Jy kan nie Bybelse huwelik verruim

Kyk ook:

Jy kan nie Bybelse huwelik verruim | Netwerk24

Deur Dawie de Wet, Strand

15 Januarie 2021

Jan-Jan Joubert (06.01) lewer ’n roerende pleidooi dat diegene wat die NG Kerk oor die erkenning van gay-huwelike wil skeur, die liefde van Jesus voorop moet stel.

Joubert bou sy argument op die beskouing dat liefdesdiens die horisontale taak van die kerk is. Hierteenoor bely die kerk dat elke mens in sonde gebore word en slegs uit genade, slegs op grond van Christus se versoeningsoffer en slegs in geloof in Jesus gered word.

Die kerk se opdrag is dus om aan elkeen te verkondig dat Jesus Christus aan die kruis ook vir jou sonde betaal het. En dié wat wel hierdie boodskap glo en aanvaar, te lei om hierdie boodskap deur leer en lewe verder te dra.

Die lidmate se lewe moet dus getuig van dankbaarheid vir verlossing in Christus – ook deur liefdesdiens aan hulpbehoewendes. Liefdesdiens is dus die gevolg van die kerk se Bybelse boodskap, nie die wese daarvan soos Joubert dit beskou nie.

Joubert se foutiewe kerkbegrip kom uit die wêreldbeeld van ons tyd. Hiervolgens wil die Bybelse boodskap van verlossing uit sonde nie meer gehoor word nie – dis mos beledigend en liefdeloos om aan iemand te sê hy/sy is ’n verlore sondaar.

Maar is dit regtig liefdeloos om saam met iemand ’n pad te loop van sondebesef, belydenis, vergifnis en ’n nuwe lewe? Getuig dit van liefde om iemand te laat dink sy/haar lewe is reg, terwyl dit Bybels uitloop op die dood?

In 1982 het 123 beswaardes die kerk se ondersteuning van apartheid veroordeel omdat dit (on-Bybels!) op die onversoenbaarheid van mense gegrond is. Ons is uitgekryt as liberaliste en volksverraaiers. Die kerk het teruggekeer na die Bybelse versoeningsboodskap, al het erg ontevredenes die APK gestig.

Net soos dit onmoontlik is om apartheid Bybels te regverdig, is dit onmoontlik om die Bybelse huwelik tussen een man en een vrou te “verruim”. Omdat ek by die kerk se belydenis bly dat die Bybel die hoogste gesag het, noem Joubert my ’n liefdelose, eng, wettiese skeurmaker.

Daardie skoen pas my net so min as die destydse een van liberale volksverraaier. Die skeurmakers in die kerk is diegene wat nie by die Woord (en die belydenis!) van die kerk bly nie, maar dit omvorm om in hul populistiese wêreldvisie te pas. Die beswaardes destyds was eerlik genoeg om te loop.

Joubert verwys spreekwoordelik na die veld wat seerkry as die olifante baklei. Die ironie is, dié wat die seerste kry, is mense wat in selfdegeslagverhoudings was, die Evangelieboodskap geglo en besef het dit is ’n verkeerde leefstyl.

Nou lewe hulle vir die Here en wil getuig van hul verlossing, maar hulle word beledig, gemarginaliseer en tot swye gedwing. Die veld kry seer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui