Broers én susters praat op Wes-Kaapse sinodesitting

*******

Broers én susters praat op Wes-Kaapse sinodesitting | Netwerk24

Wynand Beukes

17 Mei 2023

Stil, broers, daar gaan ’n sinode verby . . .

Die wysiging na dié bekende gedig van Jan F.E. Celliers kan dalk van toepassing wees op die pas afgelope sinodesitting van die NG Kerk Wes-Kaapland.

Of dalk nie.

Stil was dit wel wat beriggewing daaroor in die pers betref. Sover ek weet, is nie ’n enkele woord daaroor vermeld nie. In die verlede was dit ’n totaal ander storie.

Dit was vanjaar my tweede bywoning van ’n sinodesitting. Dié keer as ’n gemeente-afgevaardigde. Die vorige slag was ’n dag of twee jare gelede in die Sinodesaal in Kaapstad, maar toe as ’n verslaggewer van Die Burger.

In daardie jare was dit nie stil wat die pers betref nie. Elke woord oor onder meer die rasse-beleid is deeglik in die koerante ontleed, soos byvoorbeeld die besluit oor apartheid in die 1980’s. Voorblad­berigte met talle foto’s wat afgevaardigdes, netjies in ’n baadjie met ’n das daarby, uitbeeld. Ek kan nie onthou dat ek ooit vroue op dié foto’s gesien het nie.

Gansbaai tot Port Nolloth

Meer as 600 afgevaardigdes van die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap het verlede week van Maandag tot Vrydag by die ATKV se Goudini-oord saamgetrek.

Predikante en ouderlinge van die platteland het vertel hoe dit in hul gemeentes gaan. Plekke soos Uniondale. Gansbaai. Vanwyksdorp. Port Nolloth.

Van die gemeentes sukkel. Die lidmaatgetalle neem af. Gemeentes smelt saam. In een streek bedien ’n dominee nou ’n gebied wat voorheen uit drie volwaardige gemeentes bestaan het. Die pandemie, droogtes en swakker ekonomie het hul tol geëis.

’n Staande toejuiging

Maar dan hoor jy ook van die pragtige stories om gemeentes te laat voortleef. Koshuiskinders wat oor naweke betrek word, jong boere wat by braaigeleenthede bymekaarkom. Predikante kan ook nou hul gemeentestories op die kerk se webblad deel. Dít gaan ’n skatkis van vertellings wees.

Die dasse en baadjies van my eerste sinodesitting het nou plek gemaak vir gemaklike kleredrag. En nou is daar talle vroue-afgevaardigdes – én hulle speel ’n rol in al die bedrywighede van die sinode.

So van vroue gepraat. Ds. Charlotte Sibanyoni is die eerste swart vrou wat in die NG Kerk gelegitimeer is. Sy het haar inspirerende lewensverhaal met die afgevaardigdes op die sinode gedeel en is staande toegejuig.

Sy het in kinderhuise grootgeword en is later deur ’n NG dominee aangeneem. Sy is tans by die Universiteit van Pretoria besig met haar doktorsgraad in Hebreeus.

Oorlog en Belhar-belydenis

Die buitewêreld het nie vir die sinodegangers ongemerk verbygegaan nie. Mosies is aangeneem oor die Oekraïense oorlog en die Pale­stynse geweld. Suid-Afrika se beweerde wapenverskaffing aan Rusland is ook voor stok gekry.

In al die gesprekke oor kerksake is verdraagsaamheid beklemtoon. Naby die oord se warmwaterswembaddens het niemand op die oog af warm onder die kraag geword nie. Selfs toe die koue onweerswolke bo die pragtige Worcesterse berge begin opsteek het, het dit ook nie gelyk of die besprekings enigeen koud gelaat het nie.

Die vorige sitting van die sinode is gehou voor die pandemie uitgebreek het. Gemeentes is erg daardeur getref, maar oral is dit beaam dat dit die kerk ook meer doelgerig gemaak het.

En, o ja, die Belydenis van Belhar is weer eens deeglik bespreek en ’n mosie daaroor is aanvaar. En die betekenis van die woord “doleer” is ook te berde gebring.

Die sinode van 2023 het inderdaad ’n deeglike weg gebaan vir die kerk op pad in die volgende paar jaar.

Die broers én die susters was nie stil nie – hulle hét gepraat.

• Dr. Beukes het die sinodesitting van die Wes-Kaapse NG Kerk bygewoon as kerkraadslid van Monte Vista.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui