Video: NG Kerk Vrystaat | Teologiese Opleiding 2022

Die volgende video is gespeel tydens die Vrystaat sinode 2022.

NG KERK VRYSTAAT | Teologiese Opleiding 2022

Luister wat sê Prof Francis Petersen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat oor die teologiefakulteit:

4:15 Die Universiteit van die Vrystaat, wil die studie van religie en dan spesifiek, Christelike Teologie as ’n afsonderlike fakulteit behou omdat sy daarmee erkenning wil gee aan ’n fundamentele dimensie van menswees. Die studie van teologie is ’n draer van die misterie van lewe asook baie belangrike waardes, soos byvoorbeeld die regte van elke mens, die ekologiese broosheid van die planeet en van geregtigheid en versoening in die samelewing. Die studie van teologie aan die universiteit kan bydra tot stabiliteit en florering in ’n samelewing. Teologie dien die kerk, maar ook die samelewing. Alhoewel ek self nie ’n teoloog is nie neem ek kennis van die debatte in die kerk, asook teologiese opleiding. Die veranderinge in hoër onderwys sedert 1994 het implikasies vir kerke se teologiese opleiding. Publieke universiteite moet erkenning gee aan die verskeidenheid van geloofsgemeenskappe. Daar is geen universiteit wat hieraan kan ontsnap nie, maar wanneer ’n mens dit sê wil ’n mens nie die indruk laat van ’n onsensitiwiteit vir kerke se sentimente nie. Die tipe teologie wat bedryf word moet mense laat tuis voel. Die breër blootstelling en interaksie met die kenniswêreld van ’n universiteit is baie, baie nodig. Dit vorm juis studente om in ’n samelewing wat gekenmerk word deur verskeidenheid en met talle uitdagings ’n konstruktiewe bydrae te kan lewer. Ek beveel graag ons universiteit vir die NG Kerk in die Vrystaat aan. Ons kom reeds ’n lang pad van meer as 30 jaar. Hierdie verhouding was nog altyd ’n baie mooi verhouding wat ’n mens wil koester. Die teologiefakulteit is ’n stabiele, gerespekteerde fakulteit wat kwaliteit opleiding aanbied. Die fakulteit bied ’n groot verskeidenheid akademiese programme aan wat by kerke se behoeftes aansluit. En baie belangrik: effektiewe leer is ’n baie hoë prioriteit. Verder het die fakulteit ’n puik korps van dosente wat aktief … internasionaal erkenning geniet en vir wie lewe en leer geïntegreerd is. Die atmosfeer by die teologiefakulteit is een van vriendelikheid en ondersteuning. Die samewerking tussen die fakulteit en die kerk en die kuratorium is baie konstruktief en daar ’n ver gevorder om die kerk vryheid te gee om aanvullende tradisie-spesifieke onderrig te gee. Dit sou bloot vir my ’n goeie besluit wees om studente aan die universiteit van die Vrystaat se teologiefakulteit te laat studeer.

Oor die algemeen word teologie gedefinieer as die studie oor die karakter van God en geloof. Daar is twee probleme met wat Prof Francis Petersen hierbo sê:

  1. Ek sien God hoegenaamd nie in die prentjie nie, behalwe as die natuur god is.
  2. As die tipe teologie wat bedryf word mense tuis moet laat voel, oor watter god gaan geleer word?

Die is presies die probleem wat behoudendes met die teologiese fakulteite by sekulêre instansies het: Daar is nie ’n kans dat hulle in diepte geskool gaan word in die teologie nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui