Dominee geskors oor hy gemeente van NG Kerk laat wegbreek

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dominee geskors oor hy gemeente van NG Kerk laat wegbreek | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 13 Julie 2025

’n Dominee van Vryburg in Noordwes beweer hy is onregverdig in sy amp gestuit “in die lig van die groeiende landwye vervolgings van behoudende leraars en gemeentes” in die NG Kerk.

Ds. Nico Sennett van die NG gemeente Vryburg-Wes is in Junie amptelik deur die ring van Reivilo in kennis gestel dat hy in sy amp gestuit word hangende ’n tugondersoek na bewerings van leuenagtige gedrag en skeurmakery.

Die konflik spruit uit ’n kerkraadsbesluit, onder Sennett se voorsitterskap, om die gemeente se bande met die algemene sinode, die sinode Noord-Kaapland en die ring van Reivilo op te skort.

In die “akte van opskorting”, wat deur Sennett opgestel is, word die algemene sinode as “die valse kerk” beskryf.

Twee kerkraadslede, Jaco Putter en Freduan Smit, het besware geopper teen die manier waarop die proses gehanteer is.

Putter beweer die kerkraad het slegs “in beginsel” gestem dat hy nie saamstem met die algemene sinode “se dwalinge” nie. Volgens hom was Sennett veronderstel om verdere ondersoek te doen en terugvoer aan die kerkraad te gee voordat enige finale besluite geneem word.

“Daar is wel op die vergadering genoem dat al drie gemeentes in Vryburg tegnies dolerend is en dat ons onsself nie van die ander gemeentes wil vervreem in die proses nie,” sê Putter in ’n klagtebrief wat aan onder andere Sennett gerig is.

Smit beweer die wegbreek van die ring en sinode was nooit op die kerkraadsvergadering se agenda nie en dat die gemeente se gevoel oor die saak nooit getoets is nie.

“Verskeie kerkraadslede het ná die vergadering laat blyk dat ons nie in hierdie stadium moet wegbreek van die ring en sinode nie. Ek is diep bekommerd dat die prosedure nie korrek gevolg is nie en dat dit verlies van die kerkeiendomme kan beteken,” skryf hy in ’n e-pos.

Die ring-tugliggaam voer aan dat Sennett se akte van opskorting ’n ongeldige dokument is wat hy sonder kerkraadtoestemming aan gemeentelede versprei het.

“U is blykens besig met skeurmakery. U is blykens besig om besluite deur te voer wat nooit deur die kerkraad geneem is nie. Die sogenaamde besluite staan blykbaar in notules wat nog nie aanvaar of goedgekeur is nie – en moontlik nog nie eens geskryf is nie,” lui die kennisgewing.

Luidens die akte beskou die gemeente die NG Kerk as ’n “valse kerk” wat homself “nie aan die juk van Christus onderwerp nie”. Die akte lui die kerk “vertrou meer op mense as op Christus” en “vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe”.

Daar word beweer dat “die NG Kerkverband navolgers van die Nuwe-era- humanistiese tydsgees geword het” en “op relatiewe en subjektiewe wyse met die Bybel omgaan”.

In sy uitvoerige vertoë aan die ring-tugliggaam het Sennett aangevoer dat hy net opdragte van sy kerkraad uitgevoer het.

Sennett bevraagteken die spoed waarmee hy in sy amp gestuit is: “Die een brief wat as aanleiding tot die klag dien, is nie gedateer nie. Die ander een is geskrywe op 18 Junie 2025. Drie dae later, op 21 Junie, is die ring-tugliggaam reeds aangewys en het hulle vergader en klaar eenparig besluit om my te stuit sonder om feite te versamel en te kontroleer.”

Rakende die kerkraadsvergadering van 19 Mei, verduidelik Sennett: “Die uitslag was 14-1 ten gunste van opskorting. Eerstens wil ek net vir u daarop wys dat ék nie hierdie saak van ‘opskorting’ stoomroller nie. Vandat ek in die gemeente gekom het, het die kerkraad en sommige gemeentelede daarop aangedring dat ons as kerkraad daaraan aandag moet gee.”

Oor die omstrede akte sê hy dit was ’n opdrag van die kerkraad. “Op die kerkraadsvergadering van 19 Mei 2025 het die kerkraad, nadat daar gestem is oor die opskorting, besluit dat ek solank ’n akte van opskorting gereed moet kry.”

Hy benadruk dat hy die akte net aan vier kommissielede gestuur het vir goedkeuring en nie in die gemeente versprei het “met die doel om verdeeldheid en skeuring in die gemeente te bring nie”.

Sennett versoek die tugliggaam om nie voort te gaan met die stuiting nie, omdat “dit in hierdie stadium meer skade en verdeeldheid in die gemeente sal bring as enige goed” en groot finansiële uitgawes sal inhou.

Hy bied aan om “ ’n oop gesprek” met die tugliggaam en die klaers te voer.

“My gewete is absoluut skoon voor die Here! Mag die wil van die Here geskied!” sluit hy af, en wys daarop dat sy vertoë ten tyde van ’n spesiale kerkraadsvergadering op 23 Junie deur “ ’n oorgrote meerderheid goedgekeur” is.

Die ring-tugliggaam het nie Sennett se versoek vir ’n oop gesprek aanvaar nie en gesê hy verontagsaam die regmatige stuiting.

“Ons merk ook dat u verontagsaming van die stuiting reeds onberekenbare skade aan persone en aan die welwese van die kerk van Christus berokken het. Nóg die Suid-Afrikaanse arbeidsreg nóg die kerkreg maak voorsiening dat ’n werknemer op eensydige wyse en uit selfoortuiging ’n stuiting/opskorting kan verontagsaam op grond van ’n hangende appèl.”

Christo Jonck, woordvoerder van die sinode Noord-Kaapland, sê by navraag hy kan nie kommentaar lewer nie omdat die proses nog aan die gang is.

Sennett het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Kommentaar

 

1 thought on “Dominee geskors oor hy gemeente van NG Kerk laat wegbreek”

  1. Ds Nico Sennett is nie geskors nie, maar het vrywillig bedank na valse stories wat deur 2 kerkraadslede versprei is. Hierdie twee kerkraadslede (wat gelukkig intussen as kerkraadslede geskors is) , Freduan Smit en Jaco Putter, het die een na die ander predikant uit NG Wes gemeente uitgedryf. Jaco Putter het intussen soos ń lafaard die gemeente verlaat terwyl Freduan voortgaan met sy leuens. Talle kerkraadslede, gemeentelede, ring van Reivilo, ring van Noord-kaap en algemene sinode is deur hul valsheid beïnvloed. Dis ń skande dat hierdie 2 mans die kerkskeuring veroorsaak het en met hul leuens vir Ds Nico Sennett, asook die predikante voor hom, die “valse predikante” gemaak het. Opregtheid en eerlikheid was daar nooit by Jaco en Freduan nie. Mens sou eerder wou dink dat hulle twee deel van die Vrymesselaars is,, hul gedrag dui daarop. Jaco, wat betrokke is by die Gideons met bybelverspreiding, lewe ń dubbel lewe. Aan die een kant straal hy die beeld van diep gelowige uit voor die Gideons (om homself te laat goed lyk) en aan die anderkant het hy as kerkraadslid sy rug op elke predikant in NG Wes gemeente gedraai, en duidelik gewys dat hy nie die waarheid van God se Woord ken of bely nie. Dieselfde kan van Freduan gesê word. Ds Nico Sennett is onskuldig, ń opregte kind van God en voorstaander van Skrifgetroue Woord verkondiging.. Hy ken die Bybel op die punte van sy vingers, het ń ontsaglike diep verhouding met die Here en is baie lief vir die Here. Hy stel ń ongelooflike mooi voorbeeld vir sy vrou, Amanda Sennett, sy familie en vriende. Ten spyte van die feit dat hy onregmatig van sy bevoegdheid ontneem is het hy intussen ń boek oor Openbaring geskryf om duidelikheid te gee aan persone wat worstel met vrae rondom Openbaring. Hy is steeds besig met talle geskrewe artikels waarin mense se vrae rakende die Woord beantwoord word. Mag God hom seën op sy pad vorentoe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui