Ek kies steeds die kerk (Neels Jackson)

Kyk ook:

Ten spyte daarvan dat Neels Jackson nie saam met die “fundamentaliste” om dieselfde vuur sit nie, kan ons darem hieroor saamstem. Kyk ook Sakkie Spangenberg se reaksie op hierdie artikel in Waarheen gaan Jesus terugkeer?.

***************

Ek kies steeds die kerk

2011-05-25 21:50

Neels Jackson

Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie.

En tog is daar steeds elke Sondag honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk. Waarom doen hulle dit?

As een van daardie mense sou ek vyf hoofredes wou aanvoer waarom ek steeds in die kerk bly.

Die eerste is: Ek glo in God. Vir my is Jesus Christus die Here.

My indruk is dat baie van die kerk se kritici nie (meer) glo nie, al sê hulle dit nie reguit nie. En as jy nie glo nie, dan het die kerk seker nie veel sin nie. Daar is natuurlik ook mense wat seergekry het in die tradisionele kerke en daarom dié kerke verlaat het, al hou hulle nog aan hul geloof vas.

Ek het begrip vir hulle en wat my betref, het hulle die kerk nie regtig verlaat nie. Die “een, heilige, algemene Christelike kerk” van die geloofsbelydenis is immers nie ten eerste ’n struktuur of ’n denominasie nie.

Dit is die gemeenskap van die gelowiges.

Diegene wat gelowiges buite die tradisionele kerklike strukture wil wees, vestig eintlik alternatiewe maniere van kerkwees. Dis myns insiens ’n opwindende tendens en daar is dikwels goeie wisselwerking tussen hulle en die tradisionele kerke. Ons leer by mekaar.

Ek is persoonlik egter tevrede in ’n tradisionele kerk, deels om my tweede rede: Ek het nie te hoë verwagtinge van die kerk nie. Ek het vroeg in my Sondagskooljare al geleer dat die kerk vol mense met foute is. Omdat ek nie volmaaktheid van die kerk verwag nie, ontnugter die kerk se foute my nie.

Maar daar is ook die ander kant van die munt, en dit is my derde rede: Daar gebeur soveel goeie goed in die kerk. Ons familie het dit die afgelope dae aan ons lywe gevoel ná die skielike dood van my nefie. Soveel mense in ons gemeentes het ons met liefde en warmte omvou. Soveel mense in ons kerke troos en gee om.

Maar die goeie goed wat in kerke gebeur, gaan baie verder as dit.

Ek sien al hoe meer voorbeelde van hoe mense die liefde van God waaroor gepreek word in dade uitleef teenoor mense wat dit nodig het.

Ek dink aan aksies wat nood en armoede verlig, aan mense wat verslaafdes regtig help as daar niemand anders vir hulle is nie, aan kerkmense wat doelbewus uitreik na ouens wat hul werk verloor het, na vroue wat verniel word, na kinders wat koers in die lewe soek.

Ek dink aan mense wat werk vir versoening en geregtigheid.

Ek is veral opgewonde oor hoe hierdie visie van die evangelie onder jongmense leef. Ek het al vir ’n student gesê hul geslag verstaan iets van die evangelie waarvan ek op daardie ouderdom geen idee gehad het nie.

Daarmee is ek by my vierde rede. In die woorde van Rick Warren: Dit gaan nie oor my nie.

Die kerk is nie daar as ’n soort geestelike supermark of vermaaklikheidsplek om my te plesier of aan my behoeftes te voldoen nie. Dit is nie daar om my kultuur, politiek of magsbelange in die samelewing te bevorder of te beskerm nie.

Daarom is my persoonlike grille of giere nie ’n maatstaf vir my lidmaatskap of betrokkenheid by die kerk nie.

Daar is ’n groter saak wat gedien moet word in die kerk, en daarom bly ek daar.

Laastens: Dit gaan ook nie oor die kerk nie.

Dit gaan oor God en sy boodskap van liefde en redding op soveel vlakke.

En omdat Hy mense liefhet en hulle wil red, gaan dit ook oor mense en oor die aankweek van ’n lewenstyl van liefde tenoor mekaar.

Uiteindelik is die kerk ’n versameling mense wat juis dit probeer doen. Ons kry dit nie altyd reg nie, maar ons kan aanhou probeer.

Dis omdat ek hierdie visie deel dat ek een van die baie mense is wat steeds in die kerk bly.

*****************

Saam met Jackson kies ek steeds die kerk, want dit gaan om God

deur Johannes Froneman, Potchefstroom, skryf:

2011-05-26 21:45

Johannes Froneman, Potchefstroom, skryf:

Neels Jackson se rubriek onder die opskrif “Ek kies steeds die kerk” (Beeld, 26 Mei) is ’n welkome afwisseling van briewe en artikels waarin die kerk en die Christelike geloof bygekom word.

Jackson merk op dat dit lyk of baie kritici eintlik nie meer glo nie. Ek wil dit sterker stel: Talle kritici is oneerlik en ry op die kerk en die Christelike geloof se rug terwyl hulle eintlik geen erg meer daaraan het nie.

Van hulle sit nog (soms) in die kerk en behou hul lidmaatskap, maar het nie die moed om die daad by die woord te sit en te loop nie.

Ander noem hulself weer Nuwe Hervormers, of wat ook al, wat eintlik belaglik is, want hulle wil g’n hervorm nie. Hulle wil fundamenteel in ’n ander rigting loop.

Jackson se motivering waarom hy in die kerk bly, is trefseker: dit sê nie daar is geen foute in die kerk nie; wel sien hy ook die goeie raak. Hy besef ook dat waar mense betrokke is, daar altyd leemtes is.

Foute is egter geen rede om pad te gee of die kerk aan strawwe (soms liefdelose) kritiek te onderwerp nie.

Saam met Jackson kies ek steeds die kerk, by name die NG Kerk, want dit gaan inderdaad nie om my of die kerk nie, maar om God.

Maar so ’n keuse veronderstel geloof. En dit is wat baie kritici nie meer het nie. Is hulle eerlik genoeg om dit te erken?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui