Wie was die Nikolaïete?

Kyk ook:

Ons lees in Openbaring 2 van die Nikolaïete:

Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:

(6)Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku.

Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum:

(14)Maar Ek het ’n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. (15)So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen.

Hierdie is die enigste direkte verwysing na Nikolaïete in die Bybel. Dit is ook die enigste verwysing na Pergamum in die Bybel.

Beide Efese en Pergamum was aan die westekant van Turkye met Efese effens suid van Pergamum.




Pergamon

Pergamon


Efese

Efese


Antiogië

Antiogië


In Handelinge 6:5 lees ons van ’n Nikolaus. Hy was van Antiogië (suide van Turkye) afkomstig en het vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan en het daarna na die Christelike geloof oorgekom.

Irenaeus was die eerste groot teoloog en kerkvader ná die apostels. Hy het geleef van 130 tot 202 nC en was biskop in ongeveer 175 tot 195 nC in Lyon in Frankryk, soos dit vandag bekend staan. Hy het homself beywer vir die bestryding van ketterye, veral die gnostisisme.

Volgens Irenaeus was hierdie Nikolaus van Handelinge 6:5 die stigter van die Nikolaïete. Hulle het lewens gelei van onbeheersde genot. Die karakter van hierdie mans word baie duidelik in die openbaring van Johannes uitgewys – vir hulle was dit nie verkeerd om owerspel te beoefen en om dinge wat vir afgode geoffer is, te eet nie.[1],[2]

In Handelinge 20:17-38 spreek Paulus die ouderlinge van Efese aan. In vers 30 sê hy: Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.

‘n Mens lei af dat Paulus hier teen die Nikolaïete waarsku (wat Johannes ook noem in Openbaring 2:6).

Gevolgtrekking

Dus lei ’n mens af dat Nikolaus van Handelinge 6:5 hom aan die westekant van Turkye (Efese en Pergamum) gaan vestig het, afvallig geraak het en die stigter van die Nikolaïete geword het. Die Nikolaïete het afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe. Hulle het met leuens die gelowiges probeer verlei. Blykbaar is daar ook ’n konneksie tussen die Nikolaïete en gnostisisme.[3]

Kyk ook

Voetnotas

[1] Kyk Nicolaism (Wikipedia)

[2] Kyk The Book Of Revelation And Irenaeus Of Lyons, A tentative to understand how Irenaeus interpreted Revelation in Against the Heresies I and II, Thiago Jachetto de Campos, 2019 (Irenaeus, AH III.11.1.)

[3] Kyk Die Nikolaïete (Coen Slabber) en Gnosticism.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui