CJ Koster – Jahushua, Kersfees, Paasfees, ens

Kyk ook:

Hierdie is ʼn brief wat aan iemand geskryf is wat vir my CJ Koster se boek, Gaan uit haar uit my volk, aanbeveel het (alle name is verwyder).

Koster se siening is in kort die volgende:

  1. Dit is belangrik dat ons God op sy regte naam noem.
  2. Die vier van kersfees en paasfees het heidense oorsprong. Dit is daarom nie die wil van God dat Christene hierdie feesdae vier nie.
  3. Die rusdag (Sabbat) moet op die Saterdag gevier word, nie Sondag, soos ons dit vandag doen nie.

***********

Ek wil solank vir jou terugvoering gee oor die boek van CJ Koster – Gaan uit haar uit my volk.

By die beoordeling van die boek dink ek gaan dit oor ʼn kwessie van uitkyk volgens Mat 6:22-23: Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

Die satan het ʼn geweldige greep op die wêreld en die nasies en die volke gekry. In hierdie bose wêreld is die kerk van die Here gebore en moet hy sy pad vind. Die gevare waaraan die kerk en die waarheid onderworpe was en is, is skrikwekkend. As mens die geskiedenis van die kerk en dogma van die kerk bestudeer kom jy partykeer voor die vraag te staan: Is ons hoegenaamd nog in die waarheid? Wat is waarheid?

Ek wil hieroor ʼn paar dinge sê:

Jesus sê in Joh 16:13: Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.

Dit is vir my ʼn belangrike belofte en gerustelling van die Here dat Hy met ons is. Die “waarheid” kan ons nie altyd bewys of beredeneer nie. Dit is die Gees wat in ons is, wat ons verseker dat ons in die waarheid is. Dit is ook die Gees wat ons gemeenskaplik het wat vir ons ʼn gerusstelling is. As ek met jou praat en met my medegelowiges praat is daar ʼn warmte in ons, dit is die warmte wat die Emmausgangers ervaar het toe Jesus Homself aan hulle geopenbaar het.

Wat ek deur die jare van Konstantyn gehoor het, is dit so dat hy nie ʼn engeltjie was nie. Maar die Here het ʼn krom stok gebruik om ʼn groot slag te slaan vir Sy kerk en die koninkryk. Konstantyn het op sy koste die biskoppe van oor die hele destydse wêreld laat saamkom by Nicea, waar hulle bevestig het dat Jesus die Seun van God is. Dit is skrikwekkend om te dink wat sou gebeur het as hulle daar anders besluit het en daar was ʼn sterk groep onder leiding van Arius wat ʼn ander leer voorgestaan het. Dit is vir my ʼn bevestiging van Jesus se belofte dat hy sy kerk in die waarheid sal lei.

Koster het kwessies oor die uitspreek van die naam van God. Die beste taalkundiges en die Jode het deur die jare hieroor navorsing gedoen. God was vroeër in die kerk bekend as Jehova. Toe was dit Jahwe en nou sê die skrywer is dit Jahuwe. Ek wil my nie daaroor uitspreek nie. Ek weet net dat die Naam van God in Israel vir hulle te heilig was om dit selfs uit te spreek. Is dit regtig sinvol om nou na al die eeue daaroor rusie te maak en dit selfs in verband te bring met die goed wat vir God ʼn gruwel is?

Dieselfde geld oor die naam van Jesus. Ek sê altyd vir die kinders in die katkisasie dat Jesus se maatjies en sy ma hom Josua genoem het. Nou sê die skrywer wat seker meer geleerd is as ek, dit was Jahushua. Die punt is egter dat Jesus se naam in Grieks verklank is na “Iesos” en in Latyn blykbaar verklank is na Justus. Paulus het die verklankte vorm in sy briewe gebruik. Dit is vandag nog ʼn algemene verskynsel dat name en woorde verklank word in verskillende tale. My naam Jan dink ek kom oorspronklik van Johannes af. In Engels is dit John. In Nederlands is dit Jan en in Russies verstaan ek is dit Ivan. Is dit so belangrik vir Jesus dat ons vandag na al die eeue sy naam reg sal uitspreek as ons van Hom praat en Hom aanbid. Ons sing “Jesus Redder, groot en magtig”. Is Hy ontevrede daaroor? Hy ken mos ons harte.

Kom ons dink aan Kersfees. Elke kersfees is daar praatjies oor die radio oor waar kersfees vandaan kom. Ek dink die meeste Christene weet dat God ons nie beveel het om die geboorte van sy Seun te herdenk nie en ook dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie. In ons eie familie onthou ek dat my mense op ʼn stadium probeer het om weg te doen met ʼn kersboom en toe het hulle ʼn kruis versier. Dit het egter nie impak gehad nie en ons het stelselmatig maar weer ʼn boompie in die huis gesit. Die vraag is weer, is die Here ontevrede met ons daaroor dat ons kersfees vier en wel met ʼn boom?

My siening is dat die Here dit beskik het dat die geboorte van Jesus onder die hele wêreld se aandag moes kom deur ʼn fees. Daar is min lande in die wêreld waar kersdag nie ʼn publieke vakansiedag is nie. Ek glo die wêreld sal eendag voor God rekenskap moet doen omdat hulle nie ag gegee het op Jesus wat in die wêreld gebore is nie. Die boodskap van kersfees, is deur die eeue op ʼn kragtige wyse bekend gemaak in die winkels, deur musiek oor miljoene luidsprekers en die afgelope tyd oor die TV. By ons eie kerssangdiens verstaan ek was daar ʼn Pakistani en ʼn Rus teenwoordig.

Ek glo ons kan sê dat God ʼn heidense fees uit die verlede gekaap het om sy Naam in die wêreld te verheerlik. Dit is ʼn ander uitkyk op dieselfde saak. Is dit verkeerd om so na die saak te kyk? Wat myself betref is ek entoesiasties om Kersfees te vier, omdat dit elke keer ʼn geleentheid is om die Evangelie aan die kinders en die mense bekend te maak en om die pragtige liedere tot eer van God te sing.

Ek sou op dieselfde trant wou redeneer oor paasfees en die ander gebruike in die kerk. Ek dink die satan is woedend daaroor dat God die feeste wat oorspronklik sy feeste was, van hom afgevat het en dit reggekry het, dat die wêreld nou aan die groot dade van God herinner word, by die geleenthede waar die duiwel voorheen gedien is. Ek sou selfs so ver wou gaan om te sê dit is deel van die triomftog van Christus in die wêreld, waarvan Paulus praat (2 Kor 2:14). Die duiwel sal natuurlik probeer om die mense te verblind vir die ware betekenis van ons Christelike feeste, maar dit moet ons nie negatief daaroor maak nie.

Jesus se geboorte en sterwe is die belangrikste gebeure in die geskiedenis van die hele mensdom. Ek dink dat daar baie goeie rede is om hierdie twee gebeure te vier. Sou dit help as ons die huidige datums skuif?

Oor Sondag wil ek net sê, daar is darem sterk aanduidings dat die opstandingsdag vir die dissipels van die begin af ʼn belangrike dag was en dat dit in die vroëe kerk neerslag gevind het. Jesus het Hom op die Sondagaand aan die dissipels bekend gemaak en toe weer op die volgende Sondag (Joh 20:26). Soos ek dit het is die Heilige Gees op ʼn Sondag uitgestort. Daar is ook sterk aanduidings dat die eerste dag van die week die dag was waarop die Christene bymekaargekom het. Sien Hand 20:7; 1 Kor 16:2. As Johannes in Op 1:10 praat van die “dag van die Here”, bedoel hy tog seker nie die sabbat nie, maar die dag waarop die Here opgestaan het. Dit sê vir ons die vroeë Christene reeds die opstandingsdag gerespekteer het en afgesien het van die Joodse feesdae. Paulus waarsku ook in Kol 2:16 teen mense wat wil rusie maak oor die onderhouding van die Joodse sabbat.[1]

Om saam te vat: Ek sien dat die skrywer van die boek goed ingegrawe is in die verskeidenheid afgode van die mensdom in die verlede. Dit bring mens opnuut onder die indruk van die verskriklike mag wat die duiwel gekry het om te mislei. Hy is steeds besig om die mense en indien moontlik die kinders van die Here met nuwe afgode te mislei. Die evolusieleer is vir my ʼn goeie voorbeeld van ʼn afgod wat verskiklike verwoesting saai. Ek sal dapper probeer om hierdie afgod te bestry. Ek was verras om vir jou en xxx-hulle as geesgenote hierin te ontdek. Julle is vir my ʼn groot bemoediging.

Ek kan my egter nie versoen met die styl van CJ Koster nie. Ek dink die vraag van Jesus aan Petrus is hier van toepassing: Petrus het jy my lief? (Joh 21) Ons as kerk leef in ʼn gebroke wêreld, maar die Here weet dat ons Hom liefhet. As ons in ʼn verhouding van wedersydse liefde leef is daar vryheid en blydskap en vrede. Dit is van die belangrike geskenke van Christus aan sy kerk. Die uitkyk van die skrywer bring mee dat die vredevolle verhouding wat ons in Christus het versteur word.

Ek is ook besorg dat hierdie uitkyk op die kerk verdeeldheid aanmoedig en selfs vra vir skeuring (“Gaan uit…”). Ons visie is juis om in hierdie tyd met kerke hande te vat en om saam te werk in belang van die koninkryk. Dit verg baie energie. Ons kan nie toelaat dat die duiwel met hierdie soort debatte, ons aandag weglei van ons eintlike roeping nie.

Jan Louw
November 2007

Latere byvoeging:

Veronderstel dat Christene een of ander Christelike fees of biddag begin op dieselfde dag as Halloween in teenreaksie daarop. En veronderstel dat hierdie fees of biddag so uitbrei dat Halloween kleiner en kleiner word en die Christelike fees groter en groter. 500 jaar later bestaan Halloween nie meer nie, maar die Christelike fees word baie sterk ondersteun. Nou is daar ʼn groep Christene wat gekant is teen die Christelike fees omdat hierdie fees heidense wortels het. Die vraag is: Het hierdie Christelike fees werklik heidense wortels? Is dit sinvol om hierdie Christelike fees af te skaf oor hierdie rede? Ek dink nie so nie.

Verder moet ʼn mens maar jou gevegte kies:

  • Ek dink dit ʼn verlore stryd om teen kersfees te veg. Besighede sal nooit kersfees afskaf nie, want dit is finansieël te voordelig. As Christene moet ons eerder hierdie geleentheid aangryp en vir mense herinner aan die ware betekenis van kersfees.
  • Daar is baie belangriker gevegte wat ʼn mens eerder moet veg, bv postmodernisme en evolusie. Hierdie twee sake het ʼn wesenlike invloed op die Evangelie van God (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed).

Romeine 14:5-6 is waarskynlik van toepassing op hierdie kwessie:

(5)Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ʼn ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. (6)Die een wat ʼn bepaalde dag op ʼn besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

Voetnotas

[1] Kyk ook Honour the Lord’s Day van Peter Hammond in Joy-tydskrif.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui