Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
NG predikant beskuldig moderator van intimidasie oor briewe aan gemeente | Rapport
Johan Eybers
Rapport
Sondag, 20 Julie 2025
‘n NG predikant wie se legitimasie nietig verklaar is, beskuldig ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk en die Vrystaatse sinode, nou van ernstige wangedrag.
Ds. Rheinier Nel, predikant van die Bethulie-gemeente in die Vrystaat, beweer Lubbe het sy mag misbruik om sy gemeente te intimideer om hom af te dank.
Hy beweer in ‘n brief aan die algemene sinodale moderamen (ASM) Lubbe se skrywes aan die gemeente kom neer op intimidasie en manipulasie.
Die ASM is die NG Kerk se hoogste besluitnemingsliggaam tussen byeenkomste van die algemene sinode.
Nel beskryf Lubbe se gedrag as “openlik ergelik (sic)” en “roekeloos en onverantwoordelik”, en beweer dat die moderator die gemeente onregverdig in ‘n arbeidshofgeskil wil betrek as respondent.
Die Bethulie-kerkraad is gewikkel in ‘n stryd met die NG Kerk omdat hulle nie die nietigverklaring van Nel se legitimasie wil aanvaar nie.
Nel beskuldig Lubbe daarvan dat hy homself sien as ‘n “gereformeerde pous” van die kerk.
Die konflik spruit voort uit ‘n tugondersoek teen Nel.
‘n Kerklike tugliggaam van die ring van Smithfield in die Vrystaat het hom skuldig bevind aan skeurmakery, sy bevoegdheid weggeneem en sy legitimasie nietig verklaar. Dit is deur die algemene taakspan predikantesake (ATP) aangeteken.
Nel het daarop ‘n arbeidsgeskil met die Vrystaatse sinode by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak.
Die KVBA het egter vroeër vandeesmaand bevind dat hy nie jurisdiksie het om oor die kerk se dispuut met Nel te beslis nie.
Die KVBA-uitspraak het tot verskillende interpretasies gelei. Die Bethulie-gemeente se kerkraad betwis die tugliggaam se reg om teen Nel op te tree en meen die uitspraak beteken dat slegs die kerkraad hom kan ontslaan.
Die NG Kerk Vrystaat is egter van mening dat die KVBA-uitspraak bevestig dat ‘n predikant se bevoegdheid by die algemene sinode berus en dat kerkrade en kerkvergaderings hulle hierby moet hou.
Lubbe het vroeër in ‘n brief Nel “ernstig versoek om jou te weerhou van beledigings en wanvoorstellings”.
Lubbe het Nel ook vermaan dat dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die ASM, “niemand se sekretaresse” is nie.
Die vermaning kom nadat Nel glo in korrespondensie met Venter na haar as ‘n “sekretaresse” verwys het.
In sy brief het Lubbe Nel versoek om “voortaan met die nodige respek teenoor medegelowiges en funksionarisse van die NG Kerk op te tree”.
Hy het dit gekoppel aan “basiese beleefdheid” en verwys na die Skrif en belydenis rakende die vyfde, sesde en negende gebod.
Lubbe het by navraag gesê hy gaan nie kommentaar lewer op Nel se “beledigings en leuens” nie.