Dié wat erns maak met Bybel sal dit nie krities kan bekyk nie

Kyk ook:

2011-04-06 21:22

Beeld

Hentie Jordaan van Centurion skryf:

Wikus Faul se brief “Hoekom die Bybel met kritiese oog lees?” (Beeld, 6 April) het betrekking.

Wyle A.J. Scholtz, in lewe formidabele skoolhoof van die Hoërskool Delmas en ook landwyd bekend om die woorde: “Hier volg die nuus, gelees deur A.J. Scholtz”, uit die nuusateljee van die destydse SAUK, het eens die volgende oor die Bybel geskryf:

“Die Bybel is nie ’n vertoonstuk nie, dis nie ’n erfstuk nie, nie ’n bewaarstuk nie.

Dis ’n goddelike gawe; dis die gees van Hom wat die Woord gestuur het – nee, self gebring het, want ‘die Woord het vlees geword’. Dis sy asem, sy stem, sy heerlikheid, sy voetstappe deur die eeue, van donkerte tot donkerte; dis sy genade oor die tye vir dié wat was, wat is en wat sal kom.

Sy plek is nie op die boekrak nie, nie agter glas of in ’n kis met kosbaarhede nie, maar: dra Hom in jou hart, dra Hom in jou denke, in jou getuienisse, op jou lippe, in jou offerande, want … dit is God self.”

As erns gemaak word met hierdie beskrywing van die Bybel, sal verwondering seëvier bo kritiese denke oor die inhoud daarvan en sal die menslike in die inhoud ook in berekening gehou word sonder om krities daarna te kyk. Geen gedagte wat deur ’n mens geuiter word, word nie ingekleur en beïnvloed deur die omgewing en kultuur van sy tyd nie.

Die menslike ervaring, al word dit deur Godheid geïnspireer, bly menslik. Die mens is immers nie God nie.

Natuurlik is daar diegene wat hierdie Boek onder wêreldse denke of voorwerpe verberg en natuurlik is dit hul reg, maar dit neem nie weg dat dit “ ’n goddelike gawe” is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui