50 rebelleer teen NGK se loerdery onder die laken

Kyk ook:

Dit is nie die eerste keer dat Fourie Rossouw ’n openlike progay stelling inneem nie. Kyk Doop van 2 vroue se kind help genees.

Let ook op die gemeentes wat gesê het dat hulle gay-vriendelik is:

  • Brackenfell
  • Elarduspark
  • Fontainebleau-Gemeenskapskerk
  • Groote Kerk, Kaapstad
  • Pinelands
  • Rietfontein-Noord
  • Stellenbosch- Moedergemeente
  • Stellenbosch-Welgelegen
  • Stellenbosch-Wes
  • Gordonsbaai
  • Uitsig in Bloemfontein
  • Waterval en Wierdapark

***********

50 rebelleer teen NGK se loerdery onder die laken

Deur Jean Oosthuizen 27 November 2016

Ds. Fourie Rossouw wil weet of die sinode ’n definisie gegee het rakende die seksuele omgang wat slegs in ’n huwelik hoort.

Meer as 50 predikante en proponente van die NG Kerk het hulle in die openbaar skriftelik bereid verklaar om verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag kerklik te seën.

Dit is in weerwil van die kerk se amptelike besluit dat hulle dit nie mag doen nie.

Die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg, sê in ’n video waarin hy die algemene sinode se besluit verduidelik onomwonde gemeentes mag nie erkenning gee aan sulke verhoudings nie.

In die video wat ook op die Kerkbode se webwerf verskyn, sê Van Rensburg onder meer ook gemeentes kan self besluit hoe hulle die sinode se besluit gaan vertolk.

Dit het verskeie vrae onder predikante en lidmate laat ontstaan.

Volgens Van Rensburg se verduideliking het gemeentes die ruimte om “onderskeidend” om te gaan met die afgelope sinodebesluit van die NG Kerk as “die Gees” die gemeente nie oortuig het van iets wat die sinode besluit het nie.

Hy voeg egter by daar is géén ruimte vir seksualiteit buite die huwelik nie.

“Dit is die kern van die afgelope sinode se besluit.”

Volgens Van Rensburg volg dit net logies dat daar nie erkenning gegee kan word aan homoseksuele verhoudings nie en dat predikante dit ook nie kan erken, legitimeer of bevestig nie.

Gemeentes mag ook slegs ’n gay predikant aanstel as hy geen seksuele omgang het nie.

“Wanneer ’n gemeente bewus is dat ’n dominee ’n seksuele verhouding van watter aard ook al buite die huwelik het, sluit dit hom uit om ’n dominee van die NG Kerk te wees.”

Predikante wat daarteen rebelleer, sluit gemeentedominees, proponente, beroepbare predikante en ook afgetrede dominees van oor die hele land in.

Hulle het hul name en kontakbesonderhede op die Facebookgroep Liefde is liefde is liefde bekend gemaak.

Verskeie kerkraadslede en lidmate het ook reeds die verklaring onderskryf en nuwe name word steeds bygevoeg.

Kerkbode se redakteur, Neels Jackson, het aangedui dat hy die lys name ook in die kerk se amptelike koerant sal publiseer.

Die groep leraars en lidmate sê hulle aanvaar alle seksualiteit as ’n gawe van God en weier om langer deel te wees van ’n debat oor die gay gemeenskap.

“Daar is geen rede vir debatte, onderskeid, diskriminasie, seermaak, oordeel of kategorisering nie. Die aanhoudende debatte is ’n bron van aanstoot wat die LGBTIQA+ gemeenskap net verder verkleineer en objektiveer en hul gevoel van verwerping net vererger,” lui die verklaring wat hulle onderskryf het.

Een van die predikante wat sy naam by die lys gevoeg het en op Van Rensburg se video gereageer het, ds. Fourie Rossouw van die NG gemeente Weltevreden, wil weet of die sinode ’n definisie gegee het rakende die seksuele omgang wat slegs in ’n huwelik hoort.

“Wat behels dit?” vra Rossouw in ’n inskrywing wat hy op die groep se Facebook-blad geplaas het. “Koïtus? Orale seks? Wedersydse masturbasie? Is ons nou waaragtig weer terug by die vraag: Hoe ver is te ver?”

“Hoe bepaal die kerk wat seksuele omgang is? Mag ’n gay man sy liefdesmaat soen? Met tong? Is seksuele omgang tussen twee vroue dieselfde as seksuele omgang tussen twee mans?”

Hy wil ook weet wat behels seksuele omgang in heteroseksuele verhoudings. “Wat van die duisende getroue NGK-lidmate wat saamwoon? Is hulle verhoudings dan nou ewe skielik weer sonde?”

Hy sê as hy al ooit tydens ’n video wou uitroep “BS!”, dan is dit met hierdie een waarin Van Rensburg die sinode se besluit oor homoseksualiteit verduidelik.

Volgens Van Rensburg is daar duisende gay lidmate in die NG Kerk waarvan baie in ’n verhouding is.

En daar is nie een tugsaak teen enige gay lidmaat van die NG Kerk of teen ’n gay lidmaat wat in ’n verhouding is nie.

Gemeentes wie se kerkrade reeds aangedui het dat hulle as sogenaamde gay-vriendelike gemeentes bekend staan, sluit in Brackenfell, Elarduspark, Fontainebleau-Gemeenskapskerk, Groote Kerk, Kaapstad, Pinelands, Rietfontein-Noord, Stellenbosch- Moedergemeente, Stellenbosch-Welgelegen, Stellenbosch-Wes, Gordonsbaai, Uitsig in Bloemfontein, Waterval en Wierdapark.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui