NGK vra één wet vir gay- en heteroseksuele verbintenisse

*******

NGK vra één wet vir gay- en heteroseksuele verbintenisse | Kerkbode

Kerkbode, 27 Oktober 2006

Die NG Kerk aanvaar die noodsaaklikheid dat die Parlement wetgewing instel om voorsiening te maak vir permanente verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag, maar sê dit mag nie die kerk se beskouing van ’n huwelik bedreig nie.

Die NG Kerk het die Parlement aangemoedig om die, huidige Huwelikswet met die Grondwet te versoen sonder dat geloofsgemeenskappe se oortuigings van wat ‘n huwelik is in gedrang kom.

In sy voorlegging aan die Portefeuljekomitee van Binnelandse Sake oor die wysiging van die Huwelikswet, sê die NG Kerk daar behoort slegs een wet te wees wat permanente verbintenisse tussen alle mense reël. Die kerk sê enigiets wat egter die kernstruktuur van die Christen-huwelik bedreig, sal deur die gereformeerde kerke beskou word as ‘n ernstige bedreiging van hulle geloofsoortuigings. In ’n begeleidende brief wat die kerk se voorlegging aan die Parlement in perspektief plaas, skryf die algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, en dr Ben du Toit van die kerk se parlementêre lessenaar, daar moet onderskeid getref word tussen die wetgewende proses en ’n kerk se teologiese standpunt oor ’n saak wat voor ’n sinode dien.

Hulle sê dit is in die lig daarvan dat die voorgestelde Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse beoordeelmoet word.

Die NG Kerk sê in sy verduideliking dit is belangrik dat die kerk hom daarvoor beywer dat sake soos die gelyke regte van alle mense, godsdiensvryheid, vryheid van spraak en die beginsels van vrye assosiasie tot uitvoering gebring sal word.

Hulle sê die kerk moet die reg wat hy vir homself opeis ook vir ander gun, selfs vir mense van wie se oortuigings die kerk mag verskil.

Dit mag beteken dat die kerk hom sal beywer vir die gelyke regte van mense in ’n bepaalde situasie, ten spyte van die feit dat die kerk nie hulle standpunte teologies onderskryf nie, oor byvoorbeeld epskeiding.

Volgens die NG Kerk hoef toekomstige wetgewing wat voorsiening maak vir permanente verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag geensins ‘n bedreiging vir die Christelike huwelik in te hou nie. Volgens drr Gerber en Du Toit is so ’n vrees ongegrond omdat daar niks verander rondom die bepalinge van die Christelike huwelik nie.

Hulle sê die kerk bly die beskermer van die huwelik en dit is die kerk se verantwoordelikheid hoe die huwelik verstaan word. “As daar ’n bedreiging ten opsigte van die Christelike huwelik is, moet die kerk(e) aandag daaraan gee. Homoseksuele verbintenisse word in elk geval uitgeleef, of die kerk dit sou erken of nie,” het drr Du Toit en Gerber gesê.

– jean@tvdskrifte.co.za

Die NG Kerk se volledige voorlegging aan die parlement kan by www.ngkerk.org.za gelees word.

Kommentaar

Daniel Louw

Ben du Toit en Kobus Gerber se rede vir hierdie voorstel is blykbaar dat

daar onderskeid getref moet word tussen die wetgewende proses en ’n kerk se teologiese standpunt oor ’n saak.

Dit is nie waar nie. Beide hierdie twee mense is ten gunse van homoseksuele verhoudinge. Hulle het nie die kerk se belange op die hart gedra nie, maar bloot hulle persoonlike oortuigings bevorder.

Daar word gesê:

Homoseksuele verbintenisse word in elk geval uitgeleef

Presies! Laat homoseksueles dan so voortgaan. Dit is nie nodig dat die staat hierdie leefstyl erken as ‘n huwelik nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui