Die Evangelie van die reënboog

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Februarie 2004 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Daar is seker min gesigte wat ’n mens so aangryp soos ’n reënboog. Ek het die foto hierbo ’n jaar of wat gelede geneem waar ons by Injasuti in die Drakensberge met vakansie was. Laat die middag het ons ’n reënbui oor die karavaankamp gehad. Toe die reën verby was het hierdie pragtige reënboog in die lug verskyn. Die kampeerders het uitgekom om na die skouspel in die lug te kom kyk. Daar was ’n vrolike atmosfeer onder die mense.

Ons weet almal dat ’n reënboog besondere betekenis het. God stuur ’n reënboog om iets vir die mense daarmee te sê. As daar ’n reënboog verskyn moet ons daaraan dink dat God in sy groot genade hierdie wonderwêreld waarop ons woon dag vir dag vir ons in stand hou. Daar was ’n tyd toe God so ontsteld geword het oor die losbandigheid van die mense dat Hy sy mag gebruik het om alle lewe op aarde uit te roei. Ons lees daarvan in Genesis 6-9. Hy kon die aarde so onbewoonbaar gemaak het soos die maan of mars, maar Hy het nie. Hy het die aarde aan ons teruggegee as ons woonplek om op te woon. Hy het die lewe laat voortduur op die aarde.

Ek weet nie van mense wat daardie dag by die karavaankamp by Injasuti aan God gedink het of oor Hom gepraat het nie. Almal het maar net die lekker atmosfeer na die reën geniet en die kleureboog in die lug bewonder. Hoe min is ons mense tog op God en sy dade ingestel? Daar moet baie meer lof op ons lippe wees omdat God so goed is.

Ons lees van die reënboog in die eerste boek van die Bybel en ook in die laaste boek van die Bybel.  In Openbaring 4:3 lees ons dat Johannes ’n gesig van God op sy troon in die hemel sien. Om die troon is daar ’n reënboog. Waarom is daar juis ’n reënboog om God se troon? Ek glo dit sê vir ons wie God is. God is lief vir die wêreld wat hy gemaak het. Al is Hy hoe ontsteld oor ons sonde, Hy bly Hy genadig. Die reënboog herinner Hom aan sy beloftes aan die mensdom.

Geen mens kan die wêreld in stand hou nie. Ons is magteloos teen al die siektes, die aardbewings en die geweld onder die mense. Waarheen kan jy verhuis op aarde, waar jy kan sê: Daar is dit veilig, hier is dit veilig. Alleen God kan ons woonplek vir ons in stand hou. Dit is juis die belofte, die Evangelie van die reënboog: God sal nie werke van sy hande laat vaar nie. Hy sal die wêreld vir ons in stand hou totdat Jesus op die wolke verskyn.

God sal ook jou en my klein wêreldjies vir ons in stand hou. Hy sorg nie net vir die groot dinge nie, maar Hy gee ook kos en klere vir die nederigste onder ons. Mag jy ook in hierdie jaar die Here se reënboog oor jou lewe raaksien. Vertrou Hom en eer Hom dat Hy jou nie in die steek sal laat nie. Is daar ’n mooier en ’n duideliker manier waarop Hy vir ons kon sê dat Hy vir ons lief is en ons nie in die steek sal laat as met ’n reënboog?

* * * * * * * * * * *

Begrotingstyd

Ons is baie bemoedig met die gewilligheid waarmee julle as lidmate hierdie jaar julle dankoffers verhoog het. Dit het meegebring dat ons dankoffers met 7% bo begroting verhoog het. Dit het ons vertroue gegee om weer ’n jeugwerker in die persoon van Lizelle Herbst aan te stel om Henri met sy jeugwerk te help. Ons beplan ook om ons kerk se dak te vervang wat na 21 jaar nie meer dig is nie.

Baie dankie vir almal in die gemeente wat die Here met julle dankoffers dien en ons wat die leiding hier neem op die wyse bemoedig. Dit is vir ons ’n teken dat die Here sy reënboog van genade oor ons hou. Mag die Here julle seën en ons gemeente gebruik om vir Hom ’n lig in die wêreld te wees.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui