Die geleerde Prof en die sondige vrou

Pieter Prinsloo het die volgende brief geskryf na aanleiding van prof Peter Nagel van die teologiese fakulteit Stellenbosch, wat Jesus se Godheid bevraagteken het.

*******

BRIEF | Die geleerde Prof en die sondige vrou | Rapport

Sondag, 5 Februarie 2023

Ds. Pieter Prinsloo, Kroonstad, skryf:

Hý is ’n erkende en gewaardeerde teoloog. Sý is ’n eenvoudige, sondige vrou.

Tydens ’n teepouse by ’n teologiese konferensie vertel hy spitsvondig van sy ontmoeting met haar:

Destyds was hy besig om ’n artikel te skryf aangaande sy bevindings oor Jesus van Nasaret. Sy bevindings was logies beredeneer en goed uiteengesit: Jesus is beslis nie Theos (God) nie. As deel van sy navorsing wou hy egter dié hipotese toets. Gevolglik het hy Jesus na ’n onthaal genooi. Proffie sit nog ’n vleispasteitjie op sy bord voordat hy beskryf hoe die vrou daardie aand haar komieklike opwagting gemaak het. Hy het Jesus daardie aand beleefd ontvang, beduie hy. Hy was besig om Hom fyn dop te hou toe die vrou ongenooid opdaag.

Proffie lag lekker terwyl hy vertel dat sy toe al huilende – of Jesus haar enigste hoop is! – Jesus se voete begin soen en salf. Dit was nou vir hom duidelik dat Jesus nie was wie Hy voorgegee het om te wees nie, want as Hy selfs net ’n profeet was, sou Hy dadelik besef het dat dié ongenooide, sondige vrou net wou moeilikheid maak. Proffie sluit onder groot gelag van sy kollegas die vertelling af met ’n beskrywing van Jesus en die vrou, wat kort daarna die lááste keer Proffie se huis verlaat het . . .

Die spitsvondige Proffie bederf daarna die gemoedelike atmosfeer: “Nou ja, kollegas, terug konferensie toe om ons salarisse met swaarkry te gaan verdien.”

(Lees alles oor die belese Proffie, die Here Jesus en die slegte vrou in Lukas 7:36-50).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui