Kyk ook:
- Vrystaters skop vas oor gay-voorlegging (8 Des 2006)
*******
Berig kan wanindrukke laat | Kerkbode
Kerkbode, 26 Januarie 2007
Prof Piet Strauss, Bloemfontein skryf:
EK verwys na die berig in Kerkbode (8 Desember 2006) oor die Vrystaatse Moderamen se vasskop teen die parlementêre voorlegging oor gay-huwelike van drr Ben du Toit en Kobus Gerber namens die NG Kerk.
Dit is so dat die debat in die NG Kerk oor hierdie saak om verskeie redes onverkwiklik geraak het. Daarom is my reaksie teésinning en onwillig. Tog kan elemente van hierdie berig die lesers van Kerk- bode met verkeerde indrukke en ’n moontlike refleksie op my integriteit laat.
Uit die berig is dit moeilik om af te lei wat die pad is wat hierdie voorlegging in die kerk gevolg het. Dit was, kortliks gestel, die volgende: Op my versoek het die Moderatuursvergadering waarby ons van die konsepvoorlegging gehoor het, versoek om insae hierin te kry. Nadat ek dit per e-pos ontvang het, was die tyd te min om omvattend kommentaar te lewer. Ons moes dus reageer, maar sonder om die finale produk weer te sien of goed te keur. Enige iemand met kennis van prosedure sal weet waarom daar dus nie van die Moderatuur se voorlegging gepraat word nie.
Du Toit se gerapporteerde weergawe skep die indruk dat ek die konsep ongekwalifiseerd goedgekeur en hom sterkte vir die voorlegging toegewens het. Die moontlike indruk bestaan dus dat ek agterna, in die lig van die reaksie uit gemeentes, omgespring het.
Wat nie gerapporteer word nie is dat ek, soos die berig stel, die denkrigting van die voorlegging ondersteun het, maar tog twee punte van kritiek of verbetering gehad het.
Die eerste een was ’n versoek dat die onderskeid tussen die vertrekpunte en benaderings van die NG Kerk (die Bybel), en die staat (die Grondwet) duideliker gestel moes word. Hierdie saak was op die ou end die groot oorsaak van misverstand en negatiewe reaksie op die voorlegging. Du Toit het op my navraag by die Moderamen van die Algemene Sinode in November geantwoord dat dit hulle insiens nie nodig was nie, omdat dit reeds in die voorlegging gestaan het.
Die tweede saak was die versoek dat die kerke nie gedwing moet word om gay-verbintenisse te bevestig nie. Dit is in die voorlegging en ook in die nuwe wet op burgerlike verbintenisse opgeneem.
Die berig verwys ook na standpunte in die Vrystaat dat ek in die NG Kerk probeer vure doodslaan as deel van die “NG Kerk-politiek’ wat daarop gemik is om lidmate te sus. Wie egter my reaksies in die huidige debat met sy verwarring lees, sal sien dat ek nie slenters gebruik om lidmate te sus nie, maar hulle aanraai om na die besluite van kerkvergaderings (kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode) vir die amptelike standpunt van die NG Kerk te kyk.
In ’n gereformeerde kerk kan net die vergaderings en nie indiwidue nie, die standpunt van die kerk vertolk. Die Moderatuur van die Algemene Sinode het dit ook in sy verklaring gestel. Dit gaan dus nie om ’n ongeloofwaardige gesus nie, maar die feite.