Algemene Sinode verwelkom gesprek met NG Kerk Namibië

Dit lyk my nie Nelis Janse van Rensburg verstaan mooi nie: Die Namibiese Streeksinode het ’n ultimatum aan die NG Kerk gerig. Daar is nie moontlike oplossings waaroor gepraat kan word nie. As die NG Kerk nie ’n vaste voorneme gee om die dwaalbesluite om te draai nie, gaan hulle hulself los maak van die Algemene Sinode.

Dit is baie duidelik dat Nelis en Gustav Claassen hulleself goed belyn het voor hulle met die media gepraat het. Kyk wat sê Gustav Claassen in NG Kerk in Namibië wil wegbreek oor gays.

*******

Algemene Sinode verwelkom gesprek met NG Kerk Namibië | Netwerk24

Marita Herselman

22 Maart 2022

Die Algemene Sinode (AS) verwelkom die NG Kerk Namibië se onderneming om die volgende ses maande met hom in gesprek te tree voordat dié streeksinode besluit of hy sy bande met die AS gaan verbreek.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die AS, sê die AS se grootste bekommernis is dat daar mense met besware is, maar dat die AS nie altyd weet wat die rede is nie.

“Dit is vir ons baie belangrik dat ons met die NG Kerk Namibië in gesprek tree. Daarom is ons baie dankbaar vir sy besluit om ’n pad gegrond op Matteus 18 met ons te stap – wat lui dat ’n mens met mekaar moet praat.”

Dié streeksinode het Saterdag in sy sinodesitting besluit om ’n proses te begin wat daartoe kan lei dat hy wegbreek sou die AS nie tot “inkeer” oor bepaalde besluite kom nie.

Dit sluit in die AS se besluit in 2019 oor selfdegeslagverbintenisse (SGV). Daarvolgens kan gemeentes self besluit of hulle ten gunste van SGV is en of hulle gay predikante in die amp bevestig.

Die NG Kerk Namibië sê in sy besluit hy maak die voorneme bekend om “die Jesus-pad van Matteus 18:15-20 met die Algemene Sinode enduit te stap tot die mate dat bande met die Algemene Sinode verbreek word op grond van art. 37 (van die kerkorde)”.

As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen,” lui ’n uittreksel uit die Skrifgedeelte.

Benewens die streeksinode se ontevredenheid oor die 2019-besluit, meen hy die teologiese opleiding aan NG Kerk-geakkrediteerde opleidingsinstellings is onvoldoende.

Die besluit kom ook weens die “wantroue wat die verhouding met die Algemene Sinode kenmerk”.

Die streeksinode het ’n taakspan opdrag gegee om sy gevoel aan die moderamen van die AS oor te dra en vas te stel of die AS “tot bekering” gaan kom.

Die span moet ook die regskwessies rakende art. 37, die kerkordelike herindeling van gemeentes van die NG Kerk, toekomstige teologiese opleiding en geldelike vergoeding van die AS uitklaar. Gemeentes moet in die besluit en prosesse betrek word.

Die taakspan moet teen einde November ’n omvattende verslag met voorstelle aan die Namibiese moderamen gee.

Dit moet dan aan die Namibiese sinode voorgehou word.

Ds. Thijs van der Merwe, skriba van die NG Kerk Namibië, sê die Namibiese gemeentes sal besluit of hulle ’n buitengewone streeksinodesitting gaan belê, aangesien dit baie geld kos.

Van der Merwe sê teologiese opleiding van NG predikante veroorsaak groot ongemak in die NG Kerk, nie net in Namibië nie. Die vergadering het Saterdag besluit dié opleiding aan die drie NG Kerk-geakkrediteerde universiteite (Suid-Afrika), wat saam met seminaries van die kerk se algemene kuratorium aangebied word, is onvoldoende.

Die NG Kerk Namibië werk al ’n wyle saam met die Namibiese Evangeliese Teologiese Seminarie (NETS) waar predikante opleiding ontvang.

“Aan die ander kant gaan ons altyd predikante van daar (Suid-Afrika) kry, so ons wil hê die opleiding moet reg wees.”

Janse van Rensburg sê in die gesprekke kan konstruktief aan oplossings vir die streeksinode se besware gedink word en onder meer vasgestel word wat sy bekommernisse oor die teologiese opleiding is.

Die AS nooi sinodes telkemale uit om met die AS te praat en het suksesvolle en goeie gesprekke met die Goudland-sinode en individue oor teologiese opleiding gehad.

“Ons nooi die sinodes uit – praat met die Algemene Sinode, nie net oor die AS nie, maar met die AS.”

[Kommentaar: Hierdie is niks anders as kat-en-muis-speletjies nie. Daar is al baie gepraat en Nelis weet dit (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap).]

Van Rensburg sê Namibië speel oor die jare ’n baie belangrike rol in die AS en dit sal vir die AS baie sleg wees sou hul bande verbreek.

“Hulle het ’n eie konteks en omdat hulle ’n ander land in ons kerk verteenwoordig, gee dit vir ons ’n baie breë perspektief op die Suider-Afrikaanse konteks.”

Hy sê dit is sleg vir die kerk se eenheid sou ’n sinode wegbreek.

Die AS kan wel nie ’n besluit aanpas of herroep voordat dit op die volgende algemene sinodesitting in Oktober 2023 dien en goedgekeur word nie.

Familie van besorgde NG kerke binnekort gestig

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Kairos Netwerk (KN), sê KN het al gesprekke met die moderamen van die AS oor onder meer SGV en teologiese opleiding gehad.

“Hoewel dit maklik is om die besorgdheid van KN te negeer, is dit duidelik dat die NGK en sy leierskap onder toenemende druk verkeer. Dit is nie vir KN lekker nie, want ons treur oor die toestand van ons geestelike moeder.”

Knoetze sê die NG Kerk speel ’n groot rol in Suid-Afrikaners se lewens en KN het dus nie doelbewus ’n pad van skeuring gekies nie, “maar om sout en lig te wees en om ’n profetiese stem van binne die kerk te wees”.

Die KN het ’n konferensie in Julie vir die stigting van ’n familie van besorgde NG kerke.

Hy sê die netwerk sal steeds voortgaan om met streeksinodes en die AS te probeer skakel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui