Ds. Cassie kolf vir die Doppers teen Tim se goëlballe

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Ds. Cassie kolf vir die Doppers teen Tim se goëlballe | Rapport

Cassie Aucamp

Rapport, 5 Maart 2023

Die Gereformeerde Kerk kolf nog altyd hoër op in die kolflys as wat sy getalle regverdig, skryf Cassie Aucamp in ’n ope brief aan Tim du Plessis.

Beste Tim

Toe ek die opskrif van jou rubriek verlede week sien (“Klein kerk waarop ek eens trots was”) het ek onmiddellik geweet: Jy praat van ons – die Gereformeerde Kerk.

In ons heel eerste ontmoeting in jou kantoor – jy pas aangestel as redakteur van Rapport en ek pas ’n parlementslid – het jy dadelik met ’n mate van trots vertel dat jy ook ’n Dopper is. Ook dat ds. Alwyn jou oom was. Ek onthou dit nog baie goed.

Nou lyk dit tog vir my uit jou artikel of daar vervreemding ingetree het. Of jou moontlik soms geregverdigde kritiek teen die Gereformeerde Kerk nie soos NP van Wyk Louw se “lojale verset” is nie, maar tog iets van buite, nou so op ’n afstand.

Dit sê jy eintlik self, reg aan die begin van jou artikel: “Ek kom nie meer in die kerk nie . . .”

Dan gaan jy voort: “Soos altyd wanneer die Gereformeerde Kerk in die nuus is, het ek die berigte oor die afgelope nasionale sinode noukeurig gelees.”

Ek dink dit moet moeilik wees.

Om eintlik self ’n “Dopper” te wees, maar tog ook nie.

Want jy staan van buite en kyk. Sonder om in die hartklop van die kerk te staan – daar waar, ten spyte van ons foute, die Woord van die Here elke Sondag getrou en gesagvol verkondig word, juis omdat ons steeds erns probeer maak van wat Paulus aan die Tessalonisense skryf “nie mensewoord nie, maar, soos dit waarlik is, die Woord van God”.

Daar waar jy die onderlinge dinamiek van die kerk beleef, ook waar ons onder mekaar verskil.

Dan voel jy miskien die Gereformeerde Kerk het bly vassteek in dinge wat nie regtig saakmaak nie. “Wine, women and song” noem ek dit dikwels. (Verskille oor die nagmaalsbeker, die vrou in die amp en die liedere wat in die kerke gesing word.)

Ek deel jou frustrasie, want ek glo eerlik dat dinge wat op die omtrek lê dikwels die tyd en die energie opneem wat ons moes bestee aan “die dinge waarop dit werklik aankom”, soos Paulus aan die Filippense skryf. Dan mag jy dalk dink ons het agter geraak.

Tog is daar een oënskynlik geringe naam-foutjie in jou skrywe wat ons nie moet miskyk nie. Jy praat van die “nasionale sinode” wat pas verby is.

Dit was die “Nasionale Sinode” toe dit net bestaan het uit die bykans 300 kerke onder wit mense. In 2009 het dit die “Algemene Sinode” geword, waarby al ons kerke onder al die bevolkingsgroepe verteenwoordig is. Dit maak ons die enigste kerk in die Afrikaanse Gereformeerde tradisie in Suid-Afrika waar wit en swart een kerkverband vorm.

Dit laat my ook wonder oor ’n ander afleiding in jou skrywe.

Jy skryf: “Anders as die NGK, wat ernstig begin worstel het met van die vraagstukke . . . het die GK voortgegaan asof niks verander het nie . . . en in die proses het die GK gekrimp in statuur.”

Ja, ek glo ook die stryd oor, byvoorbeeld, die vrou in die amp resoneer nie sterk by die wêreld daarbuite nie, maar “krimp in statuur” is hoegenaamd nie ’n alleenprobleem by die Doppers nie. Die ander kerke ervaar dit nog erger as ons. Miskien is die “krimp in statuur” eerder te wyte aan die postmoderne dieet van ons tyd waar daar nie meer aptyt is vir gesag en die gesamentlike binding aan iets buite jouself as individu, soos die Woord self en die gesamentlike buig voor die Woord nie.

Jy praat met reg van die “Stem van Potchefstroom” wat stil geword het. Ek onthou toe die eertydse premier adv. BJ Vorster in 1977 die standbeeld van Totius daar neffens die Mooirivier onthul het, het hy ook gepraat van die Stem van Potchefstroom wat stil geword het.

Ja, ek moet jou gelyk gee, ons hoor nie meer daardie stem soos in die verlede nie. Miskien is dit ook omdat Potchefstroom nie werklik meer die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) is met die leuse “In U lig sien ons die lig” nie, en die dosente by verskillende fakulteite aan ’n groter mate van neutraliteit gebind is.

Maar dit beteken nie dat die Gereformeerde Kerk, soos jy skryf, nie meer invloed het nie. Dalk het die Stem van Potchefstroom nou geword die Daad van Pretoria, met Gereformeerdes soos Flip Buys, Dirk Hermann, Willie Spies en Hannes Noëth wat juis op die grondslag van “In U Lig” vandag se pioniers is in die totaal nuwe paradigma van gemeenskappe wat die staat se “alles doen” verruil het vir die “self doen”. Of ds. Rodney van Wyk van die Kaapse Vlakte wat nou die uitvoerende hoof van die SA Bybelgenootskap is. Ek dink steeds ons kolf hoër op die kolflys as wat ons getalle regverdig.

Ja, Tim, van jou kritiek is geregverdig en ons moet daarna luister. Maar kom staan weer soos van ouds binne die hartklop van hierdie kerk, beleef die dinamiek van dit wat ons laat “tiek” en soms laat struikel. Miskien sal jy nie weer die “trots” soos van ouds beleef nie, maar tog ’n begrip kry vir wat gebroke kinders van die Here in ’n veranderde, gebroke wêreld doen.

En dankie dat jy hierdie “klein kerkie” in die kollig geplaas het. Ons kan net baat vind daarby om te sien hoe ander ons soms sien. Maar jy is nie die “ander” nie, jy is deel van ons. Daarom sal ek graag ook eersdaags vir een van Die Kerkblad se diepte-gespreksartikels by jou wil kom kuier, dan gesels ons verder.

Jou waarderende vriend,

Cassie

  • Ds. Cassie Aucamp is die redakteur van Die Kerkblad .

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui