Kyk ook:
*******
Luister uit genade | Kerkbode
Kerkbode, 27 Oktober 2006
Die groot dag het aangebreek! Op Hervormingsondag word die Seisoen van Luister amptelik bekendgestel in die NG Kerk-gemeentes. Daar is die afgelope tyd besondere geesdrif vir die Seisoen van Luister opgewek. Gemeentes kan hulle nou met behulp van die literatuur wat spesiaal vir die Seisoen van Luister geskryf is in die luister na God en na mekaar verdiep, en dit rondom die Woord. Waar anders?
Die uitkoms waarvoor gebid moet word, is nie dat lidmate ’n nuwe Bybelstudietegniek moet aanleer nie, maar wel vier sentrale waardes hulle eie moet maak. Met dié waardes – leerbaarheid, deernis, vertroue en openheid – kan die kerk die nodige geloofwaardigheid aan die uitlewing van sy roeping gee.
Dit is ook gepas dat die proses op Hervormingsondag, begin. Was die Hervorming dan nie die gevolg van gelowiges wat opnuut gehoor het wat die Here sê nie?
Doen aan ander
Dat ons moet leer luister en eers ’n ander een se saak goed aanhoor voordat ons oordele vel, het duidelik geblyk uit die herrie rondom die NG Kerk se voorlegging ten opsigte van die beoogde huwelikswet. Die koerantopskrifte en plakkate teen die lamppale het ons lidmate omgekrap en vinnige afleidings laat maak wat nie die toets van die waarheid kan deurstaan nie. Vanweé die sensitiwiteit rondom die gaysaak is dit maklik om net emosioneel te luister en nie nugtere oordeel te gebruik nie. Of nog erger, om nie eers die tersaaklike dokumente te lees nie, maar slegs op koerantberigte te reageer.
’n Verduidelikende verklaring asook ’n begeleidende brief wat die NG Kerk se voorlegging verduidelik het en redelik lank voor die tyd op die kerkweb beskikbaar was, stel die NG Kerk-standpunt duidelik. Dit bevestig maar net weer waarom interne kommunikasie – tussen lidmate van die dieselfde kerk – so belangrik is. Ons moet ingelig bly oor wat gedoen word deur wie en waar en betyds ons kommentaar kan lewer.
In die debat oor die voorgestelde huwelikswet is dit belangrik om tussen kerk en staat te onderskei, veral waar die staat nie ’n godsdienstige voorkeur het nie en ’n inklusiewe demokrasie voorstaan waarin elke burger regte het. Die diversiteit van oortuigings in die land maak dit ’n moeilike proses om te bestuur en vra dat elkeen ook hier aan Jesus se goue reël moet dink: Doen aan ander soos wat jy wil hê hulle moet aan jou doen.
Ons staan ook op ons reg om huwelike binne ons geloofsoortuiging te hanteer. Nêrens mag die staat van die geloofsgemeenskappe eis om huwelike te bevestig wat bots met die gelowiges se oortuigings nie. Geen predikant moet verplig voel om teen sy eie oortuiging op te tree nie. Dis juis die waarde van ’n demokrasie – elkeen moet volgens sy oortuigings kan optree, maar ook ruimte laat vir iemand anders s’n.
Dat die kerk ’n standpunt oor gayverhoudings en moontlike “huwelike” moet hê, is óók waar en dat daardie getuienis gehoor moet word, is óók waar. Oor die NG Kerk se standpunt dat die huwelik ’n verbintenis tussen een man en vrou, is daar geen twyfel nie. Dit is ’n heilige instelling.
Oor die hele kwessie rondom gays praat die kerk weer op sy volgende Algemene Sinode en is die saak met die voorlegging ten opsigte van die huwelikswet na my beste wete, nie vooruitgeloop nie.
Verlos ons van die Bose
Dat die geweldsituasie die kerkgemeenskap intens raak, het duidelik geblyk op die konferensie wat onlangs in Kemptonpark gehou is. Die verteenwoordigende groep kerkleiers het ’n verklaring uitgereik (volledig beskikbaar op die webwerf). Vir die gelowiges is daadwerklike optrede van belang en ’n dringende gesprek met die president is ’n goeie begin. Die handevat met die sakesektor ook. Die kerk het egter die verdere taak om die bose uit te wys en by die naam te noem en die werklike redes vir die gebrek aan respek vir ander uit te wys.
Ons land soek profete wat op die openbare platvorm soos van ouds die kwaad sonder skroom of verskoning by die naam noem, maar ook die goeie nuus van ’n allesomvattende vrede in Christus verkondig.