Die NG Kerk in verwarring

Skrywer onbekend

In baie gemeentes van die NG Kerk waarin ’n mens groot geword, gedoop, belydenis afgelê en getrou het en gedien het en wat ons lief het, voel ’n mens deesdae vreemd. Die vraag is hoekom is dit so en wat is die rede daarvoor?

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) noem in artikel 29 dat ’n gemeente wat deel is van ’n ware kerk, aan drie vereistes moet voldoen, naamlik:

  1. Die suiwere prediking van die evangelie.
  2. Die suiwere bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het.
  3. Die gebruik van die kerklike tug om die sondes te straf.

Met die drie vereistes beteken dit dat alle gemeentes daarmee in ooreenstemmigheid moet wees. Maar die volgende word in van die gemeentes van die NG Kerk ervaar.

OOR DIE BYBEL WAARUIT DIE SUIWER PREDIKING MOET KOM

  • Die Bybel word nie meer as die geïnspireerde Woord van God aanvaar nie. Nou word daar gepraat dat die skrywers van die Bybel net nagedink het oor God.
    Dit beteken dus dit is nie meer die Woord van God nie, maar woorde oor God. Geen woorde van die Bybel kan dus as komende van God vertrou word nie. Dit vernietig die gesag van God en die Bybel, soos in die Hervorming duidelik bevestig word. Hierdie siening vernietig alles wat die Evangelie van Christus verkondig – sonde, verlossing en nuwe lewe van dankbaarheid. (Sien NGB art. 5 – 7 en Heidelbergse Kategismus.)
  • Sommige beskou dat Genesis 1 tot 3 net mites is. Ander gaan verder en sê dat Genesis 1 tot 11 alles mites is. Dit is dus nie die waarheid nie. God het nie alles geskep nie. Dit alles het deur evolusie ontstaan.
    Dit beteken dus dat daar is geen stamvader Adam wat die sonde ingebring en straf deur die wet gebring het nie. Dat Gen 3:15, die moederbelofte, dus ook ’n mite is. Dan is daar nie sprake van ’n tweede Adam nie, wat die verlossing en versoening met God verwerf het. (Rom 5:12vv.) Dit beteken verder daar was dus ook geen sondeval nie en daar is geen sprake van erfsonde nie. Hierdeur word ’n streep deur die hele Evangelie van Christus getrek.
    [Maar inderdaad pas die hele Genesis verhaal as betroubare geskiedenis en waarheid by die wetenskaplike waarnemings, baie beter as evolusie waarvan bitter min betroubaar wetenskaplik bewys kan word uit genetika, geologie, paleantologie, kosmologie, etiese en morele leer, fossiele rekord, ens. (Kyk www.creation.com vir deskundige behandeling met bewyse deur praktiserende wetenskaplikes. Daar is ook ander webwerwe waarna hulle verwys.)]
  • Die Vloed en verhaal van Noag word ook redelik algemeen ontken en word as mites beskou. Dit beteken dus dat die miskenning van die duidelike Bybelse verhaal, stambome en die bewyse daaroor ook in die geologiese rekord, beteken dus dat die stambome, Jesus, Hebreërs en Petrus se verwysings na ’n historiese figuur Noag, almal ongeloofwaardig, onbetroubaar en foutief is.
  • Die verhaal van Jona word ook as mite beskou.
    Dit beteken dus dat Jesus se verwysings na ’n histories egte figuur Jona ook foutief was.
    [Hy verwys in Mat 12:40 en 41, na Nineve en Jona op die oordeelsdag,]
  • ‘n Leraar verkondig in die gemeente se maandblad dat hy nie van sy gemeentelede kan verwag om in die maagdelike geboorte te glo nie. Ander sê dat Maria is deur ’n Romeinse soldaat swanger gemaak is. Die soldaat se naam was glo Panthera.
    Dit beteken dus Jesus is ’n buite-egtelike kind en nie die Seun van God nie – net ’n gewone mens wat geen verlossing kan bewerk nie.
  • Die wonderwerke van Jesus word ook bevraagteken. Vir die postmoderniste is slegs dit waar wat wetenskaplik bewys kan word.
    Dit beteken dus dat Jesus nie die Seun van God is nie wat nie wonderwerke of bonatuurlike werke kon verrrig nie. Kan ons die verhale in die Bybel glo?
    [Jesus het getuig dat alle mag in hemel en aarde aan Hom gegee is. Die Bybel getuig in Joh 1 en Kolossense dat niks wat bestaan, anders as deur Hom geskep nie. Hy bewys Sy almag sistematies in al Sy tipes wonderwerke soos in die Evangelies vermeld. Die Here Jesus het self deur sekere wonderwerke getoon dat alle mag inderdaad aan Hom gegee is: Hy het materie vermeerder (brood en visse), swaartekrag en verwante wette oorwin (loop op die stormagtige see), Sy mag oor materie en natuurkragte (stop eensklaps met een woord die wind en ’n uiterste storm), Sy mag oor menslike lewe (wek dooies op, genees alle vorme van siektes), Sy eie mag oor die dood (deur Sy opstanding, hemelvaart en oorwinning oor satan).](Joh 10:17)
  • Oor die opstanding van Jesus is daar diegene wat meen dat hy nie fisies opgestaan het nie. Hulle verklaar dat die opstanding sogenaamd metafories (sinnebeeldig) was.
    Dit beteken dus dat as daar geen fisiese opstanding was nie, ons nog verlore skepsels is.
  • Een predikant het gesê Jesus het nie alles geweet nie. Jesus het gesê dat die mostertsaad die kleinste van alle sade is. Vandag weet ons dat daar kleiner sade as die mostersaad is. So Jesus het dus nie alles geweet nie.
    Dit beteken dus Jesus het nie die waarheid gepraat nie. Kan enige van Sy woorde dan aanvaar word?
    [Maar nou, het Jesus nie gepraat van dit wat die mense geken het nie?]
  • Die Algemene Sinode het besluit dat die duiwel die maaksel van ons gedagtes is. Daar bestaan nie so ’n persoon nie. Jy kan aanvaar of daar so ’n persoon is of nie.
    Dit beteken dus dat die Bybel nie korrek is as dit sê dat die duiwel Adam en Eva en Jesus versoek het nie.
  • ‘n Dosent aan een van die teologiese fakuteite het in die klas gesê dat God en Allah een en dieselfde god is. ’n Ander persoon het dit herhaaldelik as die “Christen teoloog” op die program op RSG beaam.
    Dit beteken dus dat God verskillende maatstawwe het tot verlossing – die een deur geloof en die ander deur werke. Watter verlossingpad is dan die regte een?
  • Ook is daar predikante wat beweer dat Jesus nie die enigste weg tot die saligheid is nie.
    Dit beteken dus dat die Bybel nie waar is nie as dit sê dat daar net een Middelaar tussen God en die mens is, naamlik Jesus Christus.
    [Ook word daardeur te kenne gegee dat die verlossing deur Christus nie uitsluitend en die enigste is nie, direk teenoor wat die Bybel telkens onomwonde verkondig.]
  • Daar is ook predikante wat voorstanders is van universalisme, dit is dat alle mense gered sal word.
    Dit beteken dus dat dit nie nodig is om te glo in ’n Saligmaker nie en daar hoef dus nie meer oor sonde gepreek te word nie.
  • Een leraar het onlangs by ’n gemeente genoem dat die wetenskap bo die Bybel staan. Ons weet baie meer as die skrywers van die Bybel.
    Dit beteken dus dat God se werke ondergeskik is aan die wetenskap en God dus in sy werke beperk is. God is dus klein en nie Almagtig nie.
  • Die Algemene Sinode 2015 het besluit dat waar daar liefde en trou is by paartjies wat saambly, dit in orde is.
    Dit beteken dus dat die seksuele nie net vir die huwelik bedoel is soos dit duidelik uit die Bybel blyk nie.
    [Die maatstaf van liefde en trou wettig dus ook pediasterie en bestialiteit, waar dit geld? Daar is mense wat hul troeteldiere liewer het as selfs vir medemense. En bestialiteit bestaan vandag nog. Soek “bestiality” op internet.] (Ps 25:10)
  • Die Algemene Sinode van 2015 het besluit dat waar daar ook liefde en trou tussen persone van dieselfde geslag is, hulle ’n wettige verbintenis mag aangaan en selfs die ampte in die kerk mag beklee. Daar word probeer om met allerhande akrobatiese pogings so ’n verbintenis te regverdig.
    Dit beteken dus dat die Bybel se uitsprake oor homoseksuele aktiwiteite verwerp word. Wat is dus waar in die Bybel?

OOR DIE BELYDENISSKRIFTE WAT SAAM LOOP MET DIE SUIWER VERKONDIGING

  • Ons aanvaar die Drie Formuliere van Eenheid, te wete Die Heidelbergse Kategismes, Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenisomdat dit in ooreenstemming is met die Bybel. Dit word die quia standpunt genoem. Die ander standpunt is die quatenus standpunt, dit wil sê in soverre dit met die Bybel ooreenstem. Nou is daar al gevra ons moet oorgaan na die quatenus standpunt.
    Dit beteken dus dat die belydenisskrifte nie die Bybel korrek vertolk nie. Dus is die Belydenisskrifte nie meer so belangrik nie.
  • Die bogenoemde verskillende benaderings oor die Bybel sal ’n invloed op die belydenisskrifte hê.
    Dit beteken dus dat, wat in die Belydeniskrifte staan, nie meer waar is nie.
  • Die Algemene Sinode het besluit dat die Apostolicum (die Twaalf Artikels) in ’n eietydse interpretasie oorgesit moet word/geherinterpreteer word.
    Dit beteken dus dat as gevolg van bogenoemde sieninge oor die Bybel, sekere elemente uitgelaat sal word.
    [Dit terwyl die Apostolicum reeds baie eeue reeds bestaan.]
  • Daar word gesê dat die kerk ’n huis is met baie kamers (waar daar ruimte is vir verskillende standpunte) en jy hoef nie in alle kamers in te gaan nie.
    Dit beteken dus dat die eenheid kan lei tot verdeeldheid in die kerk as elkeen kan glo en aanvaar wat hy of sy wil aanvaar. (Ef. 4:13-14)
    [Dit slaan terug op die boek Rigters toe almal geglo dit wat in eie oë reg is.]

OOR KERKREGERING WAT MOET TOESIG HOU OOR DIE SUIWER PREDIKING EN DIE TUG

  • Daar word ook weggedoen met kerkrade. Die gemeente word “regeer” deur ’n bestuursraad wat uit ’n paar “kerkraadslede” bestaan.
    Dit beteken dus dat daar nie meer ’n kerkraad is wat moet toesig hou oor die gemeente en die prediking nie. Die gemeente is dus nou ’n korporatiewe gemeente wat geskoei is op die wêreldse korporatiewe bestuurbeginsels. Dit is ’n verbreking van NGB art. 30 en 31.
    [Daarenteen het Paulus oor en oor opdrag gegee dat ouderlinge in die verskillende gemeentes aangestel moet word. In sy eerste brief aan Timoteus skryf hy voor wat die pligte van ouderlinge en diakens is. Hoe kan die kerk dit net ignoreer?]
  • ‘n Jong predikant het gesê dat die kerkraad net ’n belemmering is met die werk in die gemeente. Daarmee moet weggedoen word.
    Dit beteken dus dat hy geen toesig wil hê nie en dus kan maak wat hy wil. Wat reg is in eie oë (Rigters) Die kontrak (beroepsbrief) wat die gemeente met hom aangegaan het, beteken dus niks. Het hy ooit gedink wie het hom beroep? Dit is ook ’n verbreking van NGB art. 30 en 31.
    [In baie gemeentes is die beroepingsmetode vervang deur gewone wêreldse vakature, aansoeke en keuringsmetodes.]
    Dit beteken dus verder datin bogenoemde twee gevalle dat, die predikant kan preek wat hy wil sonder dat daar ’n kerkraad is wat hom kan teregwys as hy van die leer afgewyk het. Van kerklike leertug is daar dus geen sprake meer nie.
  • Volgens die kerkorde moet elke jaar kerkraad gekies word, die helfte al om die ander jaar. Dit word nie orals gedoen nie.
    Dit beteken dus dat kerkraadslede onbeperk kan aanbly en dat daar ’n duidelike afwyking van die kerkorde is.
    [Kerkraadslede wat aanbly, word later meningvormers wat hul eie stempel afdruk]

OOK ANDER SAKE

  • ‘n Vaste of goeie liturgiese orde word nie meer orals gehandhaaf nie. Elke diens het ’n ander orde. Die Wet word byna nie meer gelees nie. Die Twaalf Artikels word ook nie met groot ywer gedoen nie.
    Dit beteken dus ’n verskraling van die erediens.
  • Daar is ook ’n vervlakking van die liedere. Van die ander liedere wat gebruik word, is woorde sonder Bybelse diepte. Ook die musiek is nie van ’n hoë gehalte nie.
    Dit beteken dus ’n vervlakking van die sang van die erediens.
  • Die populêre liedjies wat gesing word, is net sogenaamde lofprysings. Andere liedere soos liedere van verootmoediging, lering en vermaning word nie gesing nie.
    Dit beteken dus dat met die sing van die sogenaamde lofprysings-liedere alleen, daar vergeet word dat ons, ons as sondaar voor God ook moet verootmoedig.Psalms word baie selde of nooit meer gesing nie.
  • By baie gemeentes word daar ook nie met die liturgie by die kerkjaar gehou nie. Daar is geen Adventstyd en geen Lydenstyd met sang en prediking nie.
    Dit beteken dus dat dit ’n verskraling is van die volheid van die Woord.
    [Die geseënde Pinksterdienste is vervang met populistiese reekse, wat dikwels niks met die fokus op die Heilige Gees in die lewens van gelowiges, of herdenking van Sy uitstorting te doen het nie.]

Uit alles hierbo, is dit duidelik dat daar nie meer eenstemmigheid en dissipline van vertolking van die vereistes van die WARE KERK is nie.

Deur al hierdie bostaande dwaalleer en hul Skrif uitlegmetodes ontsê sommige leraars en teoloë hulleself die reg om Christen genoem te word. Hoe is dit moontlik dat sodanige dwaalleraars ongesteurd met hul dwaalleer in hul fakulteite, leiersposisies in die NGK strukture en gemeentes daarmee kan voortgaan en selfs kerklik literêre toekennings vir hul ongeloofswerke kry? Dis net moontlik wanneer die Kerkrade, Ringe en Sinodes met hulle saamstem, of nie meer omgee oor die ware leer van die Bybel soos in die drie belydenisskrifte en Apostoliese Geloofsbelydenis vertolk nie. Die besluite en proses rondom die homoseksuele besluite, illustreer hierdie punte baie duidelik. Erfsonde en Skrifgesag word totaal afgeskryf deur die pro-homoseksuele besluite en gekookte debatvoering.

By die aflê van sy eed van sy legitimasie as lidmaat, kerkraadslid, doopouer, leraar en teoloog vir opleiding van leraars stel die persoon sy leer en lewe ondergeskik aan die genoemde dokumente. Hy sweer voor God en die gemeente dat hy dit glo as ware vertolking en belowe om daarvolgens die Evangelie te verkondig. As hy homself nie by sy eed hou en deur die kerk daarby gehou word nie, val die kerk uitmekaar, soos tans wêreldwyd en in die NGK, omdat God dit dan oorgee aan sy ongeloof en dwaalleer – soos Hyself illustreer in Rom 1 :18-32 en elders ook. God laat Hom nie bespot nie. Die onderliggende probleem is dat God se openbaring deur Sy Gees in die Skrif, van alle gesag ontneem word. In die proses word die Skrif as onbetroubaar en woord van mense oor God beskou.

Met al die genoemde sake is die vraag: Wat is die waarheid? En nou die vraag: Wat moet ek glo? Ons bly maar by dit wat ons van kleinsaf in die kerk geleer het en waarvan ons seker is.

(2 Tim 3:14-17)

Dank die Here dat daar tog nog gemeentes is wat die WARE KERK is en waar ons nog waarlik tuis voel (soms ook buite die NGK).

———-ooooo———-

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui