Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Aan:
Ds Douglas Stanley
Knysna Ringskriba
P/a George-Bergsig Gemeente
4de Straat
Loerie Park
George 6529
douglas@george-bergsig.co.za
Van:
Navrae: Ds Johan Conradie
Pelikaanlaan 9
Sedgefield
Sel: 084 628 2499
e-mail: pjmconradie@gmail.com
2 Februarie 2024
Geagte ds Stanley
Dispuut met NG Kerk Karatara
Hierdie skrywe is saamgestel deur ’n paar kerkraadslede en emeriti en word deur ’n aantal besorgde lidmate ondersteun wat op hulle eie versoek dit ook onderteken het.
Ons is diep besorg oor verwikkelinge in ons gemeente (Nederduitse Gereformerende gemeente Karatara). Die Algemene kerkraad het in 2020 besluit om te doleer. Hierdie besluit is geneem sonder om met die gemeentelede te konsulteer en sonder om die gemeente uit te nooi tot ’n openlike gesprek met die kerkraad. Nou wil dit voorkom of die kerkraad die gemeente se band met die Wes-Kaapland sinode gaan verbreek (of dit al gedoen het) en deel te wees van die sogenaamde “Koinonia sinode”. Ons gemeente se naam is alreeds op die lys van 54 gemeentes wat “aangesluit het” by die Koinonia sinode. Nie baie van die lidmate weet dit nie. Niks hiervan is met die gemeente gedeel voordat hierdie besluit geneem is nie. Ons is bekommerd oor hierdie beweging en wil dit stop.
Ons wil nie dat hierdie kerkraad, sonder die medewete van die meerderheid van gemeentelede, hulle kerkregtelike verband verander nie. Pogings om toegang te kry tot die besluite van die kerkraad, duur nou reeds 30 maande sonder dat dit beskikbaar gestel word.
1. Ons het hier te doen met ’n disfunksionele kerkraad wat skynbaar glo (implisiet) maar ook uitdruklik dit sê dat hulle alleen die wil van God verstaan en toepas. Vir hulle is die konsulteer van die gemeentelede onnodig omdat hulle geroep is om nie na die stem (wil) van lidmate te luister nie maar alleenlik na die Bybel te luister en vra wat “God se wil” is. Verskeie uitsprake van die voorsitter van die kerkraad en ook die leraar is uiters kommerwekkend. Byvoorbeeld “ons volg nie die kerkorde nie, maar die leiding van die Hellige Gees”. Daar is ook ’n botsing van belange (Reglement 9.2.4) by die kerkraadsvoorsitter en skriba met familiebande in die eerste graad (2.4.1.1) asook op grond van persoonlike oortuiging (2.4.1.4.). Hierdie oortreding van die kerkorde is al reeds van te vore deur kerkraadslede aan hulle uitgewys maar hulle het nogtans besluit om voort te gaan ten spyte van die botsende belange.
2. Die kommunikasie met die gemeente is selektief. Op die internetblad van die gemeente word die nuutste dokumentasie van die Koinonia/Kairos groep gedeel met al die verdagmakery, beskuldigings van dwaalleerstellings en dat die NG kerk ’n valse kerk is wat die Woord van God nie meer suiwer verkondig nie. Die onlangse Herderlike Brief van die moderator word egter nie met die gemeente gedeel nie. Daar is nie werklik ’n geleentheid vir ’n gesprek oor die beskuldigings nie. Hierdie saak is al vir ’n geruime tyd op die agenda van die Kerkraad en word eensydig verder gevoer sonder die medewete van die volle omvang en implikasies daarvan van vele lidmate van die gemeente. Daar is geen deursigtigheid van die beplanning hieroor van die kerkraad se kant af nie.
3. Ons was geskok om te hoor van ’n onlangse (14 Augustus 2023) ringsbesoek wat bevind het dat dit baie goed gaan in die gemeente. Tydens die ringsbesoek aan die dagbestuur (wat Ds Coetzee insluit), het die dagbestuur na ons wete versuim om ’n ware verslag aan die ringskommissie te doen. Die dagbestuur het versuim om die Skrif se opdrag tot geregtigheid en betroubaarheid te handhaaf (Matt 23:23). Dit is duidelik uit die ringskommissie se verslag (gedateer 12 Oktober 2023) dat die dagbestuur ’n doelbewuste eensydige en misleidende verslag aan die ringskommissie: voorgedra het, naamlik dat dit baie goed gaan in die gemeente. ’n Halwe waarheld is ’n vorm van misleiding. Geregtigheid en betroubaarheid veronderstel ’n objektiewe, opregte hantering van feite / gegewens / vertoë.
IN WERKLIKHEID was die leraar en ander lede van die dagbestuur tydens die ringsbesoek deeglik bewus van die volgende sake wat nie aan die ringskommissie openbaar is nie:
- Dat verskeie lidmate, insluitend algemeen bekendes, nie meer die eredienste bywoon nie
- Dat daar lidmate is wat elders eredienste bywoon.
- Dat dolering diep verdeling in die gemeente veroorsaak en beslis nie tot nuwe groei gelei het nie.
- Dat verskeie lidmate alreeds hul diepe kommer hieroor uitgespreek het en dit op dowe ore geval het en dit afgemaak is as niks.
Desnieteenstaande kom baie besorgde lidmate hul gemeente pligte na (erediensbywoning, bydraes) ONDANKS ontevredenheid oor die leraar en gebeure in die gemeente.
4. Klag teen Ds Marius Coetzee: By ’n mondelinge versoek aan die leraar om die gemeente in te lig oor die plan om by die Koinonia groep aan te sluit en oor die wegbreek aktiwiteite van die kerkraad en ook om hulle opinie te vra, was sy antwoord dat dit tot skeuring sal lei. Persoonlike versoeke dat ’n gespreksgeleentheid gereël word waar lidmate ook kan sê of dit aanvaarbaar is dat ons gemeente van die Wes-Kaapland sinode losgemaak word, het nog nie tot iets konkreets gelei nie. Pogings, van ons kant, om die saak met die leraar en ander kerkraadslede te bespreek het gelei tot onaangename beskuldigings en verdagmakery.
5. Op 29 Januarie 2022 is aan mnr Pieter le Roux van Creation Ministries ’n “preekbeurt” gegee. Gedurende die diens is lyste rondgestuur om op hulle poslys te kom en hulle literatuur daaroor te ontvang. Deur die persoon op die kansel toe te laat maak Ds Coetzee skuldig aan die bekendstelling en bevordering van ’n dwaalleer in die gemeente. Die leerstuk “kreasionisme” is volgens die Kerkorde van die NG Kerk ’n dwaalleer. (Sien Reglement 22 vir Tug en vermaning. 5.1 Wes-Kaapland KO). Die Youtube van hierdie diens is nog steeds op die gemeente se webbiad. Dit handel ook tot ’n groot mate oor hoe die Bybel gelees moet word. In gesprekke met ds. Coetzee het hy laat blyk dat hy tot ’n groot mate saamstem met kreasionisme.
6. By die kerkraadsvergadering na die jongste sitting van die Wes-Kaapland sinode het ds Coetzee berig dat dit uiters onaangenaam was en dat die byeenkoms van die Koinonia groep daarna wonderlik was. Die verskeie negatiewe uitsprake vanaf die kansel oor die NG Kerk en die kweekskole vind ons ook onaanvaarbaar.
7. Afsprake vir Tuisbesoeke deur ds Coetzee word vooraf deur ’n dame in die kerkkantoor gemaak. ’n Toenemende aantal lidmate wil hom nie ontvang nie en weier die besoek. Daar is blykbaar al ’n lys van lidmate wat nie meer in die toekoms gebel sal word oor moontlike besoeke nie. So kan ’n gemeente tog nie tot heil gedien word nie. Indien die leraar onwelkom is, sou dit tog immers die Kerkraad se plig wees om ’n gesprek daaroor te voer of ’n navraag te doen om versoening te bewerk. Ons vermoed dat hierdie reeds ’n lang lys is en steeds groei.
Ten slotte: Tot dusver het ons (ondergetekendes) in lojalitelt teenoor die gemeente ons nie openlik uitgespreek of iets probeer organiseer nie, Ons is ook daarvan bewus dat die NG Gemeente Karatara in sy geskiedenis reeds deur buitengewone trauma gegaan het. Ons sou nie graag tot die trauma wou byvoeg nie, maar ons kan nie niks doen nie.
Dit wil ons egter voorkom of die beweging weg van dle Wes-Kaapland sinode in die rigting van Koinonia ongestoord voortgaan. Voor hulle die band verbreek moet hulle gestop word! Ons wil nie deel word van hierdie Koinonia protesgroep nie. Ons wil ook nie gedwing word om te bedank om in die Ned Geref kerk (Wes-Kaapland) sinodale verband te bly nie, Ons kan nie anders as om bogenoemde sake dringend onder die aandag van die Ring te bring vir ondersoek en optrede.
Hierdie is ’n spoedeisende aangeleentheid! Die hele saak is vir ons uiters pynlik. Maar in nederige afhanklikheid van ons Verlosser en Heer Jesus Christus glo ons dat ons hiertoe geroepe is.
Ons stuur ook ’n kopie van hierdie brief aan die kerkraad.
Ondertekenaars:
- Mnr Wimpie Erasmus (Ouderling Arealeier)
- Mnr Barry Gerber (Ouderling)
- Mnr David Wandrag (Ouderling Arealeier)
- Ds P Johan Conradie
- Dr (ds) Jan de Jongh van Arkel
- Ds Herman Retief
- Mev Judy Conradie
- Mnr Lukas Beukes
- Mev Ronel Beukes
- Mev Martie de Jongh van Arkel
- Mev Tina Erasmus
- Prof Wynand Dreyer
- Mev Retha Dreyer
- Mnr Jan Engelbrecht
- Dr Hugo Lombard
- Dr Joan Lombard
- Gottfried Pretorius
- Mattie Pretorius
- Mnr Danie Olivier
- Mev Susan Olivier
Kommentaar
Daniel Louw (12 Junie 2026)
Hierdie skrywe het op die ou einde daartoe gelei dat die Ring vir Ds Marius Coetzee gestroop het van sy legitimasie. Ds Marius Coetzee was daarop genoop om sy saak in die hof te beveg en ‘n hofuitspraak op 2 Junie 2026 het beveel dat sy legitimasie herstel word.
Let daarop dat hier 20 ondertekenaars deel was van slegs 32 lidmate uit 700 wat op die ou einde beswaar gemaak het oor Ds Marius Coetzee.
Ds Johan Conradie en Ds Herman Retief is afgetrede predikante en lidmate van die gemeente. Dr (ds) Jan de Jongh van Arkel se legitimasie is in 2006 opgehef.
Behoudendes word kronies beskuldig van verdagmakery wanneer die dwaling in die NG Kerk uitgewys word. Gaan kyk maar self na die feite:
Dit is nuus vir my dat “kreasionisme” amptelik as ‘n dwaalleer in die NG Kerk gesien word. In ‘n telefoniese gesprek met Ds Johan Conradie (op 13 Jun 2026) het hy gesê dat kreasionisme wel op ‘n stadium as ‘n dwaalleer gesien is, maar dat dit later geskrap is. Hy kon my egter nie die stawende dokumente hiervoor gee nie. Ek kon dit ook nêrens op die internet kry nie.
Volgens hom het hulle nie weer hierdie argument gebruik nie omdat dit geskrap.
Nou wonder ek of hierdie ondertekenaars sal saamstem dat die volgende ook dwaalleer is:
- Alternatiewe sieninge oor Jesus se opstanding, maagdelike verwekking, wonderwerke
- Ontkenning van die bestaan van die duiwel
- Saamwoonverhoudings is nie sonde nie
Dit is maar net ‘n paar.
Dit is uiters ironies dat hulle hul brief afsluit met:
Maar in nederige afhanklikheid van ons Verlosser en Heer Jesus Christus glo ons dat ons hiertoe geroepe is.
En dan word al die huidige dwaalleer in die NG Kerk geduld.