Daarom is ek nie meer deel van die tradisionele kerk nie!

Daarom is ek nie meer deel van die tradisionele kerk nie!

Donderdag 2 Jun 2011, 11:30

(http://blogs.litnet.co.za/abelpienaar/daarom-is-ek-nie-meer-deel-van-die-tradisionele-kerk-nie)

Een van die lekkerste lekker is wanneer ek ’n oop oggend het. Want dit beteken ek kan rustig opstaan, ’n warm koppie koffie maak en in my Hulk pajamas en Winnie the Poo slippers, in die sonnetjie op my stoep gaan sit. Wat dit nog meer spesiaal maak is as ek ’n koerant het om te lees.

So lees ek toe nou die oggend dat een van Beeld se joernaliste, iemand wat ek goed ken, ’n artikel geskryf het waarin hy verduidelik hoekom hy ’n christen is en ’n gereelde kerkganger bly. Hy skrywe: “Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie. En tog is daar steeds elke Sondag honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk … as een van daardie mense sou ek vyf hoofredes wou aanvoer waarom ek steeds in die kerk bly. Die eerste is: Ek glo in God. Vir my is Jesus Christus die Here…”

Hy gaan dan voort om te verduidelik dat die kerk, alhoewel nie volmaak en sonder foute nie, wonderlike dinge doen en die grootste agent vir geregtigheid en versoening vir God in die samelewing is. Hy sluit af met: “…dis omdat ek hierdie visie deel dat ek een van die baie mense is wat steeds in die kerk bly.”

Hierdie joernalis skryf duidelik vanuit die christelike ortodokse geloofstradisie, ’n tradisie waarmee ek ook grootgeword het. Sy geloofs-aannames wat hy onkrities gebruik om sy standpunt te regverdig berus o.a. op:

  • Die Bybel is die geopenbaarde woord van God
  • Die wese van (die drie-enige) God word betroubaar in die Belydenisskrifte uitgedruk en gee ’n akkurate opsomming van die Bybel, en
  • Die (Protestants-Calvinistiese) Christelike geloof is die enigste ware godsdiens.

Want hoekom anders sal hy sy christelike godsdiens uitlig bo enige ander godsdiens. Nêrens skryf hy dat mense van ander gelowe of selfs dié wat glad nie meer glo nie, dieselfde omgee, sorg, boodskap van liefde, geregtigheid en versoening beleef nie. Hy skryf slegs vanuit sy geloofsoortuiging. Polariseer sulke eensydige opinies nie die samelewing nog verder nie? En is joernaliste nie veronderstel om objektief te skryf nie, of ten minste te probeer nie?

Wat van al die eerlike, soekende en opregte mense wat nie meer veilig voel binne die kerk nie? Wat van baie mense wat stil-stil godsdiens vaarwel toegeroep het, maar nog steeds hulle spiritualiteit beoefen? Wat van die baie vrydenkers wat reeds meeste van die christelike kerk se belydenisse afgesterf het maar nog steeds op die kerkbanke sit, ter wille van hulle eggenote, familie en vriende se onthalwe?

Daarom is daar kritiek. Daarom is daar kritiese vrae.

Want ongelukkig het die kerk ook ’n lang lys van misdade en ongeregtighede op sy kerfstok. Deur die eeue is mense mishandel, getreiter, vervolg, onderdruk en vermoor as hulle nie met die kerk sou saamstem nie. Dink maar net aan die geval van Calvyn wat Servetus op die brandstapel laat verbrand het omdat hy oor die pre-eksistensie met hom verskil het.

Vroue, homoseksuele en anderskleuriges is behandel as minderwaardige, sondige en verlore mense. Ek dink Anne Lamott het die spyker op die kop geslaan toe sy gesê het: “You can safely assume that you’ve created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do.”

Die ironie is net dat die kerkbanke vol sit van mense wat bely dat God is ’n God van liefde en dat dit hulle hoofdoel op aarde is. Is dit nie juis wat die Bybel sê hoe christene geken sal word nie, deur hulle dade van liefde, sorg aan armes, weduwees, wese, siekes en gevangenes. Of verstaan ek dit verkeerd?

Hiermee saam is die kerk vandag een van die grootste promotors van “geen kritiese self denke.” Kyk maar net hoe kerke mense met hul leerstellings gevange hou in die antieke wêreld met sy idee van ’n drieverdieping heelal. Kerke verkondig byvoorbeeld nog steeds dat Jesus uniek is en deel van die Drie-eenheid. Hiermee word glad nie die Joodsheid van Jesus in ag geneem nie.

Kom ek verduidelik wat ek hiermee bedoel. Jesus was ’n Joodse Rabbi (sien die Jakobus-brief) wat ná sy kruisdood veral geïnterpreteer is in die lig van die Griekse heldepatroon. Wat was hierdie heldepatroon? Dit was ’n mitologiese patroon wat probeer verklaar hoe werk die wêreld van die gode werk. Opsommend het dit as volg verloop:

Binne die drieverdieping-kosmos sou God ingryp om mense te red deur sy genetiese saad in ’n aardse maagd te plant (soos bv. Zeus aan Semele) wat dan ’n half mens, half God (held) in die wêreld bring (soos bv. Dionisus), wat dan wonderwerke doen, sterf, afdaal na die doderyk (bv. Odusseus), na drie dae opstaan en dan opvaar na die hemel toe (bv. Herakles). Partykeer verskyn hierdie half mens, half God ook aan mense en ontstaan daar ’n kultus aanbidding rondom hom. Van Mithras is byvoorbeeld geglo dat hy sal terugkom om sy vyande te oordeel en te straf en sy getroue volgelinge te kom haal. Ek hoef seker nie die parallelle met Jesus uit te wys nie, dit is tog ooglopend.

Die vraag is nou net, hoekom weet die gemiddelde kerkganger dit nie? Die antwoord is eintlik eenvoudig. Omdat die dogmas van die kerk wat die “honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk” hou, soos die joernalis dit stel, vir hulle self sal begin dink as die evangelie van sondeval-verlossing hulle nie meer in vrees gevange hou nie. As die hel nie meer as straf voorgehou kan word nie, hoeveel van die “honderdduisende” kerkgangers sal nog gaan, wonder ek maar net?

Daarom sal die kerk sy lidmate nie-denkende hou! En Sondag na Sondag sal mense geïndoktrineer word om geloof hoër te ag as selfstandige denke en ’n ondersoekende gees. Thomas Jefferson (Amerikaanse President) stel dit treffend: “Question with boldness even the existence of a God; because, if there be one, he must more approve of the homage of reason, than that of blind-folded fear.”

Dit gaan essensieel in die kerk oor mag. As mense in vrees vir die oordeel van God leef en die kerk is die enigste plek waar verlossing gevind kan word, is daar ’n duidelik ongesonde afhanklikheid geskep, nie waar nie?

Dit lei tot die paradigma van beheer en beveel. Ek onthou hoe ek die geknoei en gekonkel binne die kerklike vergaderings beleef het. Hoe sogenaamde “geestelike” besluitnemingsprosesse gemanipuleer was sodat sekere mense bevoordeel word en ander nie, hoedat skinderveldtogte teen mense gevoer word, en hoedat finansiële bestuur ondeursigtig bedryf word.

Miskien is dit nie regverdig van my om die kerk uit te sonder nie. Want selfs in die joernalis se artikel erken hy dat die kerk maar net ’n menslike instelling is: “Ek is persoonlik egter tevrede in ’n tradisionele kerk, deels om my tweede rede: Ek het nie te hoë verwagtinge van die kerk nie. Ek het vroeg in my Sondagskooljare al geleer dat die kerk vol mense met foute is. Omdat ek nie volmaaktheid van die kerk verwag nie, ontnugter die kerk se foute my nie.”

Dit is mos wat die kerk is. ’n Menslike instelling. Kyk maar net hoe kerke deur die eeue hulself geskaar het aan die kant van die tyd se heersende politieke mag. En dit is aan die kant van die onderdrukkers. Dis waarom sommige kerke skielik met ander belydenisse vorendag kom. Die drie ekumeniese belydenisse van die kerke verkondig tog immers nie ’n God wat aan die kant van die onderdruktes staan nie maar aan die kant van die oorwinnaars.

Miskien daarom het ek my soeke na sin buite die grense van die kerk gaan soek…

Ek het nodig om met my verstand aangeskakel te leef. Ek wil op verbeeldingryke wyse my spiritualiteit ontwikkel en beleef — op maniere wat in lyn is met my post-moderne insigte en waarnemings. Ek wil die waardes van liefde, eerlikheid en geregtigheid, wat reeds binne my is, uitleef. Ek wil verantwoordelikheid neem vir my tyd hier op aarde. Ek wil eerlik en sonder skuldgevoelens kan lag, huil en lewe. Ek wil in eietydse taal wonder en praat oor God en sin.

Ek wil eerder besig wees met die vraag hóé ’n mens moet lééf, as rondom die vraag wat die korrekte leerstelling of belydenis is. Kahlil Gibran se woorde word nou my enigste belydenis: “Your daily life is your temple and your religion. Whenever you enter into it, take with you your all.”

Wel daarom kan ek nie meer deel wees van die tradisionele kerk nie.

1 thought on “Daarom is ek nie meer deel van die tradisionele kerk nie!”

  1. Ek leef die Waarheid van die Woord van YHWH ons Elohim deur Sy Seun Yeshua die Messiah.
    Die kerk word die beste in Opb 17 beskryf, die moeder (RK) van die hoere en wie anders is hierdie hoere anders dan die kerk, alles wat kerk is.
    Persoonlik glo ek dat die misleiding plaasvind omdat daar woorde gebruik word wat geen verduideliking, of sal ek eerder se nie beskryf word wat die betekenis is nie en net gepraat word, soos iemand sonder verstand wil en emosie:
    LIEFDE
    Al wat jy moet doen jy moet die kerk se Jesus lief he! Regtig, ja want genade gaan jou red.
    Liefde is: Gehoorsaamheid aan die Woord van YHWH ons Elohim! Gebruik nou die beskruiwing in 1Kor 13 in die plek van “liefde” en sien hoe verander die hoofstuk.

    NAAM
    Naam het geen waarde nie, want daar is geen beskrywing nie, maar verander NAAM na Karakter en Outoriteit dan kry jy ‘n verantwoordelikheid en hier kan ons kyk en vergelyk:
    Elohim se Karakter en Outoriteit (Naam) is: YHWH – Ewig Onveranderlik Dieselfde. Skryf nou die in jou verstand, wil en emosie en kyk nog steeds of jy Sy Shabbatte en Feeste kan verander, of jy nog steeds mense regte kan gehoorsaam bo Sy Woord, soos vroue regte, homoseksuele regte, kinder regte, rein en onrein regte?
    Hoe lyk die karakter en outoriteit van die Jesus Christus van die kerk teenoor die van Yeshua die Messiah se Karakter en Outoriteit met in agname dat jy nie aan YHWH ons Elohim mag verander nie:
    Jesus het ‘n geboorte datum, 25 Des saam met afgode soos Zeus, Nimrod, Saturnalia en ander. Yeshua die Messiah, het nie ‘n geboorte datum nie, maar uit te werk was dit gedurende Sukkot Shabbat tydperk, die 7de maand op YHWH ons Elohim se Kalender.
    Jesus van wette weg en nie sonde nie, want as daar nie ‘n wet is nie, dan is dit nie ‘n sonde nie soos die Shabbatte en Feeste. Yeshua die Messiah is gehoorsaam aan al die Wette en Profete (Joh 14:31) en het geen Wet, of Profesie kom wegvat nie (Mat 5:17-20)
    Jesus word op Goeie Vrydag vermoor, die begin van die Fees van vrugbaarheid en staan op, op die Paassondag, twee nagte en een dag en word gevier met eet van paashase (aanteel soos hase en paaseiers). Yeshua die Messiah sterf op die Pesach, die veertiende dag van die eerste maand, dag voor die Spesiale Shabbat van Ongesuurde brode: Pesach wat met sononder begin, ‘n Dinsdag aand en dan fokus op drie nagte en drie dae in die graf wat dan uitwerk op die sononder van die sewende dag, die begin van die eerste dag.
    Hoekom is jy mislei deur die kerk, want die kerk is die satan se koninkryk (Luk 4:5-8)
    HART
    ‘n Hart is ‘n bondel spiere, vleeslik; satan se speelgrond en word daar so maklik verwys na volg jou hart en nie nie jou verstand nie, maar verander hart na: Verstand, wil en emosie, onmidelik bring jy geestelik in, want daar is niks tasbaar tussen die Gees wat Afgesonder is en jou eie gees nie. Daarom kan Yeshua die Messiah nie in jou hart wees nie, maar is in jou verstand, wil en emosie.
    GELOOF
    Geloof het net mooi geen betekenis nie, want self die bose geeste glo, want sien hulle die Karakter en Outoriteit van YHWH ons Elohim in jou, dan sidder hulle net soos wat hulle gesideer het toe Yeshua die Messiah hulle uit Legio in die grafplaas in die varke ingedryf het. Dus, terwyl jy met jou mooi vleeslike hartjie werk en “see no evil hear no evil” in die kerk en Christendom baljaar satan en sy tjommies lekker in jou. Vervang geloof met VERTROUE dan kry jy ‘n nuwe uitkyk op die lewe, want jy kan nie se jy vertrou terwyl jy kan doen op dit waarin jy vertrou nie, dan mislei jy jouself, jy lieg vir jouself, want hoekan jy dan beweer jy vertrou in Yeshua die Messiah terwyl jy bankvas in jou kerk sit op ‘n Sondag, of Goeie Vrydag en Paassondag, Pinkster, Kersfees en Nuwe jaar, want nerens staan dit opgeteken in die Woord van YHWH ons Elohim. Maar nou ja, jy is mos ‘n Jesus kindjie en nie ‘n vertroueling van Yeshua die Messiah wat die Shabbatte en Feeste volledig nagekom van Sy Vader soos opgeteken is in Lev 23.
    Dan kom ek bey die laaste wat ek vir nou deurdink, seinde ons nou Liefde en geloof gedoen het en bly hoop oor.
    HOOP
    Hoop het ook geen waarde nie, behalwe wanneer jou hoop gefokus is en wanneer hoop gefokus is, is dit: VERSEKERDE VERWAGTING. Hier word jou gedagtes onmiddelik veander wanneer jy praat van versekerde verwagting, want nou word jou ingesteldheid gebaseer op alleenlik die beloftes wat YHWH ons Elohim vir jou gee en as ek so vinnig dink gebruik ek Mat 6:33 Soek eers die Koninkryk van YHWH ons Elohim en Sy onpartydige opregtheid en al hierdie dinge sal vir jou bygegee word. Wonderlik, maar wat is die dinge wat vir jou begegee gaan word en dit is nie die kerk se gemakstoel: Bid en vir jou geggee word nie. Wat vir jou bygegee sal word is die versorging van YHWH ons Elohim sodat jy ‘n werktuig kan wees in Sy Koninkryk op aarde tot Sy lof, eer en aanbidding en glo my’n nuwe kar is beslis nie een daarvan nie, dit is soos daar geskryf is in die verse vooraf tot Mat 6:33 – kos en klere. Omdat jy nie ‘n verskerde verwagting het op dit alleen wat in die Woord van YHWH ons Elohim, sy beloftes het nie gebeur jou hoop nooit, want jou hoop is wat op jou hart le, die vleeslike.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui