings.

Afvalligheid werk met leidende figure in die kerk

Nelus Niemandt (op die foto) was ’n Moderator van die Algemene Sinode. Dit is duidelik dat die huidige Moderator Nelis Janse van Rensburg dieselfde boodskap verkondig as sy voorganger.

Op die ander foto van die studente voor die Teologie Gebou op Stellenbosch, verskyn ook naas die studente, ’n paar leidende figure in die kerk. Monty Sahd, skriba van die Kuratorium van Stellenbosch is daar met sy Liefde is Liefde embleem. Die lede van die kuratorium is veronderstel om toesig te hou oor die opleiding van die studente, asook hulle leer en lewe, sodat hulle as leraars van die kerk toegelaat kan word. Ander doserende personeel, by name proff Reggie Nel en Robert Vosloo verskyn ook op die foto. Prof. Nadia Marais was die dag ook daar met haar plakkaat.

Afvalligheid werk deur die akademie

Die boekery agter Prof Niemand het ook simboliese betekenis. Prof Niemand is ’n professor by die Teologiese Fakulteit van Pretoria. Afvallige leerstellings kom met die pretensie van geleerdheid en Bybelse navorsing, waarmee oningeligte en goedgelowige mense mislei word.

Daar is 53 studente en dosente op die foto voor die Teologie Gebou op Stellenbosch. Hulle staan almal daar met hulle Liefde is Liefde plakkate.

Ouers van kinders wat teologie wil studeer moet dus kennis neem van ’n afvallige teologie waaraan jongmense by universiteite blootgestel word. Dit is nie ’n ligtelike saak nie, want volgens my ervaring, gaan dit oor veel meer as ’n bepaalde siening ten opsigte van homoseksualiteit. Dit gaan oor ’n totale teologiese uitkyk waarin jongmense opgelei word. Dit raak ons Christelike geloof ten diepste. Judas praat van ons “allerheiligste geloof” (Judas vers 20). Wie sy geloof verloor het, het sy kosbaarste besitting in die lewe verloor. ’n Mens se geloof is al waarmee jy die ewige lewe tegemoet kan gaan en waarmee jy voor jou God kan staan!

Liefde is nie sommer net Liefde nie, maar Afvalligheid is Afvalligheid en bly afvalligheid.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui