Warm gesprek oor verslag op Vrystaatse sinode

Kyk ook:

*******

Warm gesprek oor verslag op Vrystaatse sinode | Netwerk24

Marita Herselman

08 Maart 2022

’n Verslag oor selfdegeslag-verbintenisse was een van die besprekingspunte wat emosies Dinsdag op die eerste dag van die NG Kerk Vrystaat se sinodesitting in Bloemfontein hoog laat loop het.

Verskeie leraars was gekant teen die verslag van die sinodale taakspan vir aktuele en leerstellige sake (Stals), onder meer oor selfdegeslag-verbintenisse.

Sommige was van mening dat die saak te belangrik is om binne die tydsduur wat daarvoor beplan is, te bespreek en dan vir of teen die verslag te stem.

’n Kernaspek in die verslag is of die Algemene Sinode (AS) se besluit in 2019 dat gemeentes self kan kies of hulle selfdegeslag-verbintenisse wil bevestig of nie, wettig is.

Die verslag is deur ds. Pieter Prinsloo van die gemeente Kroonstad-Wes voorgehou.

Die verslag beveel aan dat die sinode besluit selfdegeslag-verbintenisse is sonde, omdat dit volgens die NG Kerk se belydenis “duidelik is dat die huwelik slegs tussen man en vrou mag wees”.

Nog ’n aanbeveling is dat die sinode moet besluit die AS het nie die kerkordelike bevoegdheid gehad om die besluit te neem nie.

Hy vra ook dat die sinode die AS versoek om ’n buitengewone sinode voor einde Oktober vanjaar byeen te roep om onder meer dié besluit terug te trek.

Ds. Gerhard Botha van die gemeente Heuwelsig het ’n ordemosie teen die verslag gebring, wat ds. Andreas van Rooyen van die Boshof-gemeente gesekondeer het.

Botha het gesê die verslag kan nie voor die sinode dien nie en daar is onduidelikheid oor diegene wat die verslag saamgestel het, wat die werkswyse was en hoe die gevolgtrekkings bereik is. Hy het dit as ’n meningstuk beskou.

Botha het later die ordemosie gewysig en voorgestel dat die verslag nie op daardie oomblik dien of verder bespreek word nie, en na Dinsdagaand se tafelbespreking verwys word. Sy voorstel is aanvaar.

Die verslag van die tydelike taakspan vir kerkverband en dolering, ook deur Prinsloo aangebied, is ook na die aand se tafelbespreking verwys.

Die taakspan stel onder meer voor dat die sinode ’n taakspan benoem om in samewerking met die moderamen in gesprek met Vrystaatse gemeentes te tree oor hul siening dat die NG Kerk Vrystaat hom van die AS losmaak, al dan nie.

Hy stel voor dat die Vrystaatse sinode voor die einde van die jaar ’n buitengewone sinodesitting byeenroep waarop die verkose taakspan verslag hieroor lewer.

Ds. Charles James van die Pellissier-gemeente het voorgestel die verslag en sy beskrywingspunte word na ’n tafelbespreking en ’n tydelike taakspan verwys om ’n duidelike voorstel vir goedkeuring aan die sinode tydens die sitting voort te lê.

James se voorstel vir die verwysing het in die sitting geslaag.

Terugvoering word Woensdag oor die tafelbesprekings gegee.

Ds. Jan Lubbe, leraar van die gemeente Berg en Dal en voorsitter van die kuratorium, is Dinsdag as nuwe moderator van die NG Kerk Vrystaat se sinode verkies.

Ds. Dawie Botes van die gemeente Welkom-Wes is die nuwe ondervoorsitter.

  • Die sitting, met 293 mense afgevaardigdes, duur Woensdag en Donderdag op die Bloemfonteinse skouterrein voort.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui