NG Kerk bestaan skisofrenies weens dié denke oor evolusie

 

NG Kerk bestaan skisofrenies weens dié denke oor evolusie

deur Dr. Abel Pienaar

2010-07-27 23:16

http://www.beeld.com/MyBeeld/Briewe/NG-Kerk-bestaan-skisofrenies-weens-die-denke-oor-evolusie-20100727

Soms vergeet ek dat baie mense die werklikheid van ons bestaan anders sien as ek.

’n Goeie voorbeeld hiervan is Neels Jackson se berig “Herrie oor NG moderator se evolusie-mening”, waarin prof. Piet Strauss onder meer gesê het hy glo in die Bybelse skeppingsleer met God-Drie-enig as Skepper van die hemel en aarde en dat sy voorouers nie ape was nie.

Dit is regtig besig om godsdienstige waarheid meer en meer irrelevant te maak.

Ons werklikheid kan mos nie meer vanuit die Bybelse wêreldbeskouing gesien word nie.

Elke vooruitgang op wetenskaplike en tegnologiese terrein brei ons verstaan van ons wêreld en onsself meer en meer uit.

So moet ons verstaan dat God tog ook aanpas en uitbrei.

Die eenvoudige waarheid is dat ons meer weet, en daarom mag ons anders dink en praat oor hoe dinge ontstaan en voortbestaan.

En evolusie is tog duidelik!

Dit is dieselfde mense soos prof. Strauss wat met gemak die tegnologie wat saam met die wetenskap se vooruitgang kom, kan gebruik en verstaan.

Die einste mense wat met gemak oor die evolusie van ekonomie, politiek, mediese wetenskappe en landbou kan praat, maar wat vasval sodra dit by godsdienstige waarhede kom, dan word eeue terug se denke en verstaan onveranderd geglo en in stand gehou.

Dit is volgens my niks anders as ’n skisofreniese bestaan nie.

Maar om die een of ander rede kan die kerk (in dié geval die NG Kerk) nie die denkskuiwe maak nie.

En in die proses maak hulle die goddelike kleiner en nie groter nie.

Hulle reduseer God totdat “hulle” verstaan. ’n Verstaan wat weer gebou is op eeue terug se interpretasie van die werklikheid.

Dit is vir my baie duidelik dat die oorsteek van ’n grens beteken nie die vernietiging nie, maar die verskuiwing daarvan.

En in hierdie verskuiwing word dit duideliker dat die goddelike ’n dinamiese krag is in die groot netwerk van lewe.

Om nog vas te hou aan ’n Teïstiese godsbeeld bring die kerk in die situasie waar hy nou is.

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui