NG Kerk en gays: Berispe taakspan, vra 12 litigante

Kyk ook:

Die arrogansie van hierdie 12 gay aktiviste (wat die NG Kerk hof toe gesleep het) is verstommend. Nou wil hulle hê dat die NG Kerk hulle teenstanders moet berispe.

Die moderator, Nelis Janse van Rensburg, is darem meer vergewingsgesind en voel dat die gay teenstanders “vergewe” moet word. ’n Mens wonder wie moet vergewe: die kerk of die 12?

Dit is interessant wat hierdie 12 alles kwytraak:

“Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit in 2016 tersyde gestel waarmee ’n vorige besluit in 2015 ten gunste van huwelike herroep is nie; die hof het ook bevind dit is onregmatig om gay-lidmate die huwelik te ontneem.”

“Die 12 lede sê indien die algemene sinode weer besluite sou neem wat op onbillike diskriminasie neerkom, dit op minagting van die hof sal neerkom.”

Die indruk word geskep dat die NG Kerk geen opsie het as om gays gelyke regte in die kerk te gee nie, anders oortree die kerk die wet.

Hier is my persepsie oor die hele kwessie:

Die kerkleiding was nooit gemotiveerd om die saak behoorlik te verdedig nie. Nelis self is immers progay. Die gevolg is dat die verdedigingspan nie eers behoorlik voorberei het nie en daarom het die NG Kerk die hofsaak verloor. Vir geen ander rede nie.

Nou wil hierdie 12 gay aktiviste voorgee dat die hof beslis het dat die grondwet bepaal dat die kerk nie teen homoseksueles mag diskrimineer nie. Daarom is enige toekomstige antigay sinodebesluit buite die kwessie.

As dít wat hierdie 12 sê waar is, dan is godsdiensvryheid in Suid-Afrika daarmee heen. Daar kan nie een stel reëls vir die NG Kerk geld en ’n ander stel vir die res van die kerke nie. Óf die NG Kerk kan nog ’n antigay besluit neem, óf alle kerke in Suid-Afrika sal hulle deure vir gays moet oopgooi.

Wat Nelis sê bevestig dat die NG Kerk nog opsies het:

“Van Rensburg sê hy stem saam met die groep dat daar by die algemene sinode se vergadering oor die teologiese en tegniese geldigheid van die 2015-besluite beslis moet word. Hy sê die algemene sinode sal wel volgens “sy eie oortuiging besluite moet neem”.”

Dus is hierdie 12 besig met bangmaakstories en om verwarring te saai sodat die sinode later hierdie jaar nie weer ’n antigay besluit neem nie.

Soos ek sê: dit is my persepsie. Geen berig in die media het al die volle implikasie van die hofuitspraak baie duidelik uitgespel nie. Nie eers die berig Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’ is heeltemal duidelik nie.

Dit is baie duidelik dat daar nooit vrede in die NG Kerk sal kom nie voor daar ’n skeuring plaasvind nie. Die gays is uit op ’n missie en sal nie gaan lê voor hulle hul sin gekry het nie. Hierdie gesindheid is onbybels. En selfs al was hulle Bybels korrek moes hulle dalk 1 Korintiërs 6:7 meer ter harte geneem het:

Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?

*********

NG Kerk en gays: Berispe taakspan, vra 12 litigante | Netwerk24

Deur Johan Eybers

21 Julie 2019

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, glo nie dit gaan help om diegene te “straf” wat verlede jaar hof toe is om te keer dat gay-huwelike in die kerk bevestig word nie.

Hulle moet eerder vergewe word.

“Ons het nodig om met wedersydse begrip en respek met mekaar op reis te bly. Blamering en straf is nie die kerk se voorkeurmetodiek nie. Vergifnis is wel,” sê hy.

Die 12 litigante in die hofsaak oor die gay-kwessie het lede van die moderatuur Maandag vir drie uur op Stellenbosch ontmoet.

Die 12 is dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van Kerkbode, asook Laurie Gaum, Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen, ds. Pieter Oberholzer, Judith Kotzé, adv. Leon Wessels, dr. Murray Coetzee, dr. Nadia Marais, dr. Chris Jones, prof. Hendrik Bosman en Michelle Boonzaaier.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Maart eenparig in die guns van dié lidmate beslis in hul twis oor gay huwelike in die kerk.

Die regters het nie net op prosedurele gronde die NG Kerk se besluit in 2016 tersyde gestel waarmee ’n vorige besluit in 2015 ten gunste van huwelike herroep is nie; die hof het ook bevind dit is onregmatig om gay-lidmate die huwelik te ontneem.

Die 12 het Maandag gevra dat die algemene sinode die algemene taakspan: regte by sy sinodevergadering in Oktober berispe omdat hul teenstand van die hofsaak oor die gay-kwessie en hul advies aan die algemene sinode ’n “groot verleentheid” vir die NG Kerk veroorsaak het.

Die volgende sinodevergadering word van 7 tot 11 Oktober in Benoni gehou.

Hulle wys daarop dat ds. Thijs van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam, regsadvies dat die kerk nie die saak moet teenstaan nie as “ongetoetste opinies” beskryf het.

“Die hooggeregshof se uitspraak toon egter dat die ‘ongetoetste opinies’ presies in die kol was en dat die appèlliggaam ernstig fouteer het deur nie daarna te luister nie en dat hulle die kerkorde heeltemal verkeerd verstaan het.”

Die 12 applikante sê die hooggeregshof was korrek om te bevind dat daar onregmatig teen gay-lidmate gediskrimineer is. Die diskriminasie was egter nie net in stryd met die Grondwet nie, “maar in elke opsig teenstrydig met die Christelike boodskap van naasteliefde”.

[Kommentaar: Nie waar nie. Kyk Liefdeloosheid is om nie te waarsku nie.]

“Die ‘wêreldse hof’ se uitspraak verwoord die Bybelse verwagting oor die kerk se houding teenoor al sy lidmate: dit moet in die teken van liefde staan en onbillike diskriminasie altyd uitsluit.”

Die 12 lede sê indien die algemene sinode weer besluite sou neem wat op onbillike diskriminasie neerkom, dit op minagting van die hof sal neerkom.

“Die kerk moet daarop bedag wees om nie nuwe strukture van uitsluiting te skep nie, maar bly besin oor hoe om radikale inklusiwiteit te beliggaam.”

Hulle glo gay-lidmate is ernstig benadeel deur die besluit om die 2015-besluit ten gunste van gay-huwelike op te skort.

“In die proses is daar in werklikheid wederregtelik ’n kerklike ‘halt!’ uitgeroep oor mense se verhoudingslewe en spesifiek oor die bediening van afgestudeerde en in sommige gevalle gelegitimeerde gay- en lesbiese predikante.”

Die lede glo:

  • Die sinodevergadering moet kyk na maniere om alle lidmate wat nie heteroseksueel is nie, insluitend gay-mans, lesbiërs, biseksuele mense, transgender-lidmate en interseksueles (LGBTQI+) te betrek;
  • Gay-mense kan help om ’n meer lewegewende geloofsgemeenskap te skep;
  • LGBTQI+-mense moet hul plek in kerkrade, taakspanne en sinodes inneem;
  • Die algemene sinode behoort te help om geld te voorsien “sodat bekwame LGBTQI+-lidmate gemeentes kan besoek met die opdrag om leiers in die gemeentes te begelei en op te lei ten opsigte van genderdiversiteit en sensitiwiteit”.

[Kommentaar: Die NG Kerk leierskap het alreeds soveel geld gemors op die gay- en Belharkwessie. Dit sal verregaande wees indien nog geld hieraan spandeer word.]

Van Rensburg sê hy stem saam met die groep dat daar by die algemene sinode se vergadering oor die teologiese en tegniese geldigheid van die 2015-besluite beslis moet word. Hy sê die algemene sinode sal wel volgens “sy eie oortuiging besluite moet neem”.

“Ons sal daarom eers moet sien wat die uitkoms van die besluitnemingsprosesse is voordat ons kan bepaal watter prosesse daarna gevolg moet word.

“Dit is belangrik dat die algemene sinode nou op ’n korrekte manier sy besluite neem waarin hy sy oortuigings oor hierdie aangeleentheid duidelik stel. Die sinode het al dikwels in die verlede verskoning gevra aan diegene wie se menswaardigheid in die gang van die gesprek in gedrang gekom het.

“Waar hulp nodig is, of regstelling, sal dit plaaslik moet geskied. Gemeentes sal ook moet uitreik na gelowiges wat vervreem is deur besluite van die kerk oor hierdie aangeleentheid,” sê Janse van Rensburg.

4 thoughts on “NG Kerk en gays: Berispe taakspan, vra 12 litigante”

  1. Dit is nog ’n bevestiging van mense in die kerk wat ’n obsessie het om hulle sin te kry. Dit is net hulle opinie wat van belang is en basta met die res van die kerk wat dalk ander opinies huldig.

  2. “Die 12 lede sê indien die algemene sinode weer besluite sou neem wat op onbillike diskriminasie neerkom, dit op minagting van die hof sal neerkom.” …. Lê hierin dalk ’n bedekte dreigement? Dankie vir die plasing Daniel.

  3. “algemene sinode behoort te help om geld te voorsien”

    Doleansie.

    “Die algemene sinode behoort te help om geld te voorsien “sodat bekwame LGBTQI+-lidmate gemeentes kan besoek met die opdrag om leiers in die gemeentes te begelei en op te lei ten opsigte van genderdiversiteit en sensitiwiteit”.”

  4. Die NG Kerk behoort by sy volgende Algemene Sinode in Oktober 2019 te besin of limaatskap van persone wat nie heteroseksueel is nie, in heroorweging geneem behoort te deur hulle eers ’n vorm van beradingsterapie te laat ondergaan alvorens bepaal kan word of hulle toerekeningsvatbaar is vir instemming met die bybelse eise vir ’n rein lewe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui