Jesus hét liggaamlik uit dood opgestaan, sê afgevaardigdes

*******

Jesus hét liggaamlik uit dood opgestaan, sê afgevaardigdes | Beeld

Beeld, 30 Okt 2007

Neels Jackson

Die NG Kerk se Hoëveldsinode het Vrydag met ’n oorweldigende meerderheid die belydenis van Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood onderskryf.

Die besluit is geneem ná ’n lewendige gesprek waarin verskeie afgevaardigdes gevra het om ’n meer genuanseerde formulering. Daar is onder meer gesê dat Jesus wel liggaamlik opgestaan het, maar dat dit nie was met ’n gewone liggaam van vlees en bloed nie. Dit was met ’n verheerlikte liggaam.

Ds. Gideon Kok, skriba van die sinode, het uitvoerig uit 1 Korintiërs 15 aangehaal om dié punt te maak. Nie een van die sinodegangers wat in dié rigting gepraat het, het egter ’n alternatiewe formulering voorgestel nie.

Toe die sinode gevra is om te stem oor die voorstel van die gemeente Kempton-Kruin, het afgevaardigdes ’n see van groen kaarte die lug in gesteek.

Van die afgevaardigdes, onder wie dr. Hannes Windell, aktuaris van die sinode, het verduidelik dat hulle buite stemming gebly het omdat hulle nie vir of teen die voorstel kon stem nie. Dr. Paul du Plessis, moderator, het gesê hulle kan dit in die notule laat aanteken.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui