Anton van Niekerk: Batseba het g’n vir Dawid verlei

‘n Mens kan met Anton van Niekerk saamstem: ’n mens kan nie uit die Bybel aflei dat die Batseba was wat vir Dawid verlei het nie.

Wat wel interessant is, is dat Anton van Niekerk soveel moeite doen om hierdie fout reg te stel. ’n Mens kan nie help om te wonder of dit nie ’n “woke”-benadering is nie. ’n Oordrewe bedagtheid op ongeregtigheid.

*******

Anton van Niekerk: Batseba het g’n vir Dawid verlei | Netwerk24

Anton van Niekerk

13 September 2022

Augustus – Vrouemaand – is wel verby, maar ons het nog lank nie klaar gedink en gehandel oor die situasie van vroue in Suid-Afrika nie. Veral nie oor hoe magsverhoudinge vroue verkleineer en beledig nie.

Een oggend op pad na my kantoor luister ek na RSG. Daar is ’n gawe dominee besig om sy luisteraars in te lig watter vroue in die Bybel hy dié week wil bespreek.

Tussen die name vermeld hy ook Batseba, en voeg dan, amper terloops, maar met oortuiging, by “. . . wat natuurlik vir Dawid verlei het”.

Ek het nuus vir dié dominee. Batseba het nie vir Dawid verlei nie. Twee Samuel 11 vertel die boeiende dog ook godskreiende verhaal van wat niemand anders nie as Dawid – die “man na Gods hart” – op ’n goeie dag (en nogal ook op gevorderde leeftyd!) aangevang het.

Dawid wandel eendag verveeld rond op die dak van sy paleis terwyl sy leërs weg is op hul jaarlikse soort “sporttoernooi”: Om oorlog te maak. Dat sy paleisdak ’n plek is waar hy (kan) wandel, vertel ons nie slegs iets oor Dawid nie, maar ook oor sy paleis.

Dan gewaar hy haar terwyl sy besig is om te bad. Sy was besonder mooi. Die bad was deel van haar “reiniging” ná afloop van haar menstruasie. Dawid laat oor haar navraag doen en laat amptenare haar na hom bring. Hy slaap by haar. Dié gebeure is geen one-night stand nie. Sy word swanger.

Waarom verset Batseba haar nie teen hierdie orige ou man nie? Sy is immers getroud met Uria, een van die mees lojale soldate in Dawid se leër.

Een rede staan uit bo almal. Daar is naamlik ’n beduidende verskil tussen die Dawid wat ons tot nou toe ken in die Ou Testament – die Dawid wat, terwyl Saul hom soos ’n dier in die veld gejag het, nogtans Saul se lewe red, en die Dawid wat Batseba verkrag.

Dáárdie verskil word in een kort woordjie saamgevat, naamlik mag. Die vlugteling van Saul in die En-Gedi-woestyn is nou koning Dawid. Daarom kan en mag Batseba hom nie weerstaan nie, want hy het nou oppermagtig geword.

Die geweld teen en verkragting van vroue begin by mans met ongebreidelde mag – ook selfs in die Bybel, waar sulke geraamtes nie in kaste weggesteek word nie.

Ons ken die res van die verhaal. Uria word ontbied om by sy vrou te kom slaap sodat die indruk geskep kan word dat dit sy kind is. Uria weier egter, omdat hy nie gunste soek wat sy makkers nie ontvang nie. Daarmee onderteken hy sy eie doodvonnis. Want teen hierdie tyd het die wandelaar op die daktuin gewetenloos geword. Ontug slaan om in moord. Uria moet in die gevaarlikste linie gaan veg, en hy sneuwel –voorspelbaar.

Hierdie is allesbehalwe ’n moralistiese verhaal van ’n vrou wat ’n koning verlei het, meneer die dominee op RSG!

Hierdie is ’n godskreiende verhaal van verveling, wellus, magsmisbruik en, les bes, koelbloedige, beplande moord. Die moordenaar is daarby nie iemand wat skielik selfbeheer verloor of uit selfverdediging optree nie. Die verhaal vertel van ’n moord wat berekend, “met voorbedagte rade”, tot in die fynste besonderhede, beplan word.

Natuurlik is ons almal wat mans is, nie so nie. Natuurlik is ons almal nie maghebbers nie. Ons leef egter in ’n kultuur waarin die idee van manlike oorheersing oor vroue onpeilbaar diep by ons ingebed is. Dis ’n kultuur waarin sosiale konstrukte soos “die swakker geslag” verhef is tot “voorskrifte van die natuur”.

Ons vind dit selfs in die Bybel – selfs by die “man na Gods hart”. Ons moet daarvan ontslae raak.

  • Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch.

1 thought on “Anton van Niekerk: Batseba het g’n vir Dawid verlei”

  1. Dié gebeure is geen one-night stand nie.
    Sy word swanger.
    ………….. van niekerk , moenie n hoenner wees nie , God weet wat sal en sou gebeur het , Dawid moes iets geleer het uit die kind wat gebore was , die “commitment” van Dawid teenoor Batseba , Die verantwoordelikheid van Urai se dood ….. God was in control man ,,,,, jy wil weer te slim raak Van Niekerk , en jy bly dalk n hoennerrrr
    God se Woord bly bly bly onfeilbaar. >>> jy wil aanmekaar olie en water meng !!!!!!!!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui