Teologiese opleiding vra deeglike en eerlike ondersoek

Smuts Janse van Rensburg het die volgende aan Kerkbode geskryf, maar dit is nie geplaas nie.

*******

Teologiese opleiding vra deeglike en eerlike ondersoek

Smuts Janse van Rensburg

16 Mei 2022

Dis ‘n gegewe: Die gesprek oor teologiese opleiding in die NGK is op die tafel. Sinodes, predikante, lidmate, teologiese studente en Kairos Netwerk (netwerk van treurendes oor die toestand in die NGK) praat daaroor. Om die stemme van besorgdes onder die mat in te vee, sommer net liggies te hanteer of verdag te maak, dien nie die heil van die kerk en die eer van God nie. So ook nie om uit te roep “Alles is reg! Alles is reg!” terwyl niks reg is nie (Jer 8:11).

Die NGK kan ‘n les leer uit die politieke domein. In die tyd van die Zuma bewind is talle besware en bekommernisse oor wanpraktyke, wanbestuur, korrupsie, ens. doodgevee, geïgnoreer, liggies hanteer en verdag gemaak. Heersende wanpraktyke is met alle mag verdedig. Die ergste is dat parlementêre komitees hulle primêre funksie, naamlik deeglike oorsig, geheel en al versaak het.

Die vraag op die tafel is eintlik dood eenvoudig: Dien teologiese opleiding sy doel, naamlik om voornemende bedienaars van die Woord op te bou in die geloof, in kennis van die Bybel as Woord van God en in ooreenstemming met die gereformeerde belydenisskrifte, en rus dit hulle toe om as bedienaars van die Woord in gemeentes diensbaar te wees tot eer van God, heil van die kerk en uitbreiding van sy koninkryk? Kuratoria moet nie die status quo in goedertrou verdedig nie, maar moet teologiese fakulteite se funksie en beleid (sien o.a. hul webtuistes) en kurrikulum van opleiding eerlik onder die vergrootglas plaas, terwyl dosente se leer en lewe deeglik aan kerklike opsig en tug onderwerp moet word. Soos in die geval van parlementêre komitees, dra die kuratoria wat toesig hou oor teologiese opleiding, ‘n geweldige groot verantwoordelikheid. In laasgenoemde geval moet daar aan die Algemene Sinode, nee, meer nog, aan God verslag gedoen word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui