Nee, ‘liefde is liefde is liefde’ is nie Evangelie

*******

Nee, ‘liefde is liefde is liefde’ is nie Evangelie | Rapport

Theo Danzfuss

Rapport, 4 Junie 2023

Bybelse liefde het soms ’n hamer nodig om harte van die ewige dood te red, skryf Theo Danzfuss.

Ek verwys na die artikel van Neels Jackson oor die Kairos Netwerk (KN) en Koinonia-sinode (KS) op 14 Mei en sy brief verlede week op hierdie blaaie.

Enige ambagsman sal weet as jy ’n hamer verkeerd gebruik, dit kan loskom en die slaner self noodlottig tref. Ongelukkig vir Jackson is dit presies wat hier gebeur. In sy artikel “ ’n Hamer maak nooit heel nie” beskuldig hy die KN en KS sonder enige rede van ’n wettiese, liefdelose evangelie wat mense met ’n hamer wil slaan in plaas daarvan om hulle met liefde te hanteer.

Hy vergeet natuurlik dat Bybelse liefde soms wel ’n hamer nodig het om onbekeerde harte van die ewige dood te red.

Jer. 23:29 lui: “My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”

Dat Neels deurentyd met ’n on-Bybelse liefdesbegrip werk, is duidelik ook in sy liefdelose kritiek van die KN en KS. Met dieselfde skerp woorde hamer hy teen die gerespekteerde opvoedkundige dr. Etienne Liversage se skitterende weergawe van sy persoonlike navorsing in die NG Kerk die afgelope paar jaar.

Anders as Neels praat KN en KS van die agape-liefde. Dit is liefde in waarheid en gehoorsaamheid aan God se gebooie soos Jesus ons leer in Johannes 14:15 – “As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou” – en Johannes 15:10 – “As julle my gebooie onderhou, sal julle in my liefde bly . . .”

Vir Neels is dit egter ’n wettiese godsdiens as mense geroep word tot gehoorsaamheid aan die Here se gebooie. Hy werk met ’n ander soort liefde, die reënboogliefde; die “liefde is liefde is liefde” waar jy in die naam van liefde die Here se gebooie kan oortree. Solank jy dit net nie “losbandig” doen nie, mag jy dit maar “in liefde en trou” doen.

Nee, die liefdesgebod in die Bybel kan slegs verstaan word binne konteks van die Evangelie van die Koninkryk van God wat Jesus verkondig het (Matteus 4:17), en beslis nie binne die sekulêre humanistiese konteks van “liefde is liefde is liefde” nie.

Behalwe van liefdeloosheid word Kairos en Koinonia ook beskuldig dat ons met ’n “verskraalde evangelie” werk. Tog boemerang dit ook veelvoudig.

In die Heidelbergse Kategismus word die verlossingsleer behandel met die bekende skema van sonde, verlossing en dankbaarheid. Dit is ook KN en KS se belydenis.

Neels verskraal dit egter tot sy eie nuwe skema van “sonde, skuldbelydenis en verlossing”.

Die derde deel oor ons dankbaarheid waarin die wet en die gebed behandel word, laat hy heeltemal uit. Is dit regtig uit onkunde of dalk doelbewus?

Of dit nie genoeg is nie verskraal hy die Evangelie nog verder wanneer hy sê dat in meer as 3 000 teksverse van die Bybel daar slegs sewe is wat “oppervlakkig lyk of dit oor gay-seks gaan”. Hy swyg oor die feit dat niemand al ooit een enkele teks kon noem ter ondersteuning van gay-seks en gay-huwelike nie! Van Genesis tot Openbaring getuig die Skrif sonder uitsondering van die huwelik as ’n intieme verhouding tussen man en vrou, nooit tussen persone van dieselfde geslag nie.

Dit geld ook wanneer die huwelik herhaaldelik dien as metafoor van die heilige verhouding tussen die Here en Sy Kerk. Die teksverse wat getuig dat seks bedoel was vir die huwelik tussen man en vrou en nie vir dieselfde geslag nie, is dus nie net sewe nie, maar dalk nader aan 700!

Boonop vra iemand wat Jesus as sy Here en Koning bely nie dat Hy eers 700x of selfs 7x moet praat voordat ek luister nie. Nee, slegs een teks sou al genoeg wees om te luister. Volkome in pas met die vrysinnige teologie beskou Neels die eis van gehoorsaamheid as “wettiese godsdiens” waarin “die Bybel grootliks as ’n reëlboek gelees word”. Dit is onverskoonbaar.

Die Bybel leer ons dat die Tien Gebooie so belangrik is dat God dit met sy eie vinger geskrywe het (Deut. 9:10). In Matteus 5:19 waarsku Jesus: “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.”

As ons oproep tot liefdevolle gehoorsaamheid dan vir hom ’n “wettiese godsdiens” is, dan is dit verstaanbaar waarom hy deel drie van die Heidelbergse Kategismus wat handel oor ons dankbaarheid deur die wet en die gebed weglaat. Om sy strooipop van KN en KS nog verder af te skiet, gryp hy aan die einde weer terug na uitgediende debatte oor sake soos apartheid en die vrou in die amp. Dit herinner aan die Engelse predikant wat vir homself rooiletter-notas by sy preke gemaak het. As sy argument oor sekere stellings swak is, dan skryf hy: “Shout like hell, argument weak.” Neels was nie self by die Koinonia-sinode nie, anders sou hy geweet het van die vier afgevaardigdes van die Boesman-gemeente wat volledig deel van die sinode was. Hy sou dan ook geweet het dat KS se eerste (verkose!) skriba ’n vrou in die amp van leraar is.

Sy was ook die eerste vrou wat verkies is as moderator van ’n NG Kerk-sinode. Miskien sou hy dan versigtiger wees met sulke stereotipe-beskuldigings.

Aan die einde van sy kritiek teen Liversage se navorsing tokkel sy hamertjie nog ’n laaste hou na KN. Hy sê die “Kairossers” moet nie verwag dat die kerk hul argumente ernstig gaan opneem nie. Duidelik verraai dit ook sy gebrek aan ’n suiwer kerkbegrip. Wie is dan nou die kerk? Dit lyk of hy homself plus die algemene sinode sien as die kerk, en KS as die bedelaar wat buite moet staan en wag om te kyk of hulle ons dalk ernstig gaan opneem?

Elke belydende lidmaat wat gekatkiseer het, behoort te weet dat elke plaaslike gemeente volledig kerk is. Die ring en sinode en algemene sinode is nie kerk nie. Ook nie die “moderator” of die media nie.

Daar is meer as 100 selfstan­dige NG kerke wat amptelik doleer en nog talle wat hulle amptelik gedistansieer het van die algemene sinode se onbybelse besluite. Hulle het nie die algemene sinode se goedkeuring nodig om kerk te word nie. Die KS het by sy eerste vergadering al gekonstitueer met 56 selfstandige NG kerke.

Net soos die algemene sinode ’n vergadering van kerke is, so is die Koinonia-sinode ook ’n vergadering van selfstandige kerke. Hulle het niemand se toestemming nodig om kerk van Christus te wees nie.

Nee, kom ons gooi ons eie hamertjies weg en bly volgende keer liewers by die hamer van God se liefde waarmee Hy onbekeerde harte van die ewige dood red.

Jer. 23:29: “My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”

  • Ds. Theo Danzfuss is ’n voormalige aktuarius van die Hoëveld-sinode.

1 thought on “Nee, ‘liefde is liefde is liefde’ is nie Evangelie”

  1. Die probleem is dat mense die bybel-teks kan maak se wat hulle wil he dit moet se. Die skrif is egter ook duidelik dat daar ‘n verskil is tussen wat uit die Vlees gebore word en wat uit die Gees gebore word. Die Vlees is oorspronklik deur God geskape, maar alles is nou reproduksies wat onder die vloek, onder sonder plaasgevind het. So daar gaan noodsaklik onwaarhede opkom en oor tyd gaan daardie onwaarheid ook groei. Dus is dit noodsaklik om uit die Gees gebore te wees en daaruit te leef. Dis vir my verbysterend dat talle Christene dit nie kan of wil sien nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui