Natuurlik kan jy van mening verander (Fritz Gaum)

In die brief hieronder reageer Frits Gaum op George Claassen se Geloof: ‘Rasionele denke’ nodig (28 Januarie 2021).

*******

Natuurlik kan jy van mening verander | Netwerk24

Frits Gaum, Durbanville

Die Burger 05 Februarie 2021

George Claassen (29.01) skryf kwaai oor my ope brief in By (23.01) aan Ben du Toit na aanleiding van sy boek God: Is daar ’n ander antwoord?

Hy het 20 jaar gelede ’n selfopgelegde projek aangepak om postmoderne mense te help om met integriteit te kan glo. Vir sy destydse boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd, het Du Toit welverdiend die Andrew Murray-prys in 2001 ontvang.

Hy het daarin, soos in die heruitgawe van die boek in 2010, ’n sterk saak daarvoor uitgemaak dat postmoderne mense in God as die Skepper en Jesus Christus as die opgestane Here kan glo. My probleem met Du Toit se God: Is daar ’n ander antwoord? het ek in my ope brief geskryf, is dat hy glad nie verduidelik waarom hy byvoorbeeld oor die skepping nou anders dink as toe nie.

Dalk kan Claassen ons help: Waar, sê hy en die wetenskap, het die oerkern (en die oerknal) vandaan gekom met die potensiaal om tot ons ontsaglike, uitdyende heelal – met denkende mense op ’n uithoek daarvan – te ontwikkel?

Hoe het hierdie “iets” uit “niks” te voorskyn gekom? En lewe – toevallig? ’n Hengse, on-ge-loof-like toevalligheid moes dit gewees het!

Natuurlik kan ’n mens van mening verander, George. Só groei ’n mens. Ja, ek het oor sekere goed anders begin dink as voorheen.

Claassen verwys na apartheid. Dalk weet hy dat ek die opsteller was van die NG Kerk se “belydenis en getuienis” oor apartheid wat op die tafel van die Waarheid-en-versoeningskommissie beland het?

Oor die gay-saak en my veranderde siening daaroor, het ek boeke geskryf en verduidelik dat ek ook op grond van ’n beter verstaan van die Bybel en die evangelie (en nie ’n verwerping daarvan nie!) tot nuwe insigte gekom het (sien byvoorbeeld my Kerk oor die muur of oor die rubicon? (Naledi, 2020).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui