Sinode moet besluit oor opleiding van tokkelokke

Op 4 Februarie 2023 het die Gereformeerde Kerk die volgende mediaverklaring uitgereik na aanleiding van onderstaande artikel:

*******

Sinode moet besluit oor opleiding van tokkelokke | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 29 Januarie 2023

Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) se algemene sinode gaan volgende week besluit of hy in die toekoms met die Noordwes-Universiteit gaan saamwerk om sy predikante by die teologiese skool in Potchefstroom op te lei.

Die universiteit het die kerk se kuratore drie jaar gelede in kennis gestel dat hul bestaande ooreenkoms oor die opleiding van die kerk se dominees nie meer haalbaar is nie omdat die universiteit slegs sulke ooreenkomste met ander hoër onderwysinstellings mag sluit.

Die kuratorium het intussen die Gereformeerde Teologiese Akademie in Potchefstroom opgerig. Dit is gedoen omdat veranderde wetgewing veranderinge aan die ooreenkoms noodsaak “waaroor die algemene sinode sal moet besluit,” lui ’n kuratoreverslag aan kerke in Augustus 2021.

Volgens die verslag het die universiteit ses jaar gelede met die kerk ooreengekom dat hy sy eie private hoëronderwysinstelling by die departement van hoër onderwys sal registreer.

Die kuratorium het in sy kuratoreverslag in November aangedui dat hy nie twee professore as lektore “in lig van die huidige reëlings” kon aanstel nie nadat die poste vir lektore in praktiese teologie en Nuwe Testament beskikbaar geword het. Volgens die verslag word dit vir hul 12 professore by die teologiese skool “ ’n al hoe meer uitdagende taak” om studente te onderrig en te begelei, onder meer weens werklading.

Die verslag lui verder dat die getalle studente wat teologie studeer om predikante by die kerk te word, drasties afneem. In November was daar 45 studente in die ses jaargroepe, met twee studente wat verlede jaar hul studie begin het. Slegs vier studente het verlede jaar aansoek gedoen om vanjaar daar te studeer.

“Gemeentes word opgeroep om jongmans wat die potensiële gawes het, aan te moedig om vir predikante te studeer,” lui die verslag.

Vroue word nie in die Gereformeerde Kerk toegelaat om te preek nie.

Die kuratorium sê dit is “verder ’n bekommernis dat proponente ná beroepbaarstelling in sommige gevalle wag vir ’n beroep, selfs so lank as twee jaar – wat dikwels ernstige nood veroorsaak”. “Kerke wat die studente gestuur het vir opleiding behoort groter verantwoordelikheid vir hulle te aanvaar.” Die kuratorium stel voor dat die studente in die bediening aangewend word terwyl hulle wag vir ’n beroep.

Die afgetrede prof. Flip Buys, stigterslid van die Mukhanyo Teologiese Kollege in Kwa­Mhlanga as deel van die Teologiese Skool Potchefstroom, sê die Gereformeerde Kerk kan nie meer sy eie oortuigings by die teologiese skool handhaaf nie wat afhanklik is van staatsubsidies. “Die druk van die staat is dat teologiese fakulteite ’n soort van algemene godsdienswetenskap aanbied wat heeltemal postmodern is,” het hy in ’n video gesê. Volgens hom het teologiese fakulteite “so los geraak van kerke dat daar ’n totale gebrek is aan indiensopleiding”.

Dr. Gerard Meijer, voorsitter van die kuratore, sê die algemene sinode moet besluit oor die nuwe ooreenkoms wat tussen die Gereformeerde Teologie Akademie en die Noordwes-Universiteit aangegaan is. Hy wou nie sê wat die ooreenkoms behels nie.

Oor die drastiese daling in studentegetalle het hy gesê “die Here het sedert die totstandkoming van die Teologiese Skool in 1869 studente, dosente en middele voorsien om met Gereformeerde teologiese opleiding voort te gaan. Ons vertrou dat Hy die werk van sy hande nie sal laat vaar nie. In daardie geloofsvertroue beplan en werk ons vorentoe.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui