’n Kerk vry van ideologie?

*******

Dawie de Wet skryf: ’n Kerk vry van ideologie? – Kerkbode

Kerkbode

26 Oktober 2022

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Neels Jackson bevraagteken my kritiek op die feit dat die Algemene Sinode die ideologie van Sosiale Geregtigheid (SG) navolg. Hy is oortuig dat die Algemene Sinode (AS) in alle besluite gepoog het om by die Bybel te bly.

Dit is duidelik dat ons by mekaar verby praat, Neels.

Ek het vir jou verduidelik dat liefdesdiens volgens die voorbeeld van Jesus, ’n kerndeel van ons Christelike lewenswandel moet uitmaak. Ek is saam met jou dankbaar dat daar binne die NG Kerk talle voorbeelde is van geseënde uitreikaksies, soos die bediening in Pretoria waarna jy verwys.

Ons verskil radikaal oor die rol van die ideologie van Sosiale Geregtigheid (SG).

Die NG Kerk het ’n lang geskiedenis van ’n ideologiese verstaan van die Bybel. Vir jare was die ideologie van Apartheid die bril waardeur die Skrif verstaan is. Ek het daarmee grootgeword en ons is geleer om die sonde daarin mis te kyk. Met die besef dat dit verkeerd is, is die denkpatroon van ons tyd, die ideologie van SG, aangegryp as die nuwe bril waardeur die Bybel gelees moet word. Jy beskou dit as die “pad van verruiming”. Soos jy tereg uitwys, is daar dele van hierdie denkwyse wat wel met die Bybel ooreenstem – soos talle aspekte van Apartheid. Vir my bly ideologieë mensuitgedinkde raamwerke waarin die Bybel gegiet word.

Die belydenisskrifte is die raamwerk waarin elke gelegitimeerde belowe het om die Bybel te verstaan – die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid.

SG werk glad nie met sondeskuld en vergifnis nie, maar met onderdrukkers en slagoffers. Laasgenoemdes is onskuldig omdat hulle ly. Alle noodlydendes is dus onskuldige slagoffers. As jy praat van sonde, is jy volgens SG verkeerd, want jy blameer dan die slagoffer.

Dit is ironies: Omdat ek SG verwerp, brandmerk dit my as onderdrukker. Daarom sê SG dat ek geen meegevoel met slagoffers het nie – al is die bewese werklikheid die teenoorgestelde.

Mnr Zuma se toespraak verlede naweek illustreer die logika van SG in die praktyk: Hy het homself duidelik as die “slagoffer” uitgebeeld, met pres Ramaphosa die “onderdrukker”. As slagoffer is hy mos onskuldig. En duisende glo hom, want hulle dink volgens SG se lyne. Dit is interessant hoe die tradisionele Afrikadenke ook SG omarm het.

Die “mensgerigtheid” waarna jy verwys, Neels, is die taal van SG. My probleem daarmee is dat die Bybel leer dat sonde drie dinge veroorsaak: skuld, smet en ellende. Jesus het gesterf om met sy bloed ons skuld te betaal en om ons van die smet van die sonde te reinig (1 Joh 1:9). Daarom sien sy Liggaam, die kerk, om na die ellende van die wêreld. Soos alle heidene ook doen, spreek SG die nood en ellende aan. Dit onderspeel ongelukkig die kernwaarheid dat mense ook van die skuld en smet van sonde verlos moet word.

Ek bid dus dat die AS vry sal kom van alle ideologie en sal terugkeer na “Sola Scriptura Sacra”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui