Oor Hoëveld Sinodesitting: “Hoor ons bid, o Heer”

*******

Oor Hoëveld Sinodesitting: “Hoor ons bid, o Heer” – Kerkbode

Kerkbode

26 Oktober 2022

Dr Bennie Marais van NG Kerk Charl Cilliers (dolerend) skryf: Hierdie bekende Liedboeklied het ’n paar keer in my hart opgekom. Weke voor die Hoëveld Sinodesitting van 18-20 Oktober 2022 in Kemptonpark neurie ek al hierdie lied. Hierdie lied saam met “Hoor ons sug, o Heer” (wat op dieselfde wysie is) word talle keer gesing in Charl Cilliers-gemeente, wat oorwegend boere is, voor die sinode en tydens planttyd. Die Here het ons gehoor, want terwyl ons terugry van die sinode, gaan die hemel se sluise oop: “Die Here het sy oor na ons gedraai”.

Met hierdie lied in my hart lees ek Lukas 11:9 – “Vra en vir julle sal gegee word”. Die aand van 18 Oktober 2022 bid ek en my ouderling Frans Kok (afgevaardigde en ’n boer) en vra die Vader dat sy wil sal geskied, want NG Kerk Charl Cilliers se beskrywingspunte saam met NG Kerke Mooifontein (dolerend), Evander, Witfield plus die beskrywingspunte van die ringe van Standerton (6 gemeentes) en Heidelberg (10 gemeentes) wat die pad van Artikel 37 wil loop, word die volgende dag hanteer.

Dit is tyd om die beskrywingspunte te hanteer. Al wat ek hoor is, “punt van orde, meneer die voorsitter, jou vyf minute is amper verby, dolering is nie deel van kerkorde nie, hierdie is skeurmaking, ek kan nie vandag oor die saak stem nie” en ’n boer, wat ook ’n afgevaardigde is van Standerton-Suid pleit dat hulle gemeente losgemaak moet word van die Algemene Sinode, want die besluit van die Algemene Sinode oor dieselfdegeslag (2019) het dié gemeente verwoes.

Al wat ons vra is “hoor ons net” – na talle debatte hoor ek ook die woorde “julle moet ook na ons luister van die sinode se kant af”. Ek stem toe saam dat ons na mekaar moet luister. Met die lied wat ek bly neurie kom die woorde uit my hart “Ons moet eerstens na God luister”. Stemming kom ter tafel en Lukas 11 vers 9 verskyn in my gedagtes. Die sinode gee goedkeuring dat ons saam met die dagbestuur van die moderamen van die Hoëveld Sinode, die taakspan van die Kerkorde asook bogenoemde gemeentes en ringe om ’n tafel gaan sit om eerstens na die Here wat hoof is van sy kerk te luister en dan na mekaar te luister.

“Hoor ons bid, o Heer, verhoor tog ons gebed en gee ons vrede” het waar geword. Hiermee sluit ek en my ouderling af die aand in die gastehuis.

Mag elke lidmaat van die NG Kerk eers na God Drie-enig en sy Woord luister voordat daar besluite geneem word. Dit bring herlewing soos daar staan in die Agenda van die Hoëveld Sinode 2022 op bladsy 22. “Daarna bedien hy, wyle ds Gert Painter, ook die gemeente Port Elizabeth-Wes van 1966-1970. In daardie tyd beleef die gemeente ’n groot herlewing”. Ek het as kind die herlewing belewe, want ds Gert Painter saam met medeleraar, my pa wyle ds Dave Marais het na Hom geluister. Luister eerstens na God want daardeur sal daar herlewing van Bo kom in Suid-Afrika.

Bly asseblief saam met my Liedboek 278 sing totdat Hy herlewing bring in Suid-Afrika. Ons gemeente bly dit sing.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui