Erken tog dat die Bybel nie onfeilbaar is nie

Kyk ook Liberale teoloë propageer juis dít (29 Nov 2021, Bernhard Ficker) en kommentaar onderaan.

*******

Erken tog dat die Bybel nie onfeilbaar is nie | Netwerk24

Dr. Gert Kotzé, Springbok

23 November 2021

Frans Fourie se brief “Was koning Dawid werklik ’n etiese leier?” (18.11) het betrekking. Soos hy voel ek ook ongemaklik oor koning Dawid se “roem”.

Regverdigheidshalwe moet ek vir hom daarop wys dat die idee van die jong meisie in die oukêrel se bed dié van sy dienaars was.

Hy het Dawid darem gespaar deur nie te verwys na die grusame dade wat in Dawid se oorloë gepleeg is nie, soos die afkap van diere se hakskeensenings en die oopsny van verwagtende vroue van die oorwonne vyand.

Wat my egter al lank pla oor Dawid se roem, is dat Christus na bewering sy direkte afstammeling is. In 1 Konings word Christus se geslagregister tot by Josef aangedui, maar daar is dan nie ’n bloedverwantskap tussen Christus en Josef nie, so hoe kan Hy dan ’n direkte afstammeling van Dawid wees? Dalk is daar ’n leser wat helderheid kan bied.

Na my mening is die oplossing vir hierdie en soortgelyke kwelvrae dat almal moet besef die Ou Testament is ’n Joodse geskiedenisboek, en dat dit deels dien om die Jode se aansprake op dele van Palestina te onderskraag.

’n Verwante gedagte: Dis tyd dat ons kerkleiers en die voetsoolpredikante eerlik met kerklidmate moet wees en moet erken dat die Bybel nie onfeilbaar is nie, maar dat dit mense se woorde oor God is. Hul woorde is bloot gebaseer op hul interpretasies van tersaaklike inligting.

Die dolerendes se optrede veroorsaak natuurlik dat ons kerkleiers lam in die knieë is uit vrees vir kerkskeuring en gevolglik sal hulle nie die erkenning hierbo genoem maak nie.

Kommentaar

Gert praat van ’n geslagsregister in 1 Konings. Daar is egter geen geslagsregister in 1 Konings nie. Hy bedoel seker 1 Kronieke 1. Hierdie geslagsregister dui egter ook nie Christus se geslagregister tot by Josef aan nie. Dit is die geslagsregister in Matteus 1 wat dit doen.

‘n Mens neem aan dat Gert wil argumenteer dat Josef se geslagsregister in die Bybel gegee word (in Matteus 1), maar volgens die Bybel was Josef nooit Jesus se biologiese pa nie.

Eerstens, ’n mens neem aan dat Maria Jesus se biologiese ma was, maar as Jesus nooit ’n biologiese pa gehad het nie, hoe weet ons of Maria sy biologiese ma was? Sy kon moontlik slegs sy surrogaatmoeder gewees het.

Tweedens, die geslagsregister in Lukas 3 gee wel Maria se geslagsregister aan. Kyk Jesus se geslagsregister volgens Matteus en Lukas.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui