*******
Moderamen vra verskoning oor ‘verwarring’ na voorlegging | Kerkbode
Kerkbode, 9 Februarie 2007
PRETORIA. – Die NG Kerk se moderamen het toegegee dat die kerk se voorlegging oor gay verbintenisse verwarring onder lidmate kon skep en het lidmate verskoning gevra indien dit die geval was.
Die moderator van die vorige Algemene Sinode, dr Coenie Burger, het namens die moderamen gesê die voorlegging kon op meer as een punt waarskynlik anders gestel gewees het. Dit volg nadat die NG Gemeente Moreletapark en ’n groep beswaardes – 33 dominees en sewe lidmate – skriftelik klagtes by die moderamen ingedien het oor die voorlegging.
Verskeie van die predikante wat die brief onderteken het, is lede van die taakspan wat ’n verslag opstel oor die NG Kerk se standpunt ten opsigte van homoseksualiteit. Onder hulle is die medevoorsitter van die taakspan, dr Jorrie Potgieter, asook die opsteller van die brief, dr Johan Marais.
Die NG Gemeente Moreletapark, die grootste NG gemeente in die land, se kerkraad het hulle “skok en ontevredenheid” uitgespreek oor sekere standpunte in die dokument. Die kerkraad sê die NG Kerk beleef tans ’n geweldige identiteitskrisis wat reggestel moet word. Hulle bevraagteken ook die geestelike integriteit van die opstellers van die dokument, drr Kobus Gerber en Ben du Toit.
In sy reaksie op die briewe sê die moderamen hulle is jammer as die voorlegging die indruk gewek het dat die Bybel ondergeskik is aan die grondwet. Dit is nie wat die verslag wou sê nie.
“Oor die gay kwessie en gay verhoudings kon ons nie namens die kerk ’n standpunt inneem nie. ’n Besluit hieroor gaan eers by die volgende Algemene Sinode geneem word.” Die moderamen sê baie mense het verkeerdelik uit die verslag afgelei dat die voorlegging die staat aanmoedig om gay verbintenisse te wettig. Die NG Kerk staan by sy standpunt oor die Christelike huwelik.
Die moderamen sê drr Gerber en Du Toit het geensins buite hulle mandaat opgetree toe hulle die voorlegging gemaak het nie. Die twee amptenare se integriteit is ook nooit deur die moderamen bevraagteken nie. Die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) het geen direkte inspraak in die dokument gehad het nie en die moderatuur het volle verantwoordelikheid daarvoor geneem.
jean@tydskrifte.co.za