Liberale teoloë propageer juis dít

Die volgende brief is geskryf na aanleiding van Erken tog dat die Bybel nie onfeilbaar is nie. Kyk ook die kommentaar onderaan die genoemde brief.

*******

Liberale teoloë propageer juis dít | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

29 November 2021

Dr. Gert Kotzé (23.11) wil hê kerkleiers moet eerlik met lidmate wees en erken dat die Bybel nie onfeilbaar is nie, maar dat dit mense se woorde oor God is en dat hul woorde bloot hul eie interpretasies is.

Maar dit is dan presies wat die liberale teoloë by kweekskole die jong tokkelokke al lankal leer en wat die NG Kerk se algemene sinode voorstaan.

Daarom kan die Bybelwaarhede mos maar as voor-moderne skrywes deur oermense uitgekryt en afgeskryf word en totaal herinterpreteer en negeer word in die lig van moderne, sogenaamde wetenskaplike, kennis en sielkundige insigte.

En dít is juis waaroor die dolering van lidmate en gemeentes gaan – oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie. In 2 Timoteus 3:16 is geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee”, en 2 Petrus 1:21 sê: “Deur die Heilige Gees gedrewe, het die heilige mense van God gespreek.”

Paulus het immers geskryf: “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo” (1 Thessalonisense 2:13).

As Paulus vandag sou leef, sal hy tot sy skok agterkom dat die postmoderne teoloë die woord van God aanneem as die woorde van mense, soos wat Kotzé en die liberale teoloë propageer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui