Kruisverhoor: ‘Die probleem? Nee, ons is béste lidmate’

Kyk ook:

Kyk ook kommentaar tussen die teks.

*******

Kruisverhoor: ‘Die probleem? Nee, ons is béste lidmate’ | Netwerk24

Hanlie Retief

Rapport, 08 Oktober 2023

Die algemene sinode het die NG Kerk geskeur, sê  dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia Sinode en Kairos Netwerk.

1. Wat gaan julle doen as die 2019-besluit oor selfdegeslaghuwelike by die sinodesitting bly staan?

Skeuring is nie vir ons ’n opsie nie, ons moet die sout, lig en suurdeeg wees. Daar is toenemende onrustigheid hieroor in die kerk.

[Kommentaar: Steeds word daar gesê dat skeuring nie ‘n opsie is nie. ‘n Mens sal maar sien wat behoudendes gaan doen na die sinode wanneer die besluit oor selfdegeslagverhoudings baie hoogs waarskynlik nie omgedraai gaan word nie.]

2. As daar soveel onrustigheid is, hoekom het julle nie groter steun nie?

Die meerderheid lidmate het simpatie met ons standpunt.

[Kommentaar: Mag wees, maar as die meerderheid nie kant kies vir behoudendes nie, dan help dit niks nie.]

3. Volgens die 2019-hofbevel moet die kerk selfdegeslaghuwelike aanvaar. Alle gemeentes, dus.

’n Christen se gewete word in die eerste plek bepaal deur die Skrif, nie wetgewing nie. Ons voel nog altyd alle mense is welkom. Ons sê nie een sonde is groter as ’n ander nie.

[Kommentaar: Hanlie verwys na Adv Jeremy Gauntlett se regsopinie.]

4. Jy mag dus gay wees, maar net nie met iemand van dieselfde geslag trou nie?

As daardie persone oor sekere sake worstel, moet daar individueel ’n pastorale pad met hulle geloop word.

5. En as hulle nie worstel nie of klaar geworstel het, en dan wil trou?

’n Christen verstaan die huwelik volgens die Bybelse definisie: tussen een man en een vrou.

[Kommentaar: Jy kan nooit klaar worstel met sonde nie. As ‘n getroude man verlief raak op ‘n ander vrou, kan hy nooit ophou worstel daarmee nie. Hy kan nie by ‘n punt kom wat hy nou maar moet aanvaar dat hy sy vrou gaan los vir die ander vrou nie.]

6. Hoekom moedig julle streeksinodes aan om hulself volgens art. 37 van die Kerkorde aan die algemene sinode (AS) te onttrek?

Die rakleeftyd van die AS is verby. Gemeentes het weinig verteenwoordiging by die AS, terwyl die besluite wat daar geneem word, in stryd is met duidelike Skrifuitsprake.

[Kommentaar: Kyk Dit help nie om die Algemene Sinode te blameer nie.]

7. Hoekom volg julle nie die gewone kerklike kanaal en opper jul besware by die streeksinodes nie?

Ons doen dit. Drie streeksinodes het in ’n stadium ’n openlike geskil met die AS verklaar.

8. Van die tien streeksinodes is dit net Namibië (45 gemeentes) waar anti-gay-standpunte moontlik meerderheidsteun het.

Ek kan nie namens hulle praat nie, maar dit is dalk so. Die gesprek is egter nie oor gay en normale huwelike nie, dit gaan oor Skrifgesag.

9. Wat wel, volgens julle, bepaal dat gay mense nie met mekaar mag trou nie?

Ja.

10. Die Kairos Netwerk betrek 56 van meer as 1 000 gemeentes. Is julle nie maar net ’n klein minderheid wat ’n groot lawaai maak nie?

Ons is definitief klein, maar in die kerk tel ons nooit koppe nie. Wat die Skrif sê, is eerder vir ons kosbaar.

11. Is julle nie maar net randfigure wat moet aanbeweeg nie?

Dit kan nooit die vraag wees nie.

Baie mense bly saam, is geskei, maar dit beteken nie dat die Skrifbeginsel ontken word oor wat die huwelik is nie.

[Kommentaar: Ek is bevrees dat Koinonia Sinode wel daaraan moet begin dink om aan te beweeg.]

12. Vind julle nie groter ooreenkomste met die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) nie?

Die aanloop om die APK het ’n ander trajek geloop. Ons is volledig NGK.

13. Julle oorweeg die APK se kweekskool, hoekom nie maar na hulle toe oorloop nie?

Die inbrekers wat die NGK-huis kom kaap het, sal die ander roete moet loop.

[Kommentaar: Dit is tyd dat KS afsien van hierdie argument. Kyk Wettige eienaars van die NG Kerk?.]

Ons het geen ooreenkoms met die APK of die Geformeerde akademie nie.

14. Is hierdie nie maar in elk geval ’n vorm van kerkskeuring nie?

Die AS het die kerk geskeur. Dis maklik om te sê ons is die moeilikheidmakers; eintlik is ons die beste lidmate volgens die beloftes wat ons afgelê het.

[Kommentaar: Die AS (Algemene Sinode) is effektiewelik die NG Kerk.]

15. Of skeur julle nie, want julle wil nie die kerkgeboue en inkomste verloor nie?

Dis regtig nie ’n argument wat kan steek hou nie.

[Kommentaar: Ek wonder…]

16. Is die onderlinge gestry in die NGK nie ’n veel groter rede vir die kwynende lidmaatgetalle as die ‘onrustigheid’ onder behoudendes oor selfdegeslaghuwelike nie?

Ons antwoord eerder met ’n seënwens.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui