Twee Afrikaner-helde, twee verskillende benaderings

Kyk ook:

 

*******

Twee Afrikaner-helde, twee verskillende benaderings | Netwerk24

Frits Gaum

19 November 2022

Dis vandeesmaand 28 jaar sedert prof. Johan Heyns in sy huis in Pretoria in ’n sluipmoordaanval vermoor is. Frits Gaum bekyk Heyns se nalatenskap en hoe dit vergelyk met dié van dr. Beyers Naudé.

Beyers Naudé en Johan Heyns was prominente Afrikaanse kerkmanne in die laat 20ste eeu en het verskillende roetes gevolg om die kerk en die samelewing se siening van die destydse beleid van apartheid te verander – die een “van buite”, die ander “van binne”.

Albei het verwerping in eie geledere geken. En albei het ’n aandeel gehad in die vorming van die “nuwe” Suid-Afrika.

Onlangs, met die opvoering van ’n stuk oor Naudé tydens die Woordfees en Aardklop, is hy deur ’n resensent bestempel as ’n held op wie Afrikaners trots kan wees. Tydens sy lewe het die meeste Afrikaners egter gevoel dat hy sy rug op hulle gedraai het en ook hul rug op hom gedraai. Oor Heyns was die gevoelens ambivalent. Hy is oor sy sieninge en optrede deur baie Afrikaners hoog geag, en deur ander skerp gekritiseer.

Afrikaner-Broederbond

Christiaan Frederik Beyers Naudé (1915-2004), vernoem na ’n Boere-generaal, was ’n voorloper in die NG Kerk – hy was die moderator van streeksinodes voordat hy as gevolg van sy verwerping van apartheid uit die kerk bedank en lidmaat van die NG Kerk in Afrika (die “swart” NG Kerk) geword het.

Hy het aan die kant van die struggle gestaan, al het hy geweet dit sal vir hom en sy gesin bitter trane veroorsaak. Sy pa was ’n stigterslid van die Afrikaner-Broederbond (AB), en Beyers was ook lank lid van dié organisasie totdat hy vertroulike AB-stukke aan ’n vriend gegee het wat dit op sy beurt aan die Sunday Times gelek het. Hoewel baie Afrikaners gemengde gevoelens oor die AB gehad het, het Naudé se optrede hom verder van sy volksgenote vervreem.

Die Christelike Instituut, waarvan hy die dryfkrag was, het mettertyd al hoe skerper in hul kritiek op die regeringsbeleid geword. Die instituut se lyfblad, Pro Veriate, het later artikels begin plaas wat as Marxisties beskou is en die publikasie is uiteindelik verbied. Naudé is in ’n stadium vir sewe jaar lank onder huisarres geplaas.

Johan Adam Heyns (1918-1994), wat op 5 November 28 jaar gelede in sy huis vermoor is, het ’n ander roete gevolg. Hy was, nes Naudé, ’n predikant van die NG Kerk en moderator van sinodes (ook van die rigtinggewende algemene sinode van 1986).

Hy was ’n professor in teologie aan die Universiteit van Pretoria en in ’n stadium voorsitter van die FAK en ondervoorsitter van die AB. Heyns was ’n teoloog van formaat en die skrywer van ’n groot aantal teologiese boeke waarvoor hy drie keer die Andrew Murrayprys ontvang het. Hy het ’n lojaal-kritiese lidmaat van die NG Kerk gebly en die kerk “van binne af” probeer verander. So het hy ’n groot rol gespeel in die opstel van die 1986- en 1990-beleidstuk “Kerk en samelewing” waarin die NG Kerk die eerste keer ondubbelsinnig van apartheid afskeid geneem het. Dit het gelei tot ’n skeuring in die NG Kerk en die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk.

Daar was ook ’n heftige botsing op ’n vergadering tussen Heyns en Andries Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party en voorheen assessor (ondervoorsitter) van die algemene sinode. Treurnicht het daarop aangedring dat die kerk die beleidstuk moet terugtrek en het die vergadering summier verlaat toe Heyns en sy kollegas nie wou toegee nie.

In ’n ander verband was dit ook Heyns wat deurslaggewend daarvoor gepleit het dat vroue predikant moet kan word.

ANC en PW Botha

Terwyl Naudé onder huisarres was, het die NG Kerk nooit amptelik probeer om dit opgehef te kry nie. Daar is gevoel dat hy met kommuniste heul en die gewapende stryd steun en dat die kerk nie by sy doen en late betrokke kon raak nie.

Dit is so dat Naudé hom nie onomwonde van die gewapende stryd as deel van die struggle gedistansieer het nie en dat hy hom ook nie sterk teen kommunisme uitgespreek het nie. Vir sommige mense was dit moeilik om te verstaan waarom hy apartheid ondubbelsinnig verwerp, maar nie dieselfde doen met kommunisme en die geweld van die struggle nie.

Na die opheffing van sy huisarres het hy vir Desmond Tutu opgevolg as die algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK).

Die SARK het geld uit die buiteland na apartheidslagoffers gekanaliseer en dit het meegebring dat Naudé hom dikwels in moeilike en gevaarlike situasies bevind het.

Hoewel Naudé nie ’n lid van die ANC geword het nie, is hy in dié party se kringe hoog geag en was hy selfs deel van die ANC-afvaardiging na hul eerste ontmoeting in die vroeë 1990’s met die NP-regering by Groote Schuur.

Heyns, aan die ander kant, het hom teen die onreg van apartheid uitgespreek en hy was ’n voorstander van die hervorming van die staatsbestel, maar hy het ook probeer om ’n goeie verhouding met die destydse Nasionale Party-regering te behou. So is sy verklaring waarin hy hom (aanvanklik) gedistansieer het van die Kerkbode se kritiek op die “feitlik permanente teenwoordigheid” van Suid-Afrika se magte in Angola, byvoorbeeld deur die departement van verdediging uitgereik.

Heyns het die Dekorasie vir Voortreflike Diens (Goudklas) in 1988 van die staatspresident PW Botha ontvang. Hy het sy invloed in kerklike en regeringskringe doelbewus gebruik om vir versoening en die verwydering van onreg in die samelewing te pleit. By ’n sinodesitting het hy gevra dat die kerk moet ophou om oor randsake – soos die kinder- of volwasse-doop – te stry, en die doopwater eerder moet gebruik om stene te maak en huise vir dakloses te bou! Aan die begin van die veelparty-onderhandelinge vir ’n nuwe grondwet (Kodesa) in 1991, het Heyns as Christen saam met mense van ander gelowe ’n gebed gedoen.

Terwyl Naudé se verhouding met die meeste Afrikaners sleg was, het sy invloed “na buite” al hoe meer geword. Hy is in struggle-kringe vertrou en het selfs toe hy in huisarres was bygedra tot die oortuiging by swart leiers dat hulle oorwinning op hande is.

Heyns het baie minder invloed buite die Afrikaanse gemeenskap gehad, maar “na binne” gewerk en die NG Kerk en regeringslui die onreg van apartheid al hoe beter laat verstaan. Sy aandeel aan “Kerk en samelewing” is daarvan die beste bewys.

Hand van vriendskap

Naudé het verwerping geken, maar so ook Heyns. Hy is uiteindelik nie eens as ’n sekundus-lid van die destydse algemene sinodale kommissie, wat tussen sinodesittings namens die algemene sinode optree, gekies nie.

Met die sogenaamde “Sinode van versoening” in Oktober 1994 het Naudé en Heyns die laaste keer in die openbaar met mekaar te doen gehad. Pres. Nelson Mandela was by daardie sinode die eerste staatshoof ooit wat ’n vergadering van die NG Kerk toegespreek het. Hy het dit in Afrikaans gedoen en die NG Kerk sterk aangespreek oor hul vroeëre ondersteuning van apartheid, maar die kerkleiding ook geloof vir hul rol in die oorgang na ’n nuwe bedeling.

Dit was ook die sinode waartydens moderator, Freek Swanepoel, vir prof. Ben Marais (wat die sinode in ’n rolstoel besoek het) en Naudé (wat ook ’n verrassende besoek aan die sinode gebring het) om verskoning gevra het dat die NG Kerk deur die jare nié na hul waarskuwende stemme oor die kerk se steun vir apartheid geluister het nie.

Die algemene sinode het aan sowel Marais as Naudé ’n staande applous gegee. Heyns, ’n afgevaardigde na die sinode, was die eerste om op te staan en vir Naudé hande te klap, gevolg deur verreweg die grootste deel van die sinode. Almal het egter nie met Naudé se besoek genoeë geneem nie en ’n klein groepie het, net nadat die sinode afgesluit het, die moderatuur met hul besware gekonfronteer.

Heyns is kort daarna, vroeg in November, deur ’n sluipskutter in sy woonkamer by sy vrou en kleinkinders in ’n nog altyd onopgeloste moord doodgeskiet. Hy was 76. Daar is bespiegel dat hy deur ’n verregse persoon vermoor is wat hom en sy aandeel aan die nuwe Suid-Afrika tot niet wou maak. Naudé is nege jaar later, toe hy 88 was, oorlede.

In hul nalatenskap kan tereg gevra word of dié twee Afrikaner-helde is – een “van buite” en een “van binne”.

• Dr. Gaum was destyds die skriba van die “Sinode van versoening”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui