Tafelberg gemeente neem standpunt in teenoor Stellenberg

Tafelberggemeete het die volgende standpunt gepubliseer na aanleiding van die bevestiging van Philipp Dietmann, ’n gay man getroud met Floris Hanekom.

****************

Tafelberg gemeente se standpunt binne die NG Kerk

Teen die agtergrond van die algemene teologiese en kerklike verval binne die NG Kerk en spesifiek na aanleiding van die onlangse gebeure by NG Stellenberg waar ’n man – wat met ’n ander man “getroud” is – as leraar bevestig is, het die kerkraad onderstaande verklaring uitgereik. Dit is ons erns om hiermee die kerkverband op te roep tot bekering en terugkeer na die waarheid van die Skrif en ook die gemeente Tafelberg te vra om vir NG Stellenberg (en ander gemeentes en leraars van dieselfde oortuigings) te bid.

STANDPUNT VAN TAFELBERG NG GEMEENTE – soos goedgekeur deur die kerkraad op 21 Julie 2019

Die kerkraad en gemeente is van mening dat die vrysinnige klimaat binne die NG Kerk baie wydlopend is en verskillende aspekte van die kerklike lewe en praktyk raak. Moontlike vrysinnigheid sou in vele aspekte van die kerklike lewe en denke geïdentifiseer kon word sodat ’n poging om elke afsonderlike situasie aan te spreek, altyd mank sal gaan aan onvolledigheid.

Derhalwe is die gemeente van oortuiging dat vrysinnigheid slegs manifesteer waar die gesag van die Bybel as Woord van God in gedrang kom – en veral waar die Bybel nie meer beskou word as God se gesaghebbende Woord aan die mens nie, maar as bloot mense se nadenke oor God. Daarom is die opskrif van hierdie verklaring dienooreenkomstig geformuleer.

WAT IS DIE KERK?

Opvallend kom die woord kerk nie in die Bybel voor nie, maar word die Griekse woord “ekklesia” – hulle wat uitgeroep is – met “kerk” vertaal. Ekklesia beklemtoon dat God self mense uitgeroep of uitverkies het om deel te wees van ’n versameling mense wat Hy deur sy Seun Jesus Christus verlos het. Dit wys op die geestelike bestuurswyse van die kerk waar die HERE self deur sy Woord en Gees sy kerk regeer. Die eenheid van die kerk word slegs bewaar as almal, as lede van dieselfde liggaam, hulle onderwerp aan die leer en tug van God se Woord.

Enige vorm van vrysinnigheid, wat die standpunte van mense verhef bo die gesag van die Woord, skaad die eenheid van die liggaam van Christus. Dit is daarom noodsaaklik dat die kerk as die liggaam van Christus sy standpunte en praktyke gedurig sal toets aan die Woord van God en voortdurend sal reformeer – dit is: terugbring na die Woord van God.

Juis om die eenheid van die liggaam van Christus te bewaar, het die NG Kerk – soos ook talle ander kerke van gereformeerde belydenis – hom verbind tot die instemming en uitlewing van die beginsels verwoord in Die Drie Formuliere van Eenheid. Die N.G. Kerk Tafelberg bly steeds in sy belydenis van die wese van die kerk verbind aan die onderskrywing van vraag en antwoord 54 van Die Heidelbergse Kategismus :

Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan ’n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i). (a)Ef 5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-13. (d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21; 1 Kor 11:26. (g) Mat 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2 Kor 13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.

DIE WARE KERK SE ROEPING IN DIE WÊRELD EN BINNE DIE EIE KERKVERBAND

Dit is duidelik uit die Skrif dat daar deur die eeue heen, vanweë die gebrokenheid van die menslike natuur, valse leerstellings (1 Tim 1:3-4), onsedelikheid (1 Kor 5:1-5), egbreuk, homoseksualiteit, dronkenskap, kwaadpratery, geldgierigheid en bedrog (1 Kor 6:9-11), slegte begeertes (Kol 3:5-10), losbandigheid (Ef 4:17-19), vals leraars (2 Kor 11:13-15) ensovoorts in die kerk van die HERE voorgekom het.

Die enigste wyse waarop die apostels en die profete van ouds hierdie deformasie in die kerk geadresseer het, was deur die onverpoosde prediking van die onvervalsde Woord van God.
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek , sodat die man wat in God se diens staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Tim 3:16-17).

Dit bly steeds ons roeping in Kaapstad:
Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra (Filip 2:15-16).

In tye van krisis en wêreldgelykvormigheid dreig ’n liberale en vrysinnige tydsgees om die lig van Christus se kerk uit te doof. Wanneer ons neig om die stryd gewonne te gee en van die werklikheid te ontsnap, tree Jesus as ons Hoëpriester in gebed vir ons by sy Vader in:

Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose (Grieks: kwaadaardigheid) moet bewaar (Joh.17:15).

Laat hulle aan U toegewy (Grieks: geheilig) wees deur die waarheid. U woord is die waarheid (Joh.17:17).

Teenoor die kwaadaardigheid wat soos ’n kanker sy liggaam deurtrek, wil Jesus sy kerk heilig, (afsonder) om die waarheid van die Woord te verkondig, om dus die ware kerk te wees.

Die kenmerke van die ware kerk bely ons saam met ons kerkfamilie in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29:

Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Herdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

VERKLARING

Die NG Kerk Tafelberg verklaar dat ons onder alle omstandighede altyd daarna sal strewe om die ware kerk van Jesus Christus te wees, wat beteken:

  • Dat ons in alle omstandighede die absolute gesag van die Woord van God – dit is die Bybel as God se onfeilbare openbaring aan die mens en nie ’n dokument van menslike nadenke oor God nie – in sy persoonlike gerigtheid tot ons sal erken en gehoorsaam;
  • dat ons in leer en lewe ons sal laat lei deur die waarheid wat die HERE in sy Woord openbaar;
  • dat ons die waarheid van God se Woord sal omhels as die absolute waarheid, daarvan sal getuig teenoor alle mense en dit verdedig indien omstandighede dit vereis;
  • dat ons die waarhede uit die God se Woord, soos dit neerslag gevind het in ons belydenisskrifte, van harte sal omhels;
  • dat ons voortdurend sal bid om deur verligting van die Heilige Gees in die waarheid te bly, die Naam van die HERE te verheerlik, en mee te werk aan die uitbreiding van die koninkryk van ons HERE Jesus Christus op aarde;
  • en dat ons verlang na samewerking en eenheid met ander gemeentes wat dieselfde geloofsoortuigings as ons huldig.

SOLI DEO GLORIA

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui