Kruisverhoor: ‘Met respek, as hulle net selibaat wil leef . . .’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Kruisverhoor: ‘Met respek, as hulle net selibaat wil leef . . .’ | Rapport

Hanlie Retief

Sondag, 19 November 2023

Die NG Kerk in Namibië beskou hulself as buite­standers en oorweeg nou afstigting, sê ds. Johannes Maritz.

Julle wil afstig van die NG Kerk omdat “hartgrondige bekering” oor selfdegeslagverhoudings nie by die afgelope sinodevergadering gebeur het nie? Ons moderamen het op 7 November besluit om ons verhouding met die algemene sinode (AS) te her­definieer. Die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings deur die algemene sinode is beslis een van die kwessies. Ons konteks, bedieningsomstandighede en behoeftes is totaal anders as die Kerk in Suid-Afrika.

Hoe so? Ons beleef die verskille duidelik by algemene sinodevergaderings. Wat ons daar hoor en sien van al die werksaamhede is goed, maar ons voel soos buitestanders wat sit en luister na die Kerk in Suid-Afrika se huishoudelike kwessies. Dis nie regtig ons sake nie. Ons roeping en bediening lyk anders.

Wat is jul roeping? Ons het ’n hele paar Boesmangemeentes waar ongelooflike bediening en groei plaasvind. So ook onder die Ovahimbas. Ons is lankal nie net meer ’n wit Afrikaanssprekende kerk nie. Ons moet namens hierdie lidmate ook praat. Baie van hulle is nuwe gelowiges en is daagliks in ’n oorlewingstryd. Vanuit hul konteks is baie dinge op die agenda van die algemene sinode irrelevant. Die Kerk in Suid-Afrika kan ons nie baie hiermee help nie. Ons moet saam met ander Namibiese kerke ons roeping uitleef.

Gaan dit nie maar eintlik oor jul ontevredenheid oor selfdegeslagbesluite en teologiese opleiding nie? Ons het reeds in 2016 ’n sterk getuienis gelewer oor selfdegeslagverhoudings. Dit is nou uitgebrei met klem op wat die Bybel sê oor selibaatskap. Ons kry nêrens ’n positiewe stem uit die Bybel jeens homoseksuele praktyke nie. Ons sien ál meer dat mense, hul sienings en belewenisse belangriker geag word as die Woord van die Here. Ons wil met die grootste re­spek en deernis met almal omgaan, ook met mense met ’n homoseksuele oriëntasie. As hulle in toewyding aan die Here selibaat leef, het hulle toegang tot die ampte en bediening net soos mense wat worstel met ander sondige neigings, maar uit eerbied vir God hulself verloën en gehoorsaam aan God leef.

Die AS se 2019-besluit maak dan juis ruimte vir meningsverskille oor selfdegeslagverbintenisse en gee kerkrade/sinodes die keuse? Die 2019-besluit is teenstrydig. Dit sê baie duidelik dat die Woord net ’n huwelik tussen man en vrou erken en dat alle seksuele verhoudings daar buite teen die wil van God is. Maar net daarna word ruimte gemaak vir selfdegeslagverbintenisse.

Hoeveel van jul 44 gemeentes se lidmate wil wegbreek? Dit sal die proses in gesprek met gemeentes in die volgende jaar en vier maande uitwys.

Word julle meegesleur deur die Koinonia-groep met sy 56 (volgens hulle) uit die NGK se 1 000 gemeentes? Beslis nie. Die NGK in Namibië het reeds in 2016 ’n besluit daaroor geneem.

Hoeveel gemeentes in Suid-Afrika het aangedui dat hulle by julle wil aansluit? Ons hoor sulke geluide, maar dis nie amptelik nie. Daardie kerkregtelike proses moet nog eers uitgeklaar word.

Julle is boonop ongelukkig oor die NG Kerk se teologiese opleiding? Ja, maar omdat ons reeds lankal kapsie daarteen maak, het daar intussen skuiwe plaasgevind, soos die kerk-eie baan, waaroor ons baie dankbaar is.

Wanneer besluit julle oor afstigting? Die taakspan lê in Februarie ’n vorderingsverslag aan die moderamen voor, die gemeentes oorweeg dit dan tot November en teen Maart 2025 kom die finale besluit.

• Ds.Johannes Maritz is moderator van die Namibiese sinode.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui