Koinonia Sinode: 62 gemeentes registreer vir eerste saamtrek

*******

Koinonia Sinode: 62 gemeentes registreer vir eerste saamtrek – Kerkbode

05 Mei 2023

“Behoudendes” binne die NG Kerk het op 3 en 4 Mei naby Johannesburg saamgekom vir die eerste ontmoeting van Koinonia Sinode. Dié geleentheid is “organisatories asook finansieël geborg en gesteun deur Kairos Netwerk,” volgens kairosnetwerk.net. Kerkbode het aan dr Anton Knoetze (AK), ’n woordvoerder, gevra:

Kerkbode (KB): Koinonia Sinode is nie ’n wegbreek van die NG Kerk nie en dit vervang ook nie enige van die tien steeksinodes nie, volgens ’n inligtingstuk. Dit bied wel ’n “geestelike tuiste” vir lidmate wat ’n bepaalde manier van Skrifuitleg volg. Hoe sou jy daardie benadering tot die Bybel beskryf?

AK: Skrifgetrou volgens die gereformeerde hermeneutiek soos onder andere in ons gereformeerde belydenisskrifte weerspieël word.

[Kommentaar: ‘n Mens moet ook rekening hou met die opdragte in die Bybel wat sê dat jy die stof van jou voete moet afskud en jou ook moet onttrek van dwaalleraars…]

KB: Wat is die raakpunte met nie-dolerende gemeentes wat julle koester?

AK: Daar is heelwat Skrifgetroue gemeentes wat verkies het om nie amptelik te doleer nie. Hulle is almal welkom om deel te word van die Koinonia Sinode se kerkverband vir behoudende Skrifgetroue gemeentes. Die raakpunte is ons gemeenskaplike gereformeerde uitleg van die Skrif en ons verwerping van die ruim-huis van die Algemene Sinode wat ruimte maak vir allerlei dwalinge.

KB: Julle het onlangs julle eerste vergadering gehad. Hoeveel gemeentes is verteenwoordig by julle sitting en hoe sou jy die karakter van die saamkoms beskryf?

AK: Die presiese getal kan ek later weer in die notule kontroleer, maar ons weet dat minstens 62 gemeentes vooraf geregistreer het om die sinode by te woon. Tydens konstituering was daar reeds 56 gemeente wat hulle geloofsbriewe saamgebring het. Elkeen van hierdie gemeentes het tussen twee en vier afgevaardigdes gestuur. Enkele gemeentes het later die dag by die vergadering aangesluit. (Lees die agenda. – Red).

KB: Hoeveel gemeentes was daar wat nie doleer nie?

AK: Ons maak geen onderskeid tussen behoudende gemeentes wat doleer en wat nie, daarom kan ons nie die vraag antwoord nie.

KB: Dink jy daar is iets in die gesprek rondom Skrifgebruik in die NG Kerk wat oorvereenvoudig word?

AK: Ja, die liberale teoloë wat met ’n ongelowige geslote horisontale wêreldbeeld al die bonatuurlike verskynsels in die Woord simplisties verwerp asof dit maar net oorblyfsels is van ’n primitiewe wêreldbeeld. Daaorm erken hulle nie die onfeilbaarheid en gesag van die Bybel nie, en plaas die sondige mense se gebrekkige insigte bo die Woord as onfeilbare Goddelike openbaring.

KB: Is daar ’n punt waarop jy voel Kairos Netwerk en die Koinonia Sinode word misverstaan?

AK: Ja, vir seker. Die meeste mense wat eerlik lees en luister wat ons skryf en sê, verstaan baie goed wat Kairos Netwerk (KN) en Koinonia Sinode (KS) se doel en eerbare motiewe is. Ongelukkig is daar baie wat bedreig voel deur die sukses van KN en KS dat hulle geen moeite doen om ons regtig beter te verstaan nie. Ons word beskuldig as kerkskeurders terwyl die teendeel waar is. Ons beskik oor baie getuies wat openlik sê, was dit nie vir Kairos Netwerk nie, dan het hulle lankal uit die NG Kerk bedank. Kairos en KS wil nie die kerk verlaat of skeur nie. Ons is baie jare al “inwoners” van die NG Kerk waarin die Here ons ryklik geseën het. Ons het al herhaaldelik gesê: As iemand moet loop dan is dit die inbrekers, nie die inwoners nie. Ons wil nie skeur nie, ons wil reformeer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui