Ons is klaar!

Die volgende artikel het in die Juig!-tydskrif verskyn in September 2022.

******

Ons is klaar! | Juig

Ons skud die stof van ons voete af

deur Henriëtta Klaasing

September 2022

Valse lering en dwaling – die gevolg van vrysinnige Skrifhantering – het veroorsaak dat die NG Kerk toenemend begin het om sy gereformeerde identiteit te verruil vir die gedagte van ‘n “ruim huis” waar “teologiese diversiteit” die wagwoord is.

Die familie van gereformeerde gemeentes stuur ’n duidelik boodskap

Op 25-26 Februarie 2020 het die Moreletapark Beraad plaasgevind. Nooit sou dié wat dit bygewoon het kon droom dat daar skaars meer as twee jaar later weer ’n soortgelyke byeenkoms van gelowiges van reg oor Suid-Afrika sou wees nie. Vanuit hierdie byeenkoms het Kairos Netwerk deur die Here se genade spontaan ontwikkel en WhatsApp-groepe, ’n eie Facebook-blad en webblad het gevolg.

Meer as 100 gemeentes sluit by die beweging aan

Die hoogtepunt van afvalligheid binne die NG Kerk was die Algemene Sinode se skokkende besluite van 2015 en 2019 betreffende selfdegeslagverhoudinge – direk in stryd met die Woord van God. Die aantal lidmate wat hierteen in opstand gekom het, het so aangegroei dat daar teen Julie vanjaar meer as 120 belydenisgetroue gemeentes uit die tien streeksinodes van die NG Kerk tot die beweging toegevoeg is.

Historiese eerste familiebyeenkoms van gereformeerde gemeentes

Dit was dus onafwendbaar dat die Skrifgetroue en behoudende geloofsgemeenskap onder leiding van die Kairos Netwerk dit bymekaar sou bring wat bymekaar hoort. Die eerste familiebyeenkoms van gereformeerde gemeentes is op 21-22 Julie 2022 by die AfriForum Teater in Pretoria gehou. Meer as 200 verteenwoordigers van oor die hele land het die byeenkoms bygewoon, nieteenstaande hoë brandstofkoste en die feit dat die byeenkoms in die week tydens werksure gehou is.

Ander denominasies reik die hand van vriendskap uit

Verrassend was dat hande van vriendskap na Kairos Netwerk uitgereik is deur ander denominasies soos die Gereformeerde Kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk, die Geloofsbond van Hervormde Kerke en die Vrye Gereformeerde Kerk. Daar was selfs ‘n groeteboodskap en belofte van steun en samewerking van die Alliance of Reformed Churches in America.

Saam vorentoe as Skrifgetroue geloofsfamilie

Die hooftema van die byeenkoms was “Saam vorentoe as Skrifgetroue geloofsfamilie”. Sake op die program was:

  • ‘n Skrifgetroue geloofsfamilie vat hande om hoop te bring in ’n verwarde wêreld;
  • ‘n Skrifgetroue geloofsfamilie bou op vaste fondamente (Sola et Tota Scriptura – Skrifgesag);
  • ‘n Skrifgetroue geloofsfamilie aanvaar slegs suiwer teologiese opleiding;
  • ‘n Skrifgetroue geloofsfamilie fokus op die boodskap van verlossing in leer en lewe, en
  • ons Skrifgetroue geloofsfamilie se visie vir die pad vorentoe.

Verrigtinge is afgesluit met die laaste tema:“Ons geloofsfamilie se getuienis na buite en die familie se geloofsverklaring”

‘n Voorlopige geloofsverklaring

In ’n voorlopige geloofsverklaring word die volgende onder meer verklaar:

  • Die geloofsfamilie is nie homofobies nie, maar verwerp selfdegeslagverbintenisse in die kerk,
  • Die geloofsfamilie verwerp ook die NG Kerk en sy Algemene Sinode (AS) se siening van die kerk as ‘n“ruim huis”
  • Die geloofsfamilie beskou enige verwysing na God in die vroulike geslag as“dwaalleer”
  • Daarmee saam wil die geloofsfamilie hom beywer vir “reformasie in die NG Kerk” en vra‘n totale verwerping van die AS se sinodale struktuur.

Suiwer teologiese opleiding

Gesprekke word met die Noordwes-Universiteit se teologiese fakulteit, die Afrikaanse Protestantse Akademie en Veritas voortgesit met betrekking tot teologiese opleiding.

Sinopsis van besluite

1 Ons wil nie skeur nie

Die Algemene Sinode (AS) het in 2019 die NG Kerk geskeur. Ons het geen begeerte om dit verder te skeur nie, ons werk en bid vir radikale reformasie. Reformasie is egter slegs moontlik solank daar nog ‘n oop deur vir reformasie is. Indien die deur gesluit word en dit tot verdere skeuring lei, was dit nie ons keuse nie. Tans het al ons noodkrete tot bekering ongelukkig op dowe ore geval.

2 Ons is nie alleen nie

Die stryd teen liberalisme is nie uniek in die NG Kerk nie. Dit raak alle gereformeerde kerke plaaslik en internasionaal. Orals in ander wêreldlande en onder ander kerkgenootskappe wêreldwyd word kerke uitmekaargeskeur deur die aanslag van liberalisme, feminisme, en die LGBTQI+-beweging. Dit bevestig die noodsaaklikheid dat die tyd aangebreek het om oor kerkgrense heen die behoudendes bymekaar te bring wat bymekaar hoort.

3 Ons het klaar gepraat

Die boodskap wat telkens gehoor is, was dat die geduld by baie mense opgeraak het. Ons is nie bereid om veel langer te praat met ’n leierskap wat min of geen tekens van selfondersoek of berou toon nie. In die lig van bogenoemde, en afhangend van die tekens van berou en bekering by die huidige kerkleiers en sinodale strukture, stel ons in die nabye vooruitsig ’n eie alternatiewe sinode vir behoudende Skrifgetroue gemeentes. Ons stel ook verder in die vooruitsig die moontlikheid van ‘n nuwe ekumeniese sinode vir Skrifgetroue gereformeerde kerke in Suid-Afrika en internasionaal. Mag die Here self Sy Kerk lei, bewaar en reformeer tot Sy eer.

DR. HENRIETTA KLAASING is ’n afgetrede onderwyskundige en medeskrywer van die boek Die Trojaanse perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui