Aktuarius verdedig voorlopige eietydse interpretasie van Twaalf Artikels

Onderstaande is op NG Doornkloof se Facebook-webwerf geplaas in September 2012.

Die Aktuarius van die NG Kerk se Algemene Sinode het redelik aanvallend daarop gereageer.

*********

Hennie Mouton -> Facebook/NG Doornkloof

NG Kerk se voorlopige eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis: Kyk hier.

Skokkend.

Kommentare

Johann Heinrich Ernst

Die versoek om ’n eietydse interpretasie van die geloofsbelydenis het van die Sinode van Oos-Transvaal (nou Oostelike Sinode) gekom. Dit was ’n versoek na aanleiding van die ondersoeke teen dosente by UP. Die Sinode van Oos-Transvaal het veral groter duidelikheid gesoek oor die artikel rakende die opstanding. Die uitvoering van die opdrag het nou omvangryk geraak en die Moderamen het reeds versoek dat dit meer toegespits afgehandel word. Die Algemene Sinode het op hierdie stadium bloot kennis geneem van die konsep-formulering van die eerste deel. Die afleiding kan nie uit die besluite gemaak word dat die Algemene Sinode “baie positief” is oor die voorlopige werk nie.

Daar is uitstaande, behoudende teoloë soos Danie Malan, Coenie Burger, Danie Dreyer, Piet Naudé en Dirkie Smit betrokke. Om na hulle voorlopige werk as “dwaalveronderstellings” te verwys, om te beweer dat hulle “sommige gegewens in die Bybel eenvoudig glad nie [glo nie]”, om hulle standpuntstelling die “tragiese bewys van die effek van die evolusieleer” te noem, om tot die gevolgtrekking te kom dat die opstellers afstand gedoen het van die fondamente van die Christelike geloof en uiteindelik niks konstruktief vir die kerk en die wêreld het om te bied nie”, is om die minste te sê vergesog en aanmatigend.

Gelowiges in die kerk het van hulle Meester die voorbeeld ontvang hoe om met ander om te gaan. Die volgende wat nou op ons gemeente se webwerf staan en dalk met ons gemeente self in verband gebring kan word, is nie hoe dinge in die kerk gesê en gedoen word nie: “Die dokument … word seker met groot (dankoffer-) koste opgestel, maar op hierdie stadium lyk dit na net nog ’n skandelike akademiese oefening van die NG Kerk wat asseblief van die kansels af weggehou moet word, tensy daar dominees is wat die moed van hul geloof het om dit behoorlik en grondig te verwerp.” Dit is doodgewoon kwaadwillig.

As dominee van die gemeente kan ek my hoegenaamd nie vereenselwig met die gees en inhoud van artikels wat op die webwerf glodiebybel geplaas word nie. Weens die webwerf se gereelde en volgehoue aanvalle op die NG Kerk se Algemene Sinode distansieer ek my dus van hierdie webwerf en vra gemeentelede om met groot omsigtigheid om te gaan met wat hulle daar lees.

In GEEN opsig is dit wat daar geskryf word die standpunt van die gemeente of die NG Kerk nie. Daar is ’n ordelike manier om besware onder aandag van ’n meerdere kerkvergadering te bring. Terloops, ’n groot deel van die Algemene Sinode se inkomste kom uit eie beleggings. Die res kom van die sinodes. Daar is GEEN dankoffervermorsing nie! Inteendeel. Die betrokke taakspan doen sy werk met ’n absolute minimum-begroting.

Pieter Olivier

Uitreksel van die dokument “Mag die NGK tog hierdie waarskuwing ter harte neem! Dit is immers bekend dat selfs die bestaande belydenisskrifte redelik inhoudelik onbekend aan baie leraars is! ” en dit kom van die sinode af genotileur in die handelinge2011 dokument bladsy 20 regtig dit is swak ek voel leraars moet God se woord verkondig en op hou politiek speel.

Hennie Mouton

Daar kan nie gesê word dat die Algemene Sinode op hierdie stadium bloot kennis geneem het van die konsep-formulering van die eerste deel nie. Want in die Algemene Sinodesitting se Besluiteregister van 2011-10 staan: “Die Algemene Sinode spreek sy dank en waardering uit teenoor die lede van hierdie taakgroep, veral diegene uit die geledere van ons NG Kerkfamilie, vir die harde en deeglike werk wat hulle gedoen het en waardeer hulle voortgesette betrokkenheid hierby.” Daar is dus reeds ’n mate van waardasie ook gedoen. Dit blyk ook uit die daaropvolgende sin in die Besluiteregister: “Die Algemene Sinode versoek ook die Apostolicum-werkgroep om ’n korter en meer populêre weergawe (nog meer eenvoudige weergawe) vir tieners en lidmate te formuleer.”

Die redes waarom sommige van die skrywers se bewerings dwaalveronderstellings genoem word, mens die afleiding kan maak dat hulle sommige gegewens in die Bybel eenvoudig glad nie glo nie, en om hulle idees die tragiese gevolge van die effek van die evolusieleer te noem, word met aanhalings uit die voorlopige dokument gestaaf. Indien iemand dit vergesog en aanmatigend wil noem, moet hy die redes bespreek, nie net ongegronde stellings maak nie. Die waardasie van ’n dokument moet in elk geval op grond van die inhoud daarvan gemaak word, nie op die sogenaamde kwaliteit van die medewerkers nie.

Glodiebybel het die voorlopige dokument ’n skadelike akademiese oefening genoem, nie ’n skandelike akademiese oefening nie. Die skadelikheid is na my mening ’n groter probleem as die skandelikheid.

Ek beskou die verdagmaking van die webwerf Glodiebybel as kwaadwillig. Na my mening is dit een van die beste webwerwe as enigiemand wil sien wat in die NG Kerk aangaan wat die mediaberiggewings betref, en wat enkele direkte kommunikasies met die hoëvlak-NG-leiers betref, of al die lesers nou saamstem met die evaluasie daarvan of nie. Heelwat van die artikels daar (waarskynlik meeste van die nuweres) is kopieë van besprekings wat op die NG Kerk se eie webwerwe plaasgevind het. Wat daar geskryf is, is dus in BAIE opsigte die standpunt van die NG Kerk.

Johann Heinrich Ernst

My taak by die Algemene Sinode is juis om die besluite van die Algemene Sinode te interpreteer. Hierdie interpretasies, wat aan die bevoegde vergadering vir goedkeuring voorgelê word, verskil dikwels en soms wesenlik van die reaksies op webwerwe soos Glodiebybel. Inteendeel, die hartseer is dat webwerwe gebruik word vir ’n ketterjagtery teen sogenaamde “hoëvlak-NG-leiers”. Sal bly wees as Glodiebybel se mense hulle eie webwerf gebruik vir hulle eie inkwisisie en nie ’n gemeente se webwerf daarvoor sal kaap nie. Ek het geen begeerte om met enigiemand op ons gemeente se webwerf in twisgesprek te gaan oor enige saak wat van buite op ons gemeente afgelaai word nie. Besware teen besluite van die Algemene Sinode kan, soos dit gelowiges betaam, met die Algemene Sinode self op persoonlike, ordelike en geloofwaardige wyse opgeneem word.

Hennie Mouton

Is die term “ketterjagtery” maar nie net dikwels ’n poging om geldige besware en vrae waarop antwoorde nooit gegee of ontwykend geantwoord word, te probeer stigmatiseer nie?

Henrietta Klaasing

“Wiens brood men eet, diens woord men spreekt”?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui