Lede van die huisgesin van God

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Januarie 2004 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek het die voorreg om deel van ’n groot familie te wees. My pa was deel van ’n gesin van nege kinders. Hulle het in ’n sendelingshuis grootgeword op Brandfort naby Bloemfontein. In die eetkamer was daar ’n groot tafel waar daar plek was vir baie mense. My oupa het daar vir ons huisgodsdiens gehou. Teen die muur was daar ’n bordjie met die woorde: “Christus is die Hoof van hierdie huis, die onsigbare Gas by elke maaltyd, die stille Luisteraar by elke gesprek.” Die huis het ses slaapkamers gehad, met ’n lang gang en daar was gekleurde loodglas in party van die deure. Buite was daar daar ’n groot tuin met perskes, appelkose pere en druiwe. Daar was ook ’n buitegebou, met ’n stal waar my oupa saans ’n koei gemelk het en van tyd tot tyd is daar ook ’n skaap geslag wat my oupa van die boere gekoop het. Ek onthou dat die hele familie eenkeer almal daar saam was. Ons het ons opgestel vir ’n foto teen ’n peperboomlaning. Net die nefies en die niggies, afgesien van die grootmense het 32 getel!

Dit is my pa se mense. My ma het in Brandfort se distrik, op die plaas Rondawel grootgeword. Sy was deel van ’n gesin van ses kinders. Van my ma se kant af het ons 19 nefies en niggies getel. Ek en my broer en susters het eintlik verkies om plaas toe te gaan as ons vir Kersfees Brandfort toe gegaan het. Op die plaas was ’n groot ronde plaasdam, waarin ons kon swem en daar was buitegeboue waar die seuns geslaap het. Driemaal per dag het ons in die groot eetkamer saamgekom vir die etes wat tannie Heleen in die kombuis voorberei het. Na ontbyt en aandete het een van die ooms elke keer vir ons voorgegaan om godsdiens te hou.

Die tyd het nou aangestap en my wonderlike jeugjare is verby. Baie van die ooms en tantes is nie meer daar nie. My ma is ook al oorlede. Die neefs en niggies het nie meer so baie kontak met mekaar nie. Ons gesin probeer egter nog familiebyeenkomste te hou. Die afgelope Desember het een van die swaers ’n byeenkoms gereël waar my pa, my broer, my twee susters en ek met ons eggenotes en ons kinders saamgekom het. Dit was by Cintsa, ’n karavaanpark naby Oos-Londen. Ons was 27 mense in totaal. Ons het weereens die voorreg van familiebande belewe.

Gedurende die vakansie het ek afgekom op Efesiërs 2:19: Julle is dus nie meer ver van God af nie, …. maar … lede van die huisgesin van God. In Efesiërs 3:14 staan: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek het by myself gedink: Familiebande is ’n aardse seëning van God. Dit is ’n groot genade om deel van ’n gelukkige familie te kan wees, maar eintlik is God besig met ’n familie wat van veel groter betekenis is. Dit word genoem die “huisgesin van God” en die “gemeenskap van die gelowiges”. Ek kan eerlik sê die troos en die blydskap wat ek in my lewe in “die huisgesin van God” beleef het is van veel groter waarde as aardse familiebande. ’n Mens kan maar ’n mislukking en ’n swartskaap wees op baie gebiede, maar om deel te wees van die familie van God is ’n voorreg wat alle aardse seëninge oortref. Dit is ’n gemeenskap van gelowiges wat die hemel en die aarde insluit. Dit is ’n rykdom wat nie van jou af weggeneem kan word nie. Dit is ’n teken van die Here se onbeskryflike goedheid aan jou om aan sy huisgesin te mag behoort.

Ons jaartema in die gemeente vanjaar is: Fantastiese Families. Mag die Here vir julle elkeen ’n gelukkige gesin gee. My bede is egter dat ons almal opnuut sal ontdek hoe wonderlik dit is om deel te kan wees van die huisgesin van God. Gee jouself in hierdie jaar vir die huisgesin van God. Moenie net aan jouself dink nie. Gee ag op mekaar. Doen moeite om die byeenkomste wat gereël word by te woon. Moenie jou eie pad loop nie. Jy kan dalk die beste en die mooiste wat die Here jou op aarde (en in die hemel!) wil gee misloop.

Voorspoedige nuwe jaar vir julle almal.

Jan Louw

NS: James de Jager van wie ek in ’n vorige Nuusbrief geskryf het, is toe oorlede op Sondag 28 Desember 2003. Hy was vir baie jare ’n ouderling in ons gemeente. Ons meegevoel gaan aan Rika sy eggenote en Gregory en Leonie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui