Déjà vu: NG Kerk maak selfde fout as in 1982

*******

BRIEF | Déjà vu: NG Kerk maak selfde fout as in 1982 | Netwerk24

Sondag, 28 Augustus 2022

Dawie de Wet, Willowmore, skryf:

Frits Gaum (Rapport, 20 Augustus) dink geïrriteerd dat die dolerende jukskeibrekers ontevrede is oor die gay-kwessie en waarsku dan teen kerkskeuring.

Ongelukkig beveg hy sy selfgemaakte strooipop. Ons doleer omdat verskeie besluite van die algemene sinode bewys dat hulle die Bybel en die Belydenisskrifte ondergeskik aan die ideologie van sosiale geregtigheid stel.

Dis vir my déjà vu: In 1982 het 123 gelegitimeerdes van die NG Kerk ’n beskrywingspunt aan die sinode gestuur. Hierin is uiteengesit dat ’n regeringsbeleid wat op die onversoenbaarheid van mense gegrond is, Bybels onhoudbaar is. Die moderatuur het dit opgeskeur. Ons het dit toe as “ope brief” in Kerkbode gepubliseer. Dis woedend afgeskiet.

Destyds het die kerk ook “jare lank die Skrif bestudeer” maar uiteindelik net die Bybel geplooi volgens die ideologie van apartheid.

Nou lees die algemene sinode die Bybel weer deur ’n dik ideologiese bril – van sosiale geregtigheid. Dié ideologie verdeel mense in onderdrukkers en slagoffers. Slagoffers is altyd onskuldig en het geen verlossing nodig nie, daarom is Christus se verlossingswerk onbelangrik – hy word gedegradeer tot ’n model. As jy nie vir slagoffers veg is nie, is jy ’n onderdrukker wat reggedwing moet word.

Sosiale geregtigheid staan dus direk teenoor Bybelse geregtigheid. Die Bybel leer dat alle mense verlore sondaars is wat slegs deur Jesus verlos kan word. Ons dolerendes verwerp sosiale geregtigheid as dwaalleer. Dít is wat kerkskeuring veroorsaak.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui